Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Etienne Nolte van Ladismith skryf:
Dit is met ’n mate van fatalisme dat ek die artikel in verband met die vestiging van die Gender-eenheid by die Teologiese Fakulteit aan die US gelees het. Met die teologies-liberale rigting waarin die teologiese fakulteit die afgelope paar jaar beweeg het, was ek hierdie stap te wagte.
Die totale inhoud van die artikel en dit waarvoor die Gender-eenheid staan, spreek van ’n wegbeweeg van die Woord van God na ’n gedekonstrueerde kennis wat gedienstig is aan die samelewing buite die Woord van God.
Ongelukkig is die vrug van die boom van sogenaamde gedekoloniseerde kennis nie die vars bries waarvoor dit uitgemaak word nie, maar ’n reuk van ’n bries van die dood tot die dood. Dit verteenwoordig kennis van die boom van kennis van goed en kwaad en die vrug daarvan is die dood. Teenoor hierdie boom staan die boom van die lewe naamlik Christus Jesus in wie ons lewe verborge is en in wie ons ons goddelike waarde vind.
Die Gender-eenheid is niks anders nie as ’n verskoning om onder die vaandel van die beoefening van “teologie”, ’n homoseksuele en lesbiese lewenswyse te bevorder. Natuurlik staan ons almal op grond van die intrinsieke waarde wat ons as skepping van God het, gelyk voor Hom en daarom ook voor en met betrekking tot mekaar. Ons het nie nodig om ons waarde en gelykheid te vind in die erkenning en aanvaarding van alternatiewe lewenswyses nie.
Dit is ’n wanvoorstelling, gebore uit die gees van humanisme wat aangevuur is deur die vloeibaarheid en “ongestruktureerdheid” van post-moderne denke.
Dit is baie duidelik dat daar ’n behoefte is aan alternatiewe opleidingsfasiliteite, wat nie gefundeer is op die siening dat ons die teologie moet beoefen vanuit ’n menslik-bepaalde en gekonstrueerde Godsbeeld nie, maar vanuit die geopenbaarde wil van God soos wat Hy Homself deur die Woord en Gees aan die mens bekend gemaak het.
Ek kan nie anders as om myself te distansieer van die rigting wat die teologiese opleiding aan die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch inslaan nie.
– ’n Kwetsende woord is geskrap. Lees ook die bydrae van prof Juliana Claassens – Red.
