Die tyd is nou ryp vir goeie gesprekke tussen gemeentes en ringe van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika oor hoe groter eenheid tussen hulle bewerkstellig kan word.
Dit het duidelik geblyk op ’n vergadering in Kemptonpark waarheen sinodale en algemene sinodale leiers van albei dié kerke onlangs genooi is. Die vergadering is belê om koppe bymekaar te sit oor hoe die geleentheid benut kan word wat oopgegaan het deur die aanvaarding van die Tussenorde deur die twee kerke se algemene sinodes.
Die Tussenorde werk soos ’n kerkorde tussen die twee kerke. Dit maak dit kerkregtelik moontlik vir gemeentes, ringe en sinodes om eenheidstrukture tussen bestaande gemeentes, ringe en sinodes tot stand te bring. Die Tussenorde maak dit byvoorbeeld moontlik dat ’n NG gemeente en ’n VGKSA-gemeente saam as een gemeente kan funksioneer en saam bindende besluite kan neem, terwyl die oorspronklike regspersone bly voortbestaan.
In praktiese terme beteken dit dat kerkeenheid, die ideaal waartoe albei kerke hulle al herhaaldelik verbind het, nou van gemeentevlak af kan groei. Die Tussenorde stel die visie dat daar hieruit een nuwe kerk sal groei. Hieroor, sê ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, praat die Tussenorde in geestelike taal.
Ds Pieter Grove, Kaapse moderator van die VGKSA, het by die vergadering gesê hulle benadering is nou nie meer dat die NG Kerk eers Belhar moet aanvaar voordat daar eenheid kan kom nie, maar dat die eenheidsproses moet uitloop op die aanvaarding van Belhar.
Uit die vergadering was dit duidelik dat die eenheid wat nou tussen gemeentes, ringe en sinodes kan groei, op goeie verhoudinge gebou moet word. Daarom is daar baie klem gelê daarop dat daar goeie gesprekke moet wees waarin mense respekvol na mekaar moet luister en mekaar se stories moet leer ken.

By die vergadering is daar selfs ’n oefening gedoen waarin verteenwoordigers van die twee kerke een-tot-een met mekaar kon gesels en na mekaar kon luister.
Een van die gedagtes uit die vergadering was dat die sinodale leiers die gemeentes en ringe in hulle gebiede moet help om sulke gesprekke te voer. Daar was selfs ’n gedagte dat sinodes fasiliteerders oplei om sulke gesprekke te begelei.
Omdat die oprigting van eenheidstrukture egter ook ’n kerkregtelike komponent het, was die gedagte daar dat ’n geleentheid georganiseer word waarheen die aktuariusse van die onderskeie sinodes van die twee kerke genooi word. By so ’n geleentheid sou die aktuariusse dan die Tussenorde saam kon deurwerk sodat hulle op die hoogte is van presies hoe dit in werking gestel kan word. Hulle sou dan die gemeentes en ringe in hulle sinodale gebiede met hierdie kundigheid kon bystaan.
Dit sou twee gemeentes van die onderskeie kerke wat wil een word, kon help om dit op die korrekte kerkordelike wyse te doen, sodat al die betrokke partye veilig kan voel in die proses.
Janse van Rensburg het by navraag gesê daar is gemeentes waar daar reeds sterk verhoudinge gebou is. In sulke gemeentes kan daar nou gepraat word oor eenheidstrukture tussen hulle.
Verder is daar ook ringe van die NG Kerk en die VGKSA wat al nou saamwerk. As sulke samewerking nie tot groter eenheid lei nie, ly die verhouding dikwels skade. Die Tussenorde maak nou groter eenheid moontlik.
Janse van Rensburg wys ook daarop dat dit vir baie gemeentes moeilik geword het om op hul eie ’n bediening in stand te hou. Waar twee sulke gemeentes van onderskeidelik die NG Kerk en die VGKSA in dieselfde omgewing egter saamwerk, kan dit vir hulle moontlik word om saam nuwe bedienings te ontwikkel. Daar is baie sulke voorbeelde, sê Janse van Rensburg.
Hy meen dat die ringe in die beste posisie is om momentum aan die proses te verleen, omdat hulle die plaaslike omstandighede van hulle onderskeie gemeentes ken.
– Lees ook wat prof Leepo Modise skryf.
