16 Maart 1928 – 19 Junie 2016
Ds Jacob Christian Vermeulen (BA, MA, Theol Drs (Amsterdam) is op 16 Maart 1928 gebore op Reebokskraal, ’n groot druiweplaas naby Worcester. Sy vader was Jacob Johan Casper Vermeulen en sy moeder Susanna Catharina le Roux. Japie begin sy skoolopleiding in 1934 by die plaasskool by De Wet en later aan die Laerskool Worcester. In 1942 word hy leerling aan die Hoër Jongenskool op Worcester, waar hy in 1945 matrikuleer. Op ’n jong leeftyd word hy so diep geraak deur die werksmense se omstandighede op die plase dat hy dit as ’n roeping beleef om sy lewe daaraan te wy om hulle omstandighede te verbeter. Oor sy besluit om predikant te word sou Japie later skertsend opmerk: “My broers het die plaas gekry, en ek my geleerdheid.”
In 1947 vertrek Japie na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en ook in 1950 die Honneursgraad in Filosofie. Hy was student aan die Teologiese Seminarium en Japie word aan die einde van 1953 as proponent gelegitimeer. Prop JC Vermeulen word op 11 November 1954 in die NGKA Standerton met handoplegging ontvang en bevestig. Hier werk hy met oorgawe, ontmoet sy toekomstige vrou, mej Marié Erasmus, en trou op 27 Maart 1956. Uit die huwelik is vyf kinders gebore. Drie seuns: Jacob, Johannes en Pieter en twee dogters: Annatjie en Susan. Saam het ds Japie en Marie Vermeulen diep spore in die koninkryk getrap, daarvan getuig die goeie werk wat hulle in gemeentes gedoen het.
Op 14 April 1956 word ds Japie bevestig in die NG Sendingkerk Uitenhage. Hier word in sy tyd ’n nuwe skoolgebou opgerig. In die winter van 1961 word hy sendeling in die uitgestrekte gemeente Brandvlei, waar hy weer sorg dat ’n nuwe skoolgebou en ook ’n pastorie gebou word. In 1963 vertrek ds Japie en Marié met hulle gesin na Nederland, waar Japie aan die Universiteit van Amsterdam studeer en in 1966 sy doktorale eksamen met lof voltooi.
’n Beroep na die NG Gemeente Horison in Roodepoort, bring hulle terug na Suid-Afrika waar hy op 4 Desember 1966 bevestig word. Hy geniet die bediening in die Moederkerk, maar die politieke strominge in die tyd maak sy oë oop vir die pyn wat die Groepsgebiedewet in Pretoria en omstreke bring. Toe hy in 1970 ’n beroep ontvang na die NG Sendinggemeente Pretoria, het ds Japie dit sonder huiwering aanvaar. Hy word op 10 Oktober 1970 in die gemeente bevestig, waar hy tot met die aanvaarding van sy emeritaat werk. Die destydse Groepsgebiedewet het bepaal dat alle bruinmense vanuit die groter Pretoria hervestig moet word in “Eersterust”, wat as nuwe bruinwoonbuurt ontwikkel word.
Hieroor skryf Beeld op 19 Mei 1988, wat hulde bring aan die groot werk wat ds Japie Erasmus gedoen het. “Aan die een kant die heftige beswaar van blankes wat nie ’n bruinwoonbuurt ‘op hulle voorstoep’ wil hê nie. Aan die ander kant die pyn, vernedering en woede van die inwoners van Eersterust oor die verwerping. Bo alles die gevoel van magteloosheid omdat mense van buite weer die lot van die mense binne Eersterust wil bepaal.” Met wysheid en insig het hierdie man van God opgetree in koninkryksdiens, sodat die blankes en bruinmense hom vir sy eerlike en opregte hantering van elke krisis respekteer het. In die onstuimige 1970’s en 80’s het ds Japie en Marié hulle hart en siel vir Eersterust gegee. Hulle was bereid om moue op te rol en daar het ’n pastorie asook ’n kerksaal verrys. Na ’n skof van 23 jaar, aanvaar ds Japie Vermeulen op 27 Maart 1994 sy emeritaat. Hierna vestig die egpaar hulle in La Montagne te Pretoria. Hierdie toegewyde sendeling sterf op 19 Junie 2016 en word onthou vir sy deernis en omgee vir afvlerkmense.
Dr Jan du Preez, emeritusleraar van Pretoria skryf: “Die gemeente Eersterust kon afskeid neem van ’n waardige en geliefde dienskneg van die Here vir wie niks ooit te veel was nie. Marié, wat ’n leeftyd met hom gedeel het, getuig dat Japie ’n goeie eggenoot en vader was. Hy was ’n perfeksionis en dit was die een groot rede waarom hy nooit sy doktorsgraad voltooi het nie. In Japie was daar ’n passie vir geregtigheid en ’n diepe hartseer oor die onreg wat apartheid aan mense gedoen het.” – Dr Gerdrie van der Merwe, VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2018 verskyn.