Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
WR Haan skryf:
Graag lewer ek kommentaar na aanleiding van die brief “Keer die Kerk terug na die Heidendom?” van Peet Zeeman in Kerkbode van 1 Februarie 2017.
Sou dit nie wonderlik gewees het om ’n artikel te sien onder die opskrif: “Keer die Kerk terug na die Heiligdom” nie? Sedert die gay-debat losgebreek het in die kerk is daar ’n histeriese geskarrel om sin te maak van dit alles omdat ons so besig is met óns en óns.
Coram Deo beteken letterlik om in God se gesig te kyk, in sy teenwoordigheid is alles sigbaar ontbloot. Onverskans. So het profete lig gekry en leiers rigting gekry. Hy vra dit, nee, Hy eis dit van ons: onvoorwaardelike en volkome gehoorsaamheid.
Sy skaalbakke is in balans as sy genade en liefde vir ons balanseer aan die ander kant met sy heiligheid en gehoorsaamheid van ons. Ons bly so besig om sy genade en liefde te wil demonstreer dat ons soms vergeet dat die ander kant ook net soveel swaarder moet word …
As jaloerse God vra Hy Adam se volle toewyding aan Hom, maar reeds met die skepping laat Hy toe dat die mens se aandag verdeel word met die skep van sy vrou. Reeds hier kon Hy net sowel eerder nog ’n man geskep het, maar dit was nie.
Oor die eeue was die Kerk gereeld in storms: altyd óns, óns. Hierdie storm sal ook verbygaan, nes die voriges. Maar die Bruidegom wag vir sy bruid om gereed te wees, terwyl sy vertragingstaktiek speel.
