Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Dawie Botes, NG gemeente Vrede-Wes skryf:
As predikant in die NG Kerk mis ek leiers wat opstaan as profete in hierdie tyd. Dis in sulke tye dat die kerk moet opstaan en weer onbevange profeet moet wees. Die NG Kerk bly een van die grootste kerke en moet leiding neem.
Moorde, verkragtings, misdaad, korrupsie en rassisme het deel geraak van ons samelewing. ’n Klompie Sondae gelede moes ek afkondig dat twee van ons lidmate se kinders vermoor is. Onlangs het ek ’n 6-jarige swart kind wat vermoor is, se begrafnis bygewoon.
Waar is die kerk? Soms kan die kerk so intern besig wees met goedjies dat hulle nie die groter prentjie meer raaksien of wil raaksien nie. Het ons ons geloof verskraal tot niks? Glo ons nog in gebed en die Here se almag?
Staan tog op teen ons regering van die dag met nuwe radikale maniere van profeet-wees. ’n Briefie en ’n e-pos aan die regering help niks meer nie. Hulle lees dit nie eens meer nie.
Volgens statistieke van verlede jaar is daar reeds oor die 2 800 mense vermoor. Wat sê die kerk teen rassisme van ons regering se kant af wat onaanvaarbaar is?
Ek persoonlik bid vir verdeeldheid in ons huidige regering en dat die Here vir ons op sy tyd ’n ander verantwoordelike regering sal gee. Daarvoor bid ek byna elke dag.
Ons bely Sondae: ” Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde …” Glo ons dit nog?
Ons moet as kerk ernstige oproepe maak tot nasionale gebedsdae soos nooit te vore nie. Word wakker, NG Kerk! Staan op in die Naam van die Here waarin jy onwrikbaar glo. Wees ’n profeet en inspireer jou lidmate.
