Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die jagters mors koeëls

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Cornelia de Kok van Stellenbosch skryf:

Die jagseisoen is oop. In die visier die Gatjieponnerbok. ’n Geruime tyd reeds vlieg die koeëls links en regs by hierdie bok verby.

Die jagters bly maar dieselfde ou spulletjie. Vandat die klein bokkies nie meer by die bokherders van die “groen weivelde” mag leer nie, het die jagters nuwe moed geskep: op die horison wag dalk ’n veldslag wat hulle kan wen.

Hulle skryf selfs dat die Gatjieponnerbok bollema­kiesie geslaan het – hulle stel dit nou nie só eufe­misties nie. Dis nou omdat die eienaar van die wild­plaas eers gesê het die ooitjies mag maar net saam met ooi­tjies wei en die rammetjies kan ook maar net saam met rammetjies in die kamp bly. Toe keer die eienaar sy besluit om en nou jeuk die jagtervingers om die snellers.

Die jagters mors in werklikheid net hul koeëls. Was dit nie Takbok, die ouer broer van Gatjieponnerbok wat 95 keer met sy gewei teen ’n kerkdeur gestamp het nie? Takbok se nasate het groot, groot foute gemaak en grudade gepleeg, maar vandag, 500 jaar later, vier hulle saam met die herders op die “ope velde” ’n groot fees.

Gatjieponnerbok se voorsate is al 352 jaar hier. Vir die weesbokkies en stokou ramme en ooie het hulle landswyd stalle gebou. Jonkerbok, Willie, het namens al die wit bokke sy kop in skaamte laat sak en die swart bokke wat só lank alleen moes wei, om verskoning gevra.

Gatjieponnerbok loop steeds “met voete soos die van ’n ribbok op hoë plekke en staan stewig”. Hier onder “woelt alles onveranderd”, maar bo die wolke is die groot Veearts wat hom “bewaar, vernuwe en inspireer”.

Aan die Veearts se regterhand hou sy Seun hierdie ou sondebok “in stand en al die jagterswoede is vergeefs”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top