Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jesus sou die sinode uitdaag

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Jat du Toit van Noordbrug skryf:

Rhoda Kadalie se artikel “Jesus sou die sinode uitdaag” in Beeld van 25 November verwys. Inderdaad, Jesus sou die sinode uitdaag, maar dalk nie soos ons as mense daaroor dink nie.

Jesus hét gekom om aan die wet sy volle betekenis (soos God dit bedoel het en nie soos ons dit interpreteer, dikwels vir ons eie voordeel en gerief nie) te gee. Jesus stel in vele opsigte amper hoër standaarde as wat die wet en profete stel.

Die Handves van Regte (‘n goed bedoelde dokument) fokus op die regte van die individu, terwyl Jesus fokus op die regte van God en ons verantwoordelikhede. Wat is dan die vertrekpunt wat Christene behoort te hê oor kwessies, in besonder dan nou selfdegeslaghuwelike?

  1. Die Drie-Enige God is heilig, soewerein en regverdig. Dit is Hy, nie ons nie, wat besluit wat sy wil is en dus wat in ooreenstemming daarmee is. Hy is ewig en onveranderlik en verander nie sy standpunt oor wat reg en verkeerd is nie. Hy is ook barmhartig, genadig en liefde en omarm die wat met ‘n opregte besef van hulle gebrokenheid na Hom toe kom en hulle afhanklikheid van Hom erken.
  2. Die ganse Heilige Skrif is deur God geïnspireer en is gesaghebbend, betroubaar en kragtig. Wanneer ons die Bybel dissekteer en versnipper om ons te pas, hou God sy Woord in stand (Es 36).
  3. Dit gaan oor God en nie oor ons nie. Ons moet dus die vraag vra of dit in ons debatte gaan oor die eer en Naam van God, en of dit oor onsself gaan.

God roep ons op om mekaar te ondersteun in die uitdagings van die lewe. Wanneer God iemand ‘n las opgelê het (Klaagliedere 3), moet ons as mede-gelowiges so ‘n persoon nie uitstoot en verwerp nie, maar onderskraag met die liefde van Christus.

Die Bybel verklaar duidelik dat homoseksuele gedrag nie God se goedkeuring wegdra nie. Dit is egter Christene se plig om mense met ‘n homoseksuele oriëntasie in liefde te ondersteun terwyl ons nie homoseksuele dade kan goedkeur nie. Dit geld ook vir baie ander aspekte van ons menslike verhoudinge en gedrag.

Dit is belangrik om oor die sake in die konteks van Romeine 11:33-36 na te dink en te peins.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top