Leeg – God se troos na swangerskapverlies of miskraam
Deur Marlena du Toit, Braam Klopper en Justine Pike
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017
Resensie deur Hetta van Niekerk
Hierdie boek sou ek graag jare gelede aan ’n spesifieke persoon wou gegee het. Sy en haar man – twee diep-gelowige professionele mense – is reeds vroeg in haar tweede swangerskap met ’n miskraam gekonfronteer. Terwyl haar man met rasionalisering gereageer het, was sy emosioneel verpletter op ’n eensame plek.
Leeg gee ’n perspektief op miskraam en stilgeboorte om so hoop aan ouers te bring wat daardeur geraak is. Hoewel vrae soms onbeantwoord bly, is een antwoord seker: Die rede waarom so iets gebeur, is nie omdat die Here daarmee die een of ander punt wil maak deur ouers se ongebore baba te “neem” nie.
Dit kan gewoon nie, want God is liefde. Die troos is eerder dat God saam met gebroke ouers in hierdie dal van doodskaduwee is, soos dit ook met verskeie Skrifaanhalings in die boek bevestig word.
In Leeg is daar drie invalshoeke: Marlena du Toit is ’n ginekoloog en verloskundige, Braam Klopper ’n predikant en pastorale berader, en Justine Pike ’n pastoor wat self ’n baba na ’n swangerskap van sewe weke verloor het.
Marlena maak die mediese feite oor swangerskapverlies toeganklik deur mediese terme en tegniese prosedures in gewone taal te verduidelik. Soos Justine Pike se hartroerende verhaal, plaas die stories van drie ander mense – Lizette, Réchelle en Annemarie – die leser midde-in die intensiteit van die seer wat gesinne kan beleef tydens so ’n traumatiese gebeurtenis. Braam Klopper hanteer met deernis die emosionele en geestelike prosesse wat met rou gepaard gaan. In die laaste deel van die boek is ’n gids van beskikbare instansies en persone vir gespesialiseerde hulpverlening.
Uit ’n mediese oogpunt is daar verskeie faktore wat met swangerskapkomplikasies en -verlies verband hou. Maar Marlena du Toit bied ook duidelike riglyne vir die pad vorentoe. “’n Swangerskap duur maar gemiddeld 280 dae. Jou kinders is ’n seën (en uitdaging) vir die res van jou lewe,” herinner sy. Soos Justine Pike sê: Daar kom ’n tyd om die trauma in sy gesig te kyk en te besluit dat dit nie langer so kan aangaan nie. Braam Klopper begelei treurende ouers deur vyf routake met hulle deur te werk.
Ons huidige “argaïese” wetgewing bepaal dat ’n fetus eers vanaf 26 weke lewensvatbaar is en ’n doodsertifikaat kan tegnies eers uitgereik word indien ’n swangerskapverlies hierna gebeur. Hierdie wet tas nie net die waardigheid en integriteit van ’n fetus jonger as 26 weke aan nie; dit bemoeilik ook die betrokke gesinne se rouproses aangesien ’n begrafnis of verassing as betekenisvolle ritueel, nie vir hulle beskore is nie. Die organisasie The Voice of the Unborn Child voer tans ’n regstryd om hierdie diskriminerende wetgewing gewysig te kry.
Emma se ouers steek ’n kers vir hulle kindjie op wat na sewe weke van voorgeboortelike ontwikkeling solank hemel toe is. Haar naam is op die kers. Tietmantolie en Appelkosie kry ook elkeen ’n kers. Tietmantolie was 10 weke aan die ontwikkel en Appelkosie 22 weke toe hulle gebrokenheid vir volmaaktheid verruil het. In Leeg bevestig die ouers van hierdie kinders hulle verlangende verwagting om eendag almal as gesinne bymekaar te wees.
Wat ’n besondere en nodige boek!
▶ Dr Hetta van Niekerk is ’n opvoedkundige sielkundige in privaat praktyk.