Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dié boek help ’n mens nie oral om die Bybel reg te lees

Hoe om die Bybel reg te lees
Deur Stephan Joubert saam met Roedolf Botha, Leonard Maré, Tom Smith, Jan Venter en Franco-Pierre Visser
Uitgegee deur CUM, 2016
Resensie deur Frits Gaum


Stephan Joubert is een van die bekendste Bybel­uit­lêers in die land, en sy betrokkenheid by hierdie boek laat ’n mens dit met groot verwagting optel. In sommige opsigte voldoen die werk aan die ver­wagtinge.

Joubert se eie bydrae is, soos die meeste van sy geskrifte, helder en toeganklik geskryf en hy sê ’n paar belangrike goed, soos dat ons moet ligloop vir “Bybel-oortredings” deur byvoorbeeld te wil hê dat die Bybel altyd met ons sienings moet saamstem, of dat ons ons net aan daardie Bybeltekste wil steur wat vir ons “werk”. Hy skryf: “Miskien moet ons almal bid: ‘Bewaar ons teen ons selfgemaakte, afgewaterde weergawe van die Bybel!’” (bl 18).

Hoe om die Bybel reg te leesNog ’n interessante, dog in sekere opsigte omstrede bydrae is dié van Jan Venter oor “grenssituasies” in die lewe waar ’n mens moeilik die Bybel soos ons dit verstaan, met die werklikhede waarmee ons gekonfronteer word, kan versoen. Hy skryf dan: “Soms is daar omstandighede en spesifieke grenssituasies waarin ons as volgelinge van Jesus gehoorsaam moet reageer deur ’n keuse te maak tussen een van twee opsies. Dit kan wees dat beide opsies teen die wil van die Here is en dat ons geforseer word om te kies vir dié ‘euwel’ wat die minste ska­de gaan doen” (bl 94).

Problematies is die bydrae van Franco-Pierre Visser. Hy vertel van sy “ou” lewe toe hy sy homoseksualiteit uitgeleef het, en sy “nuwe” lewe toe hy verstaan het dat, as hy 100% vir Christus wil volg, hy dit nie mag doen nie. “As ek Christenskap kies en aanvaar as my geloof, is die waarheid rondom hierdie onderwerp dit: Homoseksualiteit is nie aanvaarbaar vir God en volgens sy wil nie” (bl 101). Let wel: homoseksualiteit as sodanig, dus ook ’n homoseksuele oriëntasie, is blykbaar volgens Visser nie aanvaarbaar vir God nie. Met alle respek: Waar, as jy die Bybel “reg” lees (waarmee hierdie boek ons wil help), staan dit? Gegewe ook die feit dat “homoseksuali­teit” en ’n “homoseksuele oriëntasie” (soos Visser as kli­niese sielkundige sal weet) 19de en 20ste eeu­se be­grip­pe is waarvan die Bybelskrywers nie kennis gedra het en waarvan hulle nie praat as hulle na selfdegeslagseks in ’n nega­tie­we verband verwys nie. 

Ek het groot waar­de­ring vir Visser se toewyding aan Jesus Chris­tus en het respek vir sy persoonlike keu­ses, maar, anders as hy, ken ek toege­wy­de ge­lo­wige gay Christene wat Jesus Chris­tus volg son­der om ’n wesenlike deel van hulle be­staan as volledige mense te moet prysgee omdat die Bybel, en daarom God, dit van hulle sou vereis.

Hoe om die Bybel reg te lees is ’n nuttige boek met goeie bydraes, maar alles daarin kan nie vir soetkoek opgeëet word nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top