Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor grense heen vat mense van Potchefstroom hande en bid vir hulle stad. Foto’s verskaf

As die Here ingryp, lyk dit anders

“So die Here iets oorneem, lyk dit anders as wanneer ons iets probeer doen.”

So gesels ds Willem Louw van die NG gemeente Miederpark oor die Dis Tyd-byeenkoms wat Potchefstroom op 17 September gehou het.

Voorheen, sê Willem, met die Global Day of Prayer, het hulle meer as ’n 1 000 mense byeen gekry. ’n Ander keer het so 500 mense saam kom bid. Maar eintlik wou niks van die grond af kom nie. Almal het hulle eie agendas gehad.

Die storie van Potch se Dis Tyd begin eintlik vyf maande vroeër, toe die It’s Time-byeenkoms buite Bloem­fontein mense van reg oor die land getrek het. Willem kon nie self daar wees nie. Van hulle gemeente se lidmate het egter die Sondagaand in die kerk daaroor getuig.

Dié Maandagoggend in sy stiltetyd druk die Here dit vir Willem op die hart dat hy al die leraars op Potch bymekaar moet kry. “Toe maak ek soos Jona, ek sê: ‘nee, dankie,’” vertel Willem.

Hy het nie kans gesien daarvoor nie. Maar die Here het hom nie uitgelos nie. Later het hy vir die Here gesê hy sal ’n WhatsApp-boodskap uitstuur, maar dan moet die Here self oorneem.

Twee weke later daag daar toe 35 Christelike leiers van uiteenlopende denominasies, kleure en kulture op. Toe hulle Willem se storie hoor, was hulle diep ge­raak en het hom gevra om ’n stuurkomitee byeen te bring.

Nog drie weke later besluit die stad se Christelike leiers hulle wil saamwerk, dat die samewerking vol­hou­baar en inklusief moet wees en ’n impak op die stad moet hê. Die doel moes ’n herlewing wees wat die stad moet help verander.

Ds Willem Louw (regs) saam met mnr Graham Power, een van die sprekers by Potchefstroom se Dis Tyd-saamtrek.

Daar is ’n verbintenis oor kerkgrense gesluit. Saam het hulle ’n geestelike verdieping beleef en vir mekaar gesê dat daar iets gebeur het wat nog nooit tevore in Potch gebeur het nie.

Willem het ’n sakemanvriend daarvan vertel en dié se reaksie was dat dit van God af kom. Kort voor lank het die voorsitter van die sakekamer gesê die sakemanne van Potchefstroom wil deel wees van wat hier ge­beur. Daarna het die nie-regeringsorganisasie Touch­ing Africa se hele direksie gesê God is hier aan die werk – en hulle het deel geword van die stroom.

Dis toe dat daar besluit is om 40 dae later op Olënpark, die grootste stadion op Potchefstroom, ’n saam­trek te hou.

In ’n stadium het hulle besef hulle moet geakkre­di­teerde veiligheidswagte hê. Dit het vergesog geklink om Potchefstroom se nege veiligheidsmaatskappye te vra – hulle is immers mededingers – maar, het iemand gesê, as die Here die dominees kon saambring, kan Hy dit seker met die veiligheidsmense ook doen. En Hy het. Almal het sonder vergoeding saamgewerk.

“Kyk wat het die Here reggekry,” sê Willem, en hy noem die lysie op van mense wat almal saamgewerk het: kerkleiers, sakeleiers, nie-regeringsorganisasies, opleidingsinstansies, die stadsraad, polisie, weermag.

Op Sondagmiddag 17 September was daar meer as 5 000 mense van verskillende tale en kulture en kerke byeen. Saam met hulle kerkleiers het hulle verklaar dat Jesus die Here is op Potchefstroom.

Die Potchefstromers het verklaar dat hulle deel is van ’n gebroke wêreld, maar dat Jesus Christus gekom het om dit te heel; dat hulle, soos Jesus in Johannes 17 gebid het, een moet wees; dat hulle die beginsels van God se Woord moet uitleef; dat hulle daarom sal werk vir beter verhoudinge en samewerking tussen die kerke.

In ’n deel wat aan Franciskus van Assisi herinner, het almal onderneem dat waar daar haat en rassisme is, sal hulle mekaar liefhê; waar daar korrupsie is, sal hulle dit teenstaan en vlekkeloos leef; waar mense mekaar slegsê, sal hulle positief praat; waar mense uitge­buit en verniel word, sal hulle mense behandel as kin­ders van God en sal hulle strewe na gelyke geleenthede vir almal.

Die kerke het beloof om uitnodigende, versorgende en liefdevolle gemeenskappe te wees. Waar God hulle seën, sal hulle ’n seën vir ander wees. Waar daar nood is, sal hulle help. En as liggaam van Christus sal hulle vir mekaar en vir die stad bid.

Willem is nie seker wat verder voorlê nie, maar hy is ook nie gespanne daaroor nie. Die Here is immers in beheer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top