Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lê jou klippe neer!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Gerrit Vosloo van Ermelo skryf:

Ek was bevoorreg om as afgevaardigde beide die Algemene Sinode van 2015, asook 2016 se Buitengewone Algemene Sinode te kon bywoon. As jong predikant was dit ‘n geweldige goeie en teleurstellende ervaring.

Te gereeld hoor ek die laaste tyd hoe mense vertel van Jesus se andersheid en hoe Hy die onverwagse gedoen het en dat ons soos Hy moet wees/word. Dit is alles wonderlik en ek stem heelhartig hiermee saam – maar die probleem is niemand/bitter min mense doen of kry dit reg! Veral as dit kom by die geestelike leiers van ons dag. Mense weet nie hoe om soos Jesus te word nie, want hulle sien nie voorbeelde nie, veral nie vanaf geestelike leiers nie.

Gedurende die Buitengewone Algemene Sinode (BAS), was daar telkemale afgevaardigdes wat Johannes 8:11 aangehaal het: ‘Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”.’ Ek het geweet wat die persone bedoel het of probeer doen het. Maar is dit regtig hoe Johannes 8:1-11 verstaan moet word? Dr. Tiana Bosman het toe later opgestaan en mooi verduidelik dat ons nie moet vergeet dat daar inderdaad ook ‘n man betrokke was by die owerspel nie. En almal het gedink: “sy het ‘n baie goeie punt beet”. En Tiana was reg, maar tog is dit nie al wat die teks vir ons wil leer nie – “Hou op sondig” en “It takes two to tango”.

Johannes 8:6 gee tog vir ons duidelik die rede vir hierdie gebeurtenis. “Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.” Die Griekse woord vir uitlok, word ook vertaal met toets (peira,zw).

Hierdie vrou wat deur die Fariseërs voor Jesus gebring word is niks meer as ‘n pion in die plan om Jesus aan te val en te probeer uitvang nie. Kom ons vergeet nie die feit dat daar inderdaad ook ‘n man betrokke was in die situasie nie. So albei was skuldig, maar een ding is duidelik in die lewe: die gedrag wat kom vanaf die vlees, maak nooit eintlik sin nie. Die klipgooiery het begin toe hulle onregverdig begin optree het.

Die wet is aan die volk Israel gegee om hulle te lei in reg en geregtigheid om ‘n skoon lewe voor God te leef – hierdie Fariseërs gebruik dit as ‘n wapen om te oordeel. Maar owerspel was nie die regte probleem hier nie. En dit was nie eintlik die vrou wat hulle wou uithaal nie. Die leiers wou vir Jesus uitvang. Hulle wou Hom in ‘n situasie plaas waar Hy nie kon uitkom nie.

Dit is duidelik dat die wet van Moses sê die vrou moet sterf. So as Jesus nie die wet van Moses nakom nie, dan sal Hy in die moeilikheid wees by die Sanhedrin. Maar as Hy in hulle strik getrap het en gesê het, “Ja die vrou moet gestenig word”, dan sou Jesus in die moeilikheid gewees het by die Romeine, want die Romeine het owerspel nie as ‘n sonde gesien wat met die dood strafbaar was nie en hulle het die doodsvonnis verbied, tensy hulle daarvoor toestemming gegee. Maar Jesus se reaksie was heeltemal onverwags. Hy begin om in die sand te skryf.

Die klipgooiery het begin nog voordat enige iemand ‘n klip opgetel het. Dit het begin met ‘n kwaadwillige poging om Jesus te diskrediteer, maak nie saak wie seer kry in die proses nie. Die motief van hierdie leiers was nie om God se belange te promoveer nie, maar inteendeel, hulle het hulle eie agenda gepromoveer en hulle het hulle eie belange probeer beskerm.

Alhoewel, as ons nou eerlik met mekaar moet wees, is ons veel anders as hierdie Fariseërs. Het ons nie almal êrens in ons lewens probeer om ons eie belange op mense af te forseer nie? Het ons nie almal al dinge gedoen wat ons begeer, maar wat teenstrydig is met God se wil en begeerte vir ons nie? Die punt van die saak is dit: ons is almal skuldig aan sonde. Ons almal wys vingers na ander mense. Ons is almal skuldig aan klipgooiery.

Waarom het hierdie manne so hard probeer om Jesus te vernietig? Die teks wys ons op ‘n paar dinge wat die Fariseërs se gedagtegang bepaal het: Reëls word belangriker as mense (/verhoudings); Die Fariseërs se agenda het belangriker geword as God se agenda.

“Laat die een wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi” (v.7). Kan ons regtig bekostig om klippe te gooi, veral met al die dinge wat aangaan in die NG Kerk? Ons almal maak foute. Ons almal het al gesondig. Ons almal het dieselfde geestelike nood vir Jesus.

Die oomblik as ons vergelding soek vir die onreg wat teenoor ons gedoen is, verloor ons ‘n deel van ons verhouding met God. Wanneer dit gebeur, dan word dit makliker en makliker om klippe te gooi. Ons gebruik die dinge wat met ons gebeur as manier om ons dade te regverdig.

Wanneer Jesus sê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”(v.11), sê Hy: “Hou op om sonde die gewoonte van jou lewe te maak”. Jesus verskoon nie maar net ons sonde nie, Hy maak nie plek vir sonde nie, Hy beredeneer nie sonde nie – Hy vergewe dit en verbied dit in dieselfde asem, maak nie saak wat jou seksualiteit of sosiale status is nie.

Jesus hou aan om ‘n boodskap vir ons aan te dra, maar dit word nie in die sand geskryf nie. Dit word aan die kruis geskryf. Dit word nie met sy hand geskryf nie, maar met sy bloed. Jesus hou aan om vir ons ‘n boodskap te los: “Nie skuldig nie!”

So baie van ons leef met negatiewe etikette. Maar ons hoef nie, want jou storie is ‘n storie van genade, vergifnis en hoop. Jesus wys vir ons wie ons veronderstel is om te wees. Hy wys vir ons die pad wat ons moet loop. Ons hoef nie in ons verlede te leef nie. Ons hoef nie met etikette te leef nie. Ons hoef nie ‘n lewe te leef wat magteloos is teen sonde en versoekings nie. Ons is gekies en geroep vir soveel meer.

Dink jy nie dis tyd om jou klippe neer te lê nie? Gee daardie klippe van jou wat jy kan gebruik om te vernietig en laat Jesus iets mooi daaruit bou. My persoonlike voorneme en droom vir die NG Kerk in 2017 is dat ons die klippe sal neerlê en Jesus se voorbeeld begin volg.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top