Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
André Sprong, lidmaat van Bultfontein Moedergemeente skryf:
Dit is Maandag, 2 Januarie 2017, die begin van ’n nuwe jaar. Dis warm en droog en die reën wat voorspel is vir Desember het nie gekom nie. Die jaar skop af met ’n donker prentjie in ons gemoed. Is dit weer ’n jaar soos verlede jaar?
Na ’n 10 mm hier en 12 mm daar en weer ’n bietjie reën in November en Desember, kon ’n gedeelte van die mielies geplant word, maar die warm son en erge stofstorms het ons moed gebreek en dit wat oorgebly het, staan inmekaar gedraai en vaal van die droogte.
Die enigste uitweg is om by die Here te gaan pleit, vandag nog, want so kan ons nie die nuwe jaar ingaan met alles wat voor ons oë vergaan nie. Dit reën al om ons, 25 mm op die dorp, 30 mm langs ons, en nog meer agter ons, maar hier … 2 of 3 mm.
Die boodskappe gaan uit dat ons om 19:00 by die “Groentenk” bymekaarkom – in die veld waar die nood op sy hoogste is.
19:00 staan almal wat kon kom in ’n kring. Aan die een kant het die beeste gebulk op soek na kos terwyl ons aan die ander kant teen die verdroogde mielies vaskyk. Daar word gelees en gebid. Die gemoedere loop so laag dat sommiges sukkel om te bid met ’n knop in die keel. Selfs die plaaswerkers het soos een man die Onse Vader in hul eie taal gebid. Daar is met groot erns en pleitend gebid tot ons Vader in die hemel om genadig te wees en vir ons reën te gee.
Ons het ooreengekom om weer op dieselfde plek te kom dankie sê vir die reën wat gaan val, want ons het geglo dat die Here sal voorsien. Sommige het gepraat van oor ’n week en ander het gesê: “Nee, oor twee dae.”
Dinsdagaand, die 3de, 24 uur nadat ons gebid het, val die eerste druppels (10 mm). Die daaropvolgende vier dae gee die Here vir ons nie minder nie as ± 130 mm sagte, deurdringende reën. Dit reën die hele week sodat ons eers Vrydag (6de) weer by die Groentenk kan gaan dankie sê!!
8:00 die oggend staan ons weer by die Groentenk om te juig voor die Here! Dit het nog sag gereën, maar terwyl ons gebid het, was dit stil. Die Here het geantwoord op ons gebede en meer gegee as waaroor ons ooit kon droom. Daar waar die honger beeste gestaan het, is nou ’n dam vol kwakende paddas.
En aan die ander kant mielies wat uit hul nate wil bars met blare wat ook uit dankbaarheid na bo gedraai is! Die wonderlikste verandering was egter die gemoedere van al die gelowiges teenwoordig. Ons kon met ’n lied in die hart uit die Bybel lees en saam bid. Omdat dit nie ’n vakansiedag was nie, kon al die plaaswerkers, baie meer as toe ons gevra het, ook deelneem aan die danksegging. Net toe ons klaar dankie gesê het, begin dit weer drup!
Ons dien ’n wonderlike Here wat weer eens sy liefde bewys het deur pleitende gebede te verhoor en gesorg het vir sy kinders.
Die “Groentenk” op Klipkuil naby Bultfontein, het vir my, en ek glo vir almal wat daar gaan bid het, nuwe betekenis gekry. As ek daar verby ry, herinner dit my elke keer aan die groot genade van ons Here wat Hy hier aan ons openbaar het.
