Post-hofsaak … heling, genesing en versoening

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prop Hennie Pienaar van George skryf per e-pos:

Na aanleiding en met waardering van André Bartlett se positiewe en simpatieke brief oor wat die kerk nou te doen staan met betrekking tot veral hulle gay lidmate na die hofuitspraak het ek oor die volgende gewonder:

Nóg gesprekke? Nóg verskonings? Nóg luister? Is dit regtig wat wéér moet gebeur vir gays in die kerk?

Ek dink nie so nie!

Woorde wat nie tot dade lei nie be­teken niks meer nie, en vir my as ’n gay gelowige in die NGK is al die woorde en verskonings net hol.

Iets DAADwerkliks moet gebeur vir heling, genesing en versoening.

Dié is onder andere waaroor ek wonder: Wat van as daar op elke moderamen, streeks- sowel as op sinodale vlak, ’n gay persoon dien?

Wat van indien daar op elke kommissie van dit en van dat ’n gay persoon dien? Wat van indien daar ten minste een gay persoon ’n predikant kan wees in ’n gemeente van twee of meer predikante? Wat van indien daar ’n gay persoon op elke kerkraad dien? Wat daar­van indien gay persone gen­der-sensitiewe klasse tydens katkisasie aanbied? Wat van die Algemene Sinode borg be­kwame gay lidmate om gemeentes te besoek met die opdrag om leiers in die gemeente te begelei en op te lei aan­gaan­de genderdiversiteit en -sensitiwiteit? Ens, ens.

Sulke gay lidmate kan vroulik en of manlik wees. Hulle opdrag sal hoofsaaklik wees om te konsulteer, fyn te luister en advies te gee en seker te maak dat besluite wat geneem word, gender-inklusief en gender-sensitief is.

Heteroseksueles in die kerk het nou die leiding van hulle gay lidmate nodig. Dít moet erken word en gay lidmate moet gevra word om te help. Die kerk moet die nodige infrastruktuur bied om dié hulp moontlik te maak.

Die fyner detail van die ‘hoe’ kan altyd uitgewerk word, die PUNT is, begin doen en hou op praat!