Hoe lyk intergodsdienstige samewerking met die oog op transformasie?
Só vra prof Klippies Kritzinger tydens die eerste werkwinkel van die Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures (CIAS) wat in Stellenbosch gehou is. Kritzinger se praatjie het oor gesaghebbende Skrifte en transformasie gehandel. (Lees ook CIAS gee eerste treë.)
Kritzinger het gevra hóé die navorsing wat CIAS doen tot intergodsdienstige samewerking, om transformasie te bevorder, in die praktyk gaan lei.
Kritzinger het by navraag oor sy teorie vanuit ’n Christelike perspektief uitgebrei oor hoe gelowiges van verskillende en diverse geloofsgemeenskappe saam transformasie kan nastreef. Hy verduidelik: “As ’n Christelike geloofsgemeenskap behoort ’n gemeente in die eerste plek hulle diep in die boodskap en verhale van die Bybel gewortel te hou. Hulle moet deur al hulle aktiwiteite byvoorbeeld die manier van aanbidding, die beplanning en met die begroting op hul medemense ingestel wees. Die geloofsgemeenskap moet in die stroom van die Jesusbeweging, wat die Heilige Gees aan die gang sit, transformasie nastreef.
“Terselfdertyd behoort hulle ook hulle vlerke te sprei en met gemak sáám met mense wat van hulle verskil, saam te leef. Dit sluit ook mense van ander godsdienste in. Hoe dieper ons wortels in Christus groei, hoe sterker word ons vlerke en die omgekeerde. Wanneer ’n gemeente hulle wortels en hulle vleuels tegelyk met ewe veel toewyding en vreugde beaam en bevorder, groei hulle in geloofsvolwassenheid,” sê Kritzinger.
Kritzinger stel drie maniere voor wat geloofsgemeenskappe kan help om transformasie in intergodsdienstige kontekste te bevorder.
“’n Lewenshouding van geloofsvolwassenheid maak ons bereid om eerstens skouer-aan-skouer met mense van ander godsdienste saam te werk. Dié tipe samewerking is vir die beswil van die breër gemeenskap. Wanneer ons sáám aan die sosiale, ekonomiese en politieke probleme kan werk, laat dit ruimte vir transformasie. Dié intergodsdienstige samewerking is vir die koms van God se ryk van vrede, liefde, geregtigheid en wedersydse respek.
“Wanneer ons daaraan gewoond raak om in die breër gemeenskap saam te werk, dan ontstaan daar ook geleenthede om saam te ontspan. Dít is wanneer ons tweedens van aangesig-tot-aangesig met mekaar kan praat. Gelowiges moet met mekaar deel wat elkeen van hul eie geloof motiveer, dra en lei in die uitlewing van ons verskillende vorme van geloof. Dit beteken ook om wedersyds teenoor mekaar te getuig oor wat ons glo en hoe dit aan ons lewe rigting en vreugde gee.
“Derdens beteken só ’n lewenshouding dat ons rug-teen-rug getrou bly teenoor mekaar. Wanneer daar die wedersydse vertroue wat ons sáám opgebou het heers, moet daar in elkeen se eie geloofskonteks met lojaliteit teenoor die ander opgetree word. Ons kán dan nie meer agter mekaar se rûe in ons preke of kategesemateriaal onwaarhede of halwe waarhede oor mekaar se godsdienste versprei nie,” sê Kritzinger.
Kritzinger stel voor dat gelowiges van verskillende gelowe met die oog op transformasie moet saamwerk. Hy sê Joodse, Islamitiese en Christelike gelowiges moet mekaar se onderskeie waardige teologieë ondersoek en evalueer om sodoende intergodsdienstige verhoudinge te bou en transformasie in Suid-Afrika na te streef.
