Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Doornkloof se kerkgebou word gebruik om huishul­pe en tuinwerkers wenke oor veiligheid te gee. Foto verskaf

Doornkloof se ‘straatgeloof’

Dit is die verhaal van ’n moord wat ’n gemeenskap geruk het, maar ook van saamstaan, van deernis oor grense heen en van ’n nuwe soort omgee wat mense ontroer het.

Dié gebeure het onlangs afgespeel in Doornkloof, ’n woonbuurt in Centurion. Vroeër was dit ’n wit woon­buurt, maar deesdae bly al meer mense van verskillende kleure daar.

Op 24 Mei is Josephine Lekgoathi, ’n huishulp, op die sypaadjie in die buurt met ’n mes doodgesteek.

Die Doornkloof-inwonersvereniging – wat deur sy voorsitter, Iaan van Niekerk, bestempel word as ’n markpleinbediening – besluit toe om ’n geleentheid te reël om met tuinwerkers en huishulpe in die gemeenskap oor hulle veiligheid te praat.

Ds Anandie Greyling van die NG gemeente Doorn­kloof, wat by die inwonersvereniging betrokke is, bied toe aan dat die vergadering by hulle kerk gehou kan word. Tot hulle verbasing daag daar toe 170 mense op.

Daar het hulle wenke gekry soos om in groepe saam te stap en om nie in die openbaar met hulle sel­fone te loop nie. En hulle het die boodskap gekry dat die gemeenskap vir hulle omgee.

Teen die einde van die vergadering sê ’n vriendin van Josephine dat hulle ’n kruis wil gaan plant waar Josephine dood is. Anandie en lede van die inwonersvereniging is saam. Saam het hulle gesing en gebid.

Anandie sê sy het gewonder hoe die plaaslike in­wo­ners gaan reageer op dié gedoente op hulle sy­paadjie, maar sy was verniet benoud. Toe hulle sukkel om die kruis geplant te kry, het ’n man uit een huis ’n graaf gebring om te help. Uit ’n ander huis het iemand plastiekkabeltjies gebring om die kruis vas te bind.

Later het sy gehoor hoedat van die inwoners soggens vir huishulpe wat in die straat afstap, saamry­geleenthede aanbied om te verseker dat hulle veilig is.

Iaan sê die veiligheidsgroep van die inwonersver­eniging doen soggens van 5:00 tot 7:00 patrolliediens. Hulle probeer spesifiek seker maak dat mense wat alleen in die strate stap, veilig sal wees.

Anandie sê Doornkloof se NG gemeente het vroeër al begin om wyer as net wit, Afrikaanse lidmate te bedien. Hulle het ’n Engelse diens wat deur onder andere Malawiërs en Zimbabwiërs bygewoon word. Wit, swart en Indiër kom daar byeen.

Die Afrikaanse en Engelse dienste word ook so ge­reël dat mense wat die verskillende dienste bywoon, Son­dagoggende saam kan tee drink.

Daar is ’n voedingskema wat weeksoggende vir sowat 120 mense brood en tee gee.

Maar sy het ook gesien dat die inwonersvereniging vir mense omgee op maniere wat haar laat voel dat dit wat hulle doen, ook eintlik kerk is.

Iaanvroeër was die kerke die samebindende faktor in gemeenskappe, maar dit het weggeval. Nou speel die inwonersvereniging daardie rol. Die kern van hulle werk gaan oor veiligheid, maar daar is ’n omgeegroep wat nuwe inwoners en siekes besoek en van wie lede by Doornkloof-gemeente se voedingskema help, al is hulle nie lidmate daar nie. Daar is ge­beds­groepe, sportgroepe, besigheidsgroepe.

Hulle het 15 tot 20 verskillende WhatsApp-groepe wat vir skakeling sorg.

By Doornkloof-gemeente het hulle ’n oop deur gekry. Hy voorsien dat die samewerking nog groter sal word.

Anandie sê die inwonersvereniging se werk pas mooi by hulle gemeente se visie van straatgeloof.

Sy dink terug daaraan dat hulle as studente geleer het dat hulle moet uitvind waar die Heilige Gees besig is om te werk en daarby aansluiting vind.

In die reaksie op die moord in Doornkloof, in die samewerking tussen die gemeente en die inwonersvereniging, in die manier wat daar vir mekaar omgegee en gesorg word, sien sy iets daarvan gebeur.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top