Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

En die wenners is …

Coenie en Andries

Coenie Burger (links) en Andries Cillers

Die Andrew Murrayprys vir Afrikaanse teologiese boeke is vanjaar gewen deur Coenie Burger en Andries Cilliers vir hulle boek oor die doop, Ontvang wat vir jou gegee is (uitgegee deur Bybel-Media onder Bybelkor-druknaam). Die boek word beskou as verrassend nuut en vars in ons nadenke oor die doop. Volgens die beoordelaars slaag die skrywers daarin om die polemiese aard van vorige Afrikaanse boeke oor die doop te deurbreek. Burger en Cilliers skryf dat die doop, as dit reg verstaan word, juis ’n vereni­gen­de krag tussen denominasies en verskillende ge­loofs­groepe kan wees. Die skrywers sal elk R12 500 en ’n oorkonde ontvang.

 

en Yolande

Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir alge­meen-Christelike en teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, is gewen deur Yolande Korkie vir haar boek, 558 days (uitgegee deur CUM). Korkie vertel in haar boek in detail van die traumatiese ervaring toe sy en haar man, Pierre, in 2013 in Jemen ontvoer en as gyselaars aangehou is. Sy is later vrygelaat maar Pierre is dood toe ’n poging om hom te bevry, skeefgeloop het. Yolande vertel van haar en Pierre se ontnugtering, selfondersoek, vrees en angs – en van hulle geloof in God ten spyte van die tragiese afloop van die verhaal. Die beoordelaars sê die waarde van die boek lê ook in die respek en begrip wat dit tussen Christene en Moslems weerspieël. “Veral in ’n tyd dat ISIS terreur saai en so baie mense neig om alle Moslems oor dieselfde kam te skeer, bied dit ’n nodige per­spektief.” Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys bestaan uit R20 000, ’n trofee en ’n oorkonde.

 

en Lauren

Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, is deur die 32-jarige Lauren Jacobs gewen vir haar boek Yehudit – Chosen by God (uitgegee deur Lux Verbi). Dit is ’n roman oor Yehudit/Judit, ’n vrou uit die Ou-Testamentiese apokriewe geskrifte. Sy word in dié boeiende roman uitgebeeld as ’n kryger van God, ’n vrou wat as regter en vredemaker optree en honderde jare gelede ’n bres vir haar geslagsgenote geslaan het. Die beoordelaars skryf dat “die sterk vroulike karakter ’n uiters belang­rike tema is om te ontgin, en in hierdie boek word dit baie goed gedoen”. Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys bestaan uit R10 000 en ’n oorkonde.

 

en ook nog:

Daar word ook vanjaar deur die Andrew Murray-prysfonds verskeie spesiale toekennings gemaak. Die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek gaan aan Annalise Wiid vir haar unieke bydrae tot ons Christelike musiekskat. Pie­ter Fourie, vorige uitvoerende hoof van Bybel-Media, ontvang ’n Andrew Murray-Desmond Tutu-toekenning, en Johan Smit en Winnie Rust word postuum vereer vir hulle bydraes tot die Afrikaanse Christelike lektuur.      

Die pryse en toekennings word op 5 Mei in Wellington oorhandig. Dit is vanjaar 100 jaar gelede dat Andrew Murray op dié dorp oorlede is, en die oorhandiging van die pryse maak deel uit van die herdenking van Murray se blywende geestelike na­latenskap.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top