Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Hanri Joubert van Britstown skryf:
Dit lyk vir my of baie studentekerke en ander groot stedelike gemeentes in die 70’s en vroeë 80’s begin het met uitreikaksies in die platteland. Daardeur is fondse gegenereer vir behoeftige instansies en gemeentes. Dalk het dit so begin omdat baie plattelandse dorpies in die 70’s en selfs nog in die 80’s goed gedoen het.
Ek self het al aan hierdie tipe uitreike deelgeneem. Dit was ’n fees, jy het geestelik verdiep teruggekom, lekker geëet, lekker gekuier en as jy gelukkig was soos ek, het jy jou trouvrou ontmoet.
Die name van die plekkies wat ons besoek het kan ek nie onthou nie. Wat op die dorpe gebeur het ook nie. Ek kan wel onthou dat ek saam met die res morrend gelag het as ons wéér lasagne kry (nou besef ek dat dit dikwels die goedkoopste en maklikste gereg is).
Baie van hierdie uitreike of toere word vandag nog net so bedryf en ons plattelandse tannies het nog nie in hul hart verander nie. Gasvryheid en bederf is deel van hulle. Die probleem is dat die platteland drasties verander het. Die goue jare is verby. Meeste besigheidsmanne is stad toe, min van ons jong boere het teruggekom, ons kundiges het groener weivelde gaan soek en sosiale probleme is die hoogte in.
Ek kan onthou hoe opgewonde ek ’n paar jaar terug was om my eerste toergroep te ontvang. Ek het voorberei om vir hulle te vertel van ons uitdagings en drome op ons dorp. Daar aangekom het die leier my gegroet en bedank vir die moeite met die kos, selfs saam met die groep vir ons ’n oulike dankie-liedjie gesing wat ek gewonder het of dit van die eerste toer af kom. Ons dorpie se stem, haar klaaglied is egter nie gehoor, gesien of genoem nie. Voor ons ons oë uitgevee het, is ons alleen in ’n saal met leë kosbakke en ’n lelike knou vir ons uitreikdiens se rekening. Dieselfde rekening waaruit ons probeer om in ons dorp ’n verskil te maak.
Ons het op ’n punt gekom waar ons toergroepe moes wegwys. Dit breek ’n plattelandse tannie se hart die dag as sy nie meer kan gasvry wees nie. Dit het vir van hulle lank geneem voor hulle vir my toestemming gegee het om groepe weg te wys. Ek het gedink dat dit net ons is, maar uit gesprekke met omliggende dorpies het ek besef die gevoel is veel wyer as hier. Niemand het egter die moed om dit te sê nie.
Die platteland het dringend hulp nodig. Elke dorpie het haar eie uitdagings. Geld is oral skaars, kyk maar hoeveel dorpies geen meer kerke oor het nie. Ek doen dus ’n beroep om nuut te dink. Moet ons nie vergeet in die platteland nie. Die tafels het ongelukkig gedraai. Nou is dit ons wat julle nodig het!
