“Jy is geseënd om te seën. Jy het gekry om te gee. Jy leef om jouself as ’n offer te gee.”
So het Annalise Wiid gesing by die geleentheid van die toekenning van die Andrew Murray-pryse vir 2017. En dit was gepas, want die aand het juis erkenning gegee aan mense wat gawes ontvang het, dit tot eer van God gebruik en in die proses tot seën van soveel ander mense is.
Wiid self was die ontvanger van die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek.
“Die prys gaan oor mense wat die Here met hulle hele hart loof. Jy bring hoop aan baie mense,” het dr Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, aan Wiid gesê met die oorhandiging van haar prys.
Yolande Korkie, wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir haar boek 558 dae/558 days, het met die ontvangs van haar prys slegs gebid: “God, ons gee hierdie prys terug aan U. Dankie dat U iets so sleg in iets goeds kon verander.”
Lauren Jacobs het haar Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir die boek Yehudit/Judit “’n liefdesgeskenk van God” genoem. Sy het vir vroue gesê God omhels hulle en het hulle so lief.
Dr Coenie Burger en dr Andries Cilliers, ontvangers van die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse teologiese boeke, het gesê dat die doop ’n teken is wat alle gelowiges juis saambind, en nie skei nie. Hulle wenboek, Ontvang wat vir jou gegee is, handel oor dié sakrament.
’n Spesiale Andrew Murray-Desmond Tutu-toekenning is aan dr Pieter Fourie, voorheen die uitvoerende hoof van Bybel-Media, oorhandig vir sy unieke bydrae tot die Christelike en kerklike media. Fourie het sy prys opgedra “aan die wonderlike span mense saam met wie hy voorheen gewerk het”.
Spesiale Andrew Murray-toekennings is ook postuum gedoen aan ds Johan Smit vir sy vrugbare geestelike skryfwerk en aan Winnie Rust vir haar skryfwerk wat daartoe bygedra het dat Murray ’n plek in die Afrikaanse literatuur gekry het.
Dr Frits Gaum, voorsitter van die prysfonds, het die aand as ’n uiters spesiale aand bestempel.
Nie net is dit vanjaar Andrew Murray se 100ste sterfdagherdenking nie, maar drie borge van die prysfonds – Bybel-Media, die Christelike Lektuurfonds en die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria – vier ook vanjaar spesiale verjaarsdae, het Gaum gesê. Die Fakulteit Teologie is vanjaar 100, die tydskrif LiG 80 jaar en die Christelike Lektuurfonds 60 jaar oud.
