Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Peet Crous by ’n groot papierbas in die tuin. Foto: Neels Jackson

Lynnwood leef met respek vir die skepping

“Ons vertrekpunt is dat God die Skepper is. Daarom het ons respek vir die skepping.”

So gesels ds Peet Crous van die NG gemeente Lynn­wood in Pretoria oor die belangrikheid van die omge­wing vir hulle gemeente.

Dit is iets wat hulle doelbewus en prakties probeer uitleef, en wat hulle lidmate aanmoedig en help om te doen. Dit gebeur nie in groot projekte nie, maar in die klein dingetjies wat mettertyd aangeleer word en wat saam help om ’n omgewingsvriendelike lewenstyl te vorm.

Een daarvan is herwinning. Daar is vier pastorieë wat deel is van hulle kerkterrein, sê Peet. Twee van hulle herwin hulle afval. As jy eers begin om te herwin, is dit van die maklike goed wat jy kan doen om ’n verskil aan die omgewing te maak.

Verder plant hulle bome. Inheemse bome. Dis van die sigbaarste dinge wat hulle doen.

Dit koppel hulle dikwels aan bakengeleent­hede, soos die doop van ’n kind, of die begrafnis van ’n geliefde. Hulle het al ’n boom geplant toe lidmate se kind uit die VSA kom kuier het.

Aan die een kant dien so ’n boom as kon­krete herinnering aan ’n belangrike geleentheid. As ’n kind iets van sy of haar doop begin verstaan, kan die ouers die kind na die boom toe neem en vertel dat dit met sy of haar doop geplant is. Vir die kind word daardie boom ’n teken van God se liefde.

Aan die ander kant skep dit ’n positiewe gevoel oor bome.

En op Lynnwood se terrein, wat die vier pastorieë insluit, staan daar al meer as ’n honderd inheemse bome. Elke boom kry ’n plaatjie met sy wetenskaplike sowel as Afrikaanse en Engelse naam daarop.

Hulle het ook al bome geplant by die plaaslike skole.

Soms word ’n bakengeleentheid ook gebruik om ’n boom wat reeds geplant is, te gaan versorg. Dit sluit in dat ’n boom gesnoei word, voeding en water kry en dat dit ’n naamplaatjie kry.

Dis ’n slim man wat ’n boom plant in wie se skaduwee hy waarskynlik nie self gaan sit nie, sê Peet.

Bome is simbole van lewe. Dit skep ’n lewensruimte vir byvoorbeeld voëls en nagapies. En dié lewegewende kwaliteite van die boom sluit sterk aan by die boodskap van die evangelie. Die Ou Testament, sê Peet, is vol verwysings na bome.

As hulle bome snoei, word die takke opgesny en daarvan word weer kompos gemaak. Dis nog ’n vorm van herwinning, sê Peet. En daarmee kom hulle weg van die soort lewenstyl wat takke wegry na ’n stortings­terrein toe, net om daarna te gaan kompos koop vir ’n tuin.

Dis iets waaroor hy soms op huisbesoek gesels, vertel Peet. Lidmate nooi hom om met hulle te kom gesels oor hoe om kompos te maak.

Met die watertenks op hulle terrein, vang hulle ook reënwater op. Agter sy pastorie staan daar twee groot watertenks waarin reënwater opgevang word. Net 30 mm reën is genoeg om dié twee tenks vol te maak.

Dit word onder meer gebruik vir ’n inheemse kwe­kery, maar ook vir die groentetuin wat kos vir die huis maar ook vir van die kerk se personeel produseer.

Een van die volgende stappe is om kombersies om al die geysers op die kerkterrein te sit, om so te keer dat energie verlore gaan.

As hulle sulke dinge doen, sê Peet, dan sê hulle dit vir die gemeente.

By die Noordelike Sinode se sitting verlede jaar, is die wegbreeksessie oor ekoteologie baie goed bygewoon. Hy dink al meer mense verstaan dat dit deel van die evangelie is om vir die omgewing om te gee. Die moeiliker ding, sê hy, is om dit te begin leef.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top