Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter J Pelser van Hermanus skryf:
Dit is met verbasing dat ek die artikel van Albert Alberts gelees het waarin beweer word dat God ewolusie kwansuis sou gebruik het om ons te “skep”.
Verbeel jou: die Almagtige God gebruik kwansuis ‘n rigtinglose toeval om oor miljoene jare die Kroon van Sy skepping die lig te laat sien! Met ander woorde, Genesis 1 se Skeppingsverhaal word tot mite gereduseer. Meer nog: God se onfeilbare Woord word afgegradeer tot die status van ʼn feëverhaal gelykstaande aan Alice in Wonderland.
Maar wat sê dr Colin Patterson, die afgetrede hoof van die Britse Kultuurhistoriese Museum in verband met bostaande geloof? Met die miljoene fossiele tot sy beskikking, verklaar hy soos volg: “I woke up one morning with the sudden realization that, after 20 years I did not know one thing about evolution that was true.” Toe hy kort daarna die spreker was by ʼn kongres van uitgelese evolusioniste in Chicago, was sy vraag aan hulle: “Is there anyone here who can tell me any one thing about evolution that is true?”
‘n Doodse stilte het gevolg, en ná ‘n onhoudbare stilte het iemand gesê: “All that I know is that it ought not to be taught in our schools.”
‘n Top Amerikaanse wetenskaplike, dr Luther Sunderland, het in 1979 opnames gemaak van sy onderhoude met die vyf hoofde van die grootste museumversamelings van fossiele in die hele wêreld. Sy publikasie met die titel Darwin’s Enigma (wat ek besit) dokumenteer sy bevindinge. En wat bevestig dit? Dat ewolusie nog nooit plaasgevind het nie.
My eie 66 jaar se bestudering in verband met hierdie saak dwing my tot die gevolgtrekking dat die ewolusie-paradigma dood gebore is. Dit het nog nooit plaasgevind nie, en sal nooit bewys kan word nie.
Waarom dan die gevleuelde Woorde van Genesis 1 verruil vir ‘n pot lensiesop? Nee: “In die begin hét God die hemele en die aarde gemaak … en God hét die mens gemaak na Sy beeld.” Ware wetenskap onderskryf hierdie stelling, maar omdat evolusioniste die “mikrofoon” het tot uitsluiting van die waarheid, gaan ons samelewing mank aan ʼn verklaring oor ons herkoms wat strook met onbevooroordeelde wetenskap.
Albert, ek het iets beters van jou verwag.
