Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Deurleefde wyshede waarna oud en jonk kan luister

OOR DIT EN DAT … EN NOG WAT
Deur Jannie du Preez
Selfuitgawe, 2016
Resensie deur Willie van Rooyen


In hierdie lekkerlees-boek gaan dit oor mense se woorde en dade deur die eeue heen. Die 25 hoof­stukke is propvol interessante aanhalings uit die Bybel, liedere, gebede, gedigte, gesegdes, sêgoed van be­kendes (en minder bekendes), asook persoonlike be­lewenisse van die outeur uit verskillende fases van sy lewe en bediening as predikant en professor in teo­lo­gie (sendingwetenskap).

Die bekende en beminde prof Jannie du Preez was op sy dag rektor van die Teologiese Skool, Decoligny, en dosent aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf hierdie boek as iemand wat baie in die Suid-Afrikaanse kerklike en akademiese werk­likheid belewe het, maar nooit sy geloof en vroom­heid verloor het nie. 

jannie coverUiters fassinerend is Du Preez se rangskikking van die uiteenlopende temas wat hy aanraak. Dit vorm alles ’n sinvolle geheel omdat die verskillende on­­derwerpe omraam word deur ’n viertal hoofstukke oor die God van die Skrif, die Bybel as Woord van God en aspekte van die Christelike lewe. Die groot rol wat gebed deur die jare in die skrywer se persoonlike lewe en skryfwerk gespeel het, loop soos ’n goue draad deur die boek. Daar is selfs ’n kreatiewe hoofstuk oor gebede van diere (die haan, os, donkie, goudvissie, duisendpoot …)

Du Preez slaag met hierdie boek baie goed daarin om met sy rype lewenservaring en kundigheid die menslike lewe te onderstreep as ’n saak van groot erns, maar tog ook as iets vol humor en luimige oomblikke wat raakgesien en geniet moet word. 

Oor dit en dat … is nie ’n boek om een keer te lees en dit dan op ’n boekrak te vergeet nie. Dit prik­kel die leser tot weerlees en na­den­ke oor eie erva­rings en oortui­gings. Dit het vir my ’n nu­we perspektief op die wonder van mens-wees gegee … en opnuut laat besef dat die lewe tree vir tree as ’n gawe uit God se hand beleef moet word. Want hierdie lewe hou nie vir altyd nie.

Kry vir jou ’n kopie van dié waardevolle boek en ervaar die deurleefde wysheid van iemand wat iets het om te sê en dit maar kan sê, want hy wás al daar.  Bestel by die outeur by 021 854 4489.

▶ Dr Willie van Rooyen is ’n predikant van Vredelust-gemeente.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top