Teen die agtergrond van die dood van dr Andrew Murray ’n eeu gelede, wonder JAN LUBBE wie dié groot kerkman was.
Dr Andrew Murray is nie meer nie. Die vurige prediker, troue sielsoeker en “man in Christus bij uitnemendheid”, is Donderdagaand, 18 Januarie 1917, oorlede, het die Kerkbode die nuus aangekondig.
By die begrafnis die Saterdag in Wellington, het prof De Vos van Stellenbosch na aanleiding van 2 Konings 2:12 die gestorwene as ’n “Nuwe-Testamentiese Elia” beskryf; ’n man van geloof en gebed met soveel erns dat mense dikwels vir hom bang was. Met die ouderdom het wel vertedering gekom.
Sy ander vriend, prof JI Marais, het alreeds ’n eerste lewenskets oor dié “Groot Man” op skrif gehad: prediker, herder, “kerkelijk staatsman”, opvoedkundige, skrywer en stigter van die Bijbel- en Bidvereniging en van die South African General Mission.
Soos Moses het hy geleef, “ziende de Onzienlijke”, skryf JD Kestell uit Bloemfontein. Van heinde en verre het huldeblyke vir “vader Andrew Murray” ingestroom: Uniondale, Aliwal-Noord, Utrecht, die Transvaalse Sinodale Kommissie.
Die sterfjaar van Andrew Murray was ’n donker jaar. ’n Jaar tevore het sy seun, lt Haldane Murray, in Oos-Afrika gesneuwel. In die Kerkbode van 11 Januarie 1917 is ’n preek van ds EA Pienaar oor Klaagliedere 2 en “Gods gerichten over de Aarde” gepubliseer. ’n Wêreldoorlog het in loopgrawe vasgeval; in Rusland ’n revolusie; in China was ’n ou dinastie verby.
In die Vrystaat het die Rebellie kerklike “moeilijkheden” veroorsaak en aan die Rand is die Industrial Workers of Africa as eerste swart vakbond gestig. In Cradock het dr DF Malan ’n kongres oor die “Armen Blanken” toegespreek; ’n “kruistocht” is geloods om fondse vir hulle te in.
Die Raad van Kerke het besluit om Afrikaans as kanseltaal toe te laat. Tóé al was die boekies van dr Murray – want dít is wat sy skryfwerk veral was: kort en kragtige hoofstukkies, 31 vir ’n maand se oordenkings oor gebed, innerlike lewe en die Heilige Gees – in Duits en Deens, Russies en Japannees vertaal. “En nog spreekt hij, gestorven zijnde”, eindig die eerste biografie (1919).
Daarom is dit moeilik om jou die lewe hier in Suid-Afrika sonder hom voor te stel, het die Kerkbode gevoel. Geen wonder dat binne drie maande ná sy dood die plan in sy laaste gemeente – Wellington – ontstaan het: ’n “monument” vir dr Andrew Murray.
Noudat dié uitnemende Godsman “uit ons midden is heengegaan, gevoelen wij dat door hem te eeren, wij terzelfdertijd onszelven eeren”, het ds DG Malan gemotiveer en die steun van alle kerkrade en munisipaliteite in die Unie gevra.
Daar wás lidmate met besware. Maar uit die Vrystaat is sendelinge en sendinggemeentes tot bydraes opgeroep, want dít was die ander tema in Andrew Murray se skryfwerk: The Kingdom of God in South Africa (1906).
Sy bekende The state of the church volg direk in reaksie op die 1910-Wêreldsendingkonferensie in Edinburgh. Die God van sending, is die God van gebed – só was hy oortuig. Dus het bekende sendelinge bygestaan daardie reënerige Vrydagmiddag in Wellington, einde Augustus 1923, toe die standbeeld ingewy is, “opgericht door het publiek van Zuid-Afrika”.
Met ’n sittende Andrew Murray en ’n groot oop Bybel op sy skoot, soos wat hy die laaste jare gepreek het. Sy oë gerig op die berge “alsof de godsman peinzende is over Hem, van Wie ons hulp komen moet.” Op die voetstuk: God is alles. Toe die skare uiteengaan, was die gevoel soos wat een telegram gelui het: “Andrew Murray leeft nog onder ons.”
Inderdaad. Ses jaar later, óók ’n Vrydagmiddag, is ’n tweede standbeeld nie ver daarvandaan nie ingewy: voor die Groote Kerk in Kaapstad. ’n Kleiner een, in ligpienk Italiaanse marmer. Daartoe het die Kaapse Sinode in 1919 besluit en weereens landswyd geld ingesamel – dié keer met meer moeite egter. En ’n ander aksent: “Dr Andrew Murray heeft z’n leven opgeofferd voor’t Afrikaanse volk,” volgens die Kerkbode.
Dink aan die grysaard se pleidooi vir volkseenheid by die Vrouemonument se inwyding, 16 Desember 1913. In sy laaste weke was hy besorgd: “Bid,” het hy gevra, “dat onse volk sterk moge worden in gerechtigheid.” En: “Ons volk gaat te gronde door zelfzucht.” Sorg vir opvoeding. Help die arm blankes.
GBA Gerdener het onthou dat Murray al in 1881 van mening was dat die “ontwikkeling van ’n kragtige nasionale lewe in die halfsluimerende (Afrikaanse bevolking) ’n sterker stam bied waarop die Christelike lewe ingeënt kan word”. Sy plek digby die “ander groot Afrikaner, ‘Onse Jan’ Hofmeyr” was dus gepas, albei “sieners en profete”.
Beeldhouer Anton van Wouw het ’n ietwat jonger Andrew Murray gewys: staande, met sy wysvinger kenmerkend in die lug, sy linkerhand op die Bybel. Só is hy tewens al as jongman in die binnelande gesien preek, “point(ing) his finger at the people … threaten(ing) them …”
Iewers tussen 1929 en 1954 is dié standbeeld van Andrew Murray gevandaliseer: daardie vinger (en duim) is afgebreek. Waarom? Waarom het die digter Peter Blum na “ou afduim-Murray” verwys in sy spot met Afrikaner “monnemente”?
Skaars was dié skade in 2011 herstel, toe word Murray in Wellington met rooi verf gegooi in ’n vlaag van woede teen “standbeelde uit die koloniale en apartheidsera”. Waarom? Die Algemene Sinode se moderamen het verontwaardig verklaar dat “dr Andrew Murray ’n geestelike vader” vir die NG Kerk is en “’n positiewe invloed op die lewe van miljoene mense het”. Die kerkraad het hom “een van die grootste Christelike ikone” genoem; ’n “simbool van versoening, vrede en naasteliefde”, het die burgemeester van Drakenstein bygevoeg, nou aangeval deur “people’s ignorance”!
So wie is Andrew Murray?
’n Boekprys, saam met Desmond Tutu? ’n Sentrum vir Christelike Spiritualiteit? Die naam van ’n “rigting in die NG Kerk” wat minder skuldig aan apartheid was; “vroom”, eerder as “regsinnig”? ’n Voorbeeld van “nugtere mistiek” – irenies, oop, ekumenies? ’n “Mengelslaai-teoloog” vir kritiese Doppers én Baptiste?
Waarom verskyn daar steeds populêre biografieë uit revivalistiese kringe, selfs romans oor sy “oorwinningslewe”? En waarom gaan al hierdie geskrifte terug na daardie enkele eerste biografie: Johannes du Plessis se Het Leven van Andrew Murray uit 1919?
Het dit dus nie hoogtyd geword dat ’n kerk wat wil onthou, iemand na die primêre bronne stuur om ’n teologies-verantwoorde biografie oor dié man, sy tyd en konteks te skryf nie?
Dalk sou dit ons kon help om te weet of hy – soos in 1857 oor swart en wit rondom één Nagmaalstafel – weer te vinde sou wees vir ’n kompromie … hierdie keer oor die gay-kwessie?
Of … is dít juis hoe mens níe met die geskiedenis moet omgaan nie?
▶ Ds Jan Lubbe is predikant van die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein.
