Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die fout van die Reformasie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Richard Holloway van St Helenabaai skryf:

Vir 500 jaar het die Reformatoriese kerke fees gevier en getob oor die vreugde van die Reformasie naamlik dat ons uit genade alleen gered is. Die teologie en die kerk het ten regte hierdie waarheid ontgin en uitgebou tot ’n sistematiese teologie en leer wat in die kerk aanvaar word. Die belydenisskrifte beaam en verwoord hierdie waarheid.

Vir 500 jaar is die tweede uitkoms van die Reformasie, die versplintering en verskeuring van die kerk, egter agterweë gelaat. In ons verlekkerdheid met die genade-boodskap het ons skaars gemerk dat die liggaam van Christus letterlik weer gekruisig en geskeur is. Die leer van die belydenisskrifte is verhef tot wette en tot enigste leer van die waarheid. Die gevolg was dat alle ander groepe wat daarvan afwyk verketter en gedemoniseer is. Die ergste is dat dit eintlik gelei het tot die verkettering van almal wat afwyk van óns interpretasie van die belydenisskrifte. So is die liggaam van Christus verder versplinter.

Ons is geneig om hierdie versplintering te beoordeel in terme van denominasies op ’n makrovlak. Daar­om poog ons om deur middel van ekumeniese liggame weer die bande te herstel. Die hartseer is dat die versplinte­ring eintlik op plaaslike vlak die grootste skade berokken. Daar waar ons mekaar as gatjieponders, doppers en apostolies uitkryt en dan vermy. Sondae is “the most segregated day of the week”.

Die 500 jaar lange versplintering bereik egter in Suid-Afrika ’n draaipunt met die ontstaan van die Belydenis van Belhar wat die reusefout van die Reformasie klink­klaar uitspel en die klem en soeklig verplaas van blote abstrakte genade-teologie na eenheid, versoening en ge­regtigheid. Die konteks was weliswaar ongelukkig polities wat die swaai ’n swaar pil maak om te sluk en te begryp. In die NG Kerk was die pogings om die Belydenis van Belhar te aanvaar oënskynlik aanvanklik net gerig op die eenwordingsproses met die VGK. Hulle het nog nie die konsekwensies daarvan na die fout van die Reformasie ­deurgetrek nie en ook glad nie tot op plaaslike vlak nie.

Ek wil ’n beskeie oproep tot die kerk rig om in die lig van die Belydenis van Belhar die fout van die Reformasie hier reg te stel en hard te werk om ’n inklusiewe teologie van ekumene daar te stel en ’n praktykgerigte aksieplan op te stel waarvolgens gemeentes versoe­ning tussen kerke op plaaslike vlak kan bewerkstellig. Ek is van mening dat dit ook versoening in ons gepola­ri­seerde samelewing tot gevolg sal hê.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top