Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mnr Hennie Marais met die uitgawe van die Bybel wat hy graag versprei. Voor lê twee van die Nuwe Testamente wat hy saam met die Gideons by skole geplaas het. Foto: Neels Jackson

Op 93 versprei Hennie nog Bybels

“Please sir, I need a Bible.”

Op 93 word mnr Hennie Marais van Pretoria steeds deur hierdie woorde aangespoor om Bybels te bring aan diegene wat nie het nie. Jare gelede het hy dié versoek van ’n man in Zimbabwe gehoor. Later het dieselfde versoek gekom in briefies van gr 5-leerlinge in ’n skool in Bloemfontein.

Marais was ’n suksesvolle ouditeur en sakeman. As lid van die Gideons was hy betrokke by die verspreiding van Bybels. Maar dit was in 2006, in die jaar dat hy 82 geword het, dat die roeping op ’n besondere manier na hom gekom het.

Ná ’n motorongeluk was hy agt weke lank buite aksie. In dié tyd het hy baie in sy Bybel gelees. Dit was toe dat hy gevoel het die Here sê vir hom: “Gaan en verkondig …”

Preek soos ’n dominee kon hy nie, het hy gedink, maar hy kon Bybels uitdeel. Hy kon antwoord op die nood wat hy by die Zimbabwiese man gehoor het.

In 2008 het hy met ’n reeks “sendingreise” kruis en dwars oor Suid-Afrika en later ook na Namibië toe begin. Aanvanklik het hy Bybels by die Bybelgenootskap gekoop, dit in sy motor gelaai en dit by skole gaan uitdeel.

Later het hy agtergekom die Bybelgenootskap kan die Bybels laat aflewer. Toe het hy by die skole stilgehou, die behoefte gepeil en bestellings geplaas.

Presies hoeveel Bybels hy op dié manier versprei het, kan hy nie sê nie, maar hy praat van baie honderdduisende. Hy wil ook nie sê hoeveel miljoene rande dit hom gekos het nie, want dit klink te veel na spog.

Hoekom doen hy dit?

Sy stem raak aangedaan as hy begin sê hoe goed die Here vir hom was. Soos soveel dankbare gelowiges deur die eeue, voel hy dat hy nie die genade wat hy ontvang het, vir homself kan hou nie. Hy moet dit verder aangee.

Daarom is Hennie Marais op 93 steeds besig om Bybels in behoeftige mense se hande te plaas. Hy kan nie meer soveel daaraan bestee soos vroeër nie. Daarom probeer hy nou om die Bybels te verkoop – wel teen heelwat minder as die aankoopprys.

Hy is gefrustreerd dat armes wat dit nodig het, selfs teen die verlaagde prys sukkel om dit te bekostig. Maar hy sal voortgaan om te doen wat hy kan, totdat hy sy kop neerlê.

’n Mens is nooit te oud om geroep en gestuur te word nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top