Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Bertus Celliers, NG gemeente Rietfontein skryf:
Rietfontein word 100 op 31 Mei 2017. Ons hou ’n groot verjaarsdagpartytjie! Saterdagoggend 3 Junie vier ons Dankfees op ons kerkterrein in Winburg. Die aand is dit konsert. Sondag 4 Junie loof ons die Here en vier ons nagmaal. Die Soli Deo Gloria Kamerkoor van Bloemfontein met verskeie musiekinstrumente gaan ons loflied verryk.
Alle oudlidmate word hartlik uitgenooi. Indien iemand foto’s of interessante staaltjies uit Rietfontein se verlede het, stuur dit groot asseblief vir ons! Kontak Bertus Celliers by 082 784 9735 of Christo Botha by 083 440 3489.
Rietfontein se verhaal is ’n lewende getuienis dat ons aan ’n genadige God behoort. As een van die tragiese gevolge van die Rebellie van 1914, skeur Winburggemeente in twee. Rietfontein word hieruit gebore en staan later bekend as die Nat-kerk. Winburg word die Sap-kerk genoem.
Nou, na ’n eeu, is die samewerking tussen die twee susters hartlik en gereeld. Saam dien ons die Here ons God in die oudste Voortrekkerdorp in die Vrystaat. Die Here se vrye guns oordek baie sondes. “… by U is daar vergifnis, daarom word U steeds gedien” (Ps 130:4).
Rietfontein se Dankfees is bekend vir sy lekker skaapsosaties en bobaas-botterpannekoek. Natuurlik kan ons nie eeufees vier sonder hierdie lekkernye nie. Ons nooi ook laerskoolkore om die Saterdagoggend in ons kerkgebou te kom optree. Kom luister en kuier die oggend saam met ons. Saam met ’n eenbedryf Saterdagaand, gaan ons ook ’n kerkraadsvergadering uit toeka se dae op die verhoog hê. Kompleet met manelle en ’n “hoogeerwaarde voorsitter”, gaan allerhande interessante (en skrikwekkende) voorstelle uit 100 jaar se geskiedenis weer op die tafel kom.
Sondagoggend is ook Pinksterfees. Dit pas ons om ons eeufeesvierings af te sluit op die herdenking van die uitstorting van die Heilige Gees. Hy is immers die Skepper en Versorger van God se kerk.
