Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Martin Heyns van Stilbaai skryf:
Ek kon nie help om te wonder of Neels Jackson met die volgende: “Die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode het hard en duidelik nee gesê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag”, sensasioneel wou wees om die baie sogenaamde ongelukkige lidmate te paai nie. Onthou die NG Kerk krimp van dag tot dag en die fondse natuurlik ook! Of kom die opdrag van die redakteur? Of dalk van die Afrikaner Bond? Ek wonder maar net!
Ek kon my vereenselwig met die besluite van die sinode wat Gustaf Claassen aan predikante gestuur het. Maar dat die besluite hard en duidelik nee oorkom, verstom my. Ek haal aan:
3. Die Algemene Sinode bely
3.1 dat ons altyd soekend moet bly na die waarheid van die Evangelie tussen veelvuldige stemme en in ’n stukkende wêreld. (In die konteks vir seker dan oor die onderhawige saak ook?)
3.2 dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet hierdie soeke in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.
Ek vra Neels: Klink dit hard en duidelik? Of is dit eerder: ons bly voortdurend saam onder leiding van Woord en Gees soekende? Tensy daar ’n verskil tussen “bely” en “besluite” van die sinodale vergadering voor God is.
4. Die Algemene Sinode besluit:
4.8 … dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag- burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.
Ek vra Neels weer: Is dit hard en duidelik? Of is dit oop en versigtig omdat niemand presies weet nie. God is baie, baie, baie groter as wat ons presies weet (3.1 en 3.2 hierbo).
‘n Algemene vraag aan Kerkbode: Hoekom die voorsitter van die moderamen inroep om vir ons die besluite in 2016 te verduidelik/interpreteer? Gee dit nou meer gewig aan die storie?
Die volledige besluit van die Buitengewone Algemene Sinode 2016 kan hier gelees word: Só het die sinode besluit.
