My bruidsboek: ’n Volledige trougids vir die gelowige bruid
Deur Christine Ferreira en Marielle de Vos
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017
Resensie deur Henda Gaum
Hier het ons ’n volledige, omvattende trougids vir die bruid. Dit gee praktiese leiding vir elke aspek van die beplanning van die troue, met ook ’n stap-vir-stap-tydlyn om te help met die opstel van ’n huwelikskontrak, die ontwerp en bedinking van die trourok, skoene, gevolg, blomme, dekor, onthaal, wittebrood … Die skrywers het alles onthou en help die senuagtige bruid (en haar ma!) om ook alles te kan onthou.
By elke “stap” is daar ook ’n Bybelvers vir die gelowige bruid. Hooglied kom dikwels aan die beurt. As dit oor “pragtige grimering” gaan, is die aanknoopvers Hooglied 4:9: “Jou lippe is soos skarlakenrooi lint, jou mond bekoor my”, en as die versorging van die bruid se hande en voete ter sprake kom, is dit Hooglied 7:1: “Jou voete is so mooi in jou skoene”.
Daar is ruim plek vir notas, dikwels asemskepkans met gedagtes om oor na te dink (“Lees meer oor die Bybelse beginsel van ‘verlaat en aankleef’”, en: “Gaan lees weer die verhaal van die 10 diensmeisies in Matt 25. Is jou lampie vol en is jý gereed om jou hemelse Bruidegom te ontmoet?” – bl 182).
Aan die einde van die boek is daar ’n hoofstuk oor die “Seisoene van vrouwees” en word aan die hand van die verhale van Bybelkarakters soos Batseba, Maria, Ragab, Rut en Tamar momente in ’n vrou se lewe bespreek.
Hierdie boek is pragtig versorg: goeie uitleg, glanspapier, uitstekende foto’s deur fotograwe Hanneri de Wet en Marsel Roothman, goed-geskrewe teks deur die outeurs Christine Ferreira, voormalige redakteur van die gedrukte Leef-tydskrif, en Marielle de Vos, ’n pastoor van Randburg.
Soms is die Bybelaanhalings aan die geforseerde kant en word ook nie genoeg rekening gehou met die verskille in persoonlikhede en omstandighede van hedendaagse gelowige bruide nie.
Dit is egter ’n belangrike bydrae om ’n gelowige bruid daaraan te herinner dat elke aspek van haar lewe, ook die stap-vir-stap-beplanning van haar troue sowel as al die ander seisoene van haar vrouwees, in die teken van haar geloof sal staan.