14 April 1931 – 9 Oktober 2017
Prof Bethel Anthonie Müller (BSc, DTh) is op 14 April 1931 gebore op die plaas Melkhout Essenbos in die distrik Herbertsdale. Hy is die jongste van vyf kinders, terwyl sy ouers reeds twee kinders aan die dood afgegee het. Bethel is twee maande te vroeg gebore en almal het gedink die seuntjie kan nie leef nie. Sy ouers het hom in ’n skoendoos geplaas en die nag voor die Agastoof gehou omdat die kombuis die warmste plek in die plaashuis was. Hy het die volgende dag nog geleef en het nie gesterf nie omdat hy ’n leeftyd moes werk in diens van die Meester. Sy vader was Anthony Müller, ’n ouderling wat die wel en wee van die plaaslike gemeente op sy hart gedra het. Met die bou van ’n eie kerkgebou op Herbertsdale, dien hy op die boukommissie waar hy ’n leidende rol speel. Sy moeder was Cathy, ’n Godvresende vrou, wat haar man en kinders met liefde en oorgawe versorg het.
Bethel ontvang sy eerste skoolopleiding in ’n plaasskool in die distrik en later te Herbertsdale. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Punt te Mosselbaai waar hy uitstekend akademies presteer, maar besluit om te gaan boer. Tydens sy skooljare aan die Punt is ds Dawid de Villiers predikant van die NG Gemeente Mosselbaai. Later sou hulle paaie weer kruis op Stellenbosch, waar hulle saam dosente is aan die Profeteskool in die Eikestad.
Na skool kon Bethel nie gaan boer nie, want sy broers het reeds op die beskikbare grond by Herbertsdale geboer. Hy besluit om die BSc-graad in Ingenieurswese te volg aan die Universiteit van Kaapstad, ’n kursus wat Stellenbosch nie aangebied het nie. Daar wag ’n blink toekoms in die rigting, maar die Here roep hom vir die evangeliebediening. Nadat hy Grieks en Hebreeus bemeester het, word hy toegelaat tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch op die walle van die Eersterivier. Hy neem intens deel aan die studentelewe op die Akker en hy speel ’n groot rol in die Berg- en Toerklub en bly oor dekades lank ’n geliefde BTK-deelnemer op Stellenbosch. Hier ontmoet hy sy toekomstige lewensmaat Helen Eksteen, met wie hy in 1957 getroud is.
Bethel en Helen vertrek na Amsterdam in Nederland, waar hy verder studeer en doktoreer in die Teologie. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika word hy in 1961 as proponent gelegitimeer. Prop BA Müller ontvang ’n beroep na die NG Moedergemeente George, waar hy op 3 Februarie 1962 met handoplegging ontvang en bevestig word. Dit was ’n groot oomblik vir Anthony en Cathy Müller, toe hulle seun sy intreepreek vanaf die bekende kansel in die geskiedkundige kerkgebou op George lewer. Intussen studeer die jong ds Bethel Müller verder en verwerf sy doktorsgraad in prediking in Nederland. In 1965 word ds BA Müller beroep as studenteleraar na die NG Gemeente Stellenbosch-Sentraal te Stellenbosch. Met sy innemende geaardheid en opregte belangstelling in mense, is hy gou geliefd onder studente en speel ’n besondere rol op kerklike terrein op die Akker.
Op 19 Februarie 1970 word dr BA Müller bevestig as senior lektor in Diakonologie aan die Kweekskool op Stellenbosch. Hy speel ’n enorme rol op voetsoolvlak onder studente en is ook inwonende hoof van die Stellenbosse koshuis Dagbreek, waar hy en sy vrou Helen met hulle opregte omgee en liefde diep spore trap.
Ds Bekker Nieuwoudt, leraar van die NG Strooidakkerk skryf: “My eerste ontmoeting met oom Bethel was toe ek as ’n verwarde eerstejaar in Dagbreek op soek was na seksie twee. Ek het oom Bethel gesien waar hy in die squad die krismisrose voor seksie een natgespuit het. Ek het gedink hy is die tuinman. Ek vra toe vir hom: ‘Ken jy hierdie plek? Is jy die tuinman?’ Hy het my effe geamuseerd aangekyk en gesê: ‘Ja, ek is eintlik die tuinman. Maar wie is jy en wat kom maak jy hier?’ Ek het geantwoord: ‘Ek kom bly nou hier.’ ‘O,’ sê hy, ‘maar het jy plek hier?’ Ek het geantwoord: ‘Natuurlik, hoe dink jy dan? Ek is in seksie twee, maar waar is dit?’ Daardie aand sou ek uitvind hy is die inwonende hoof van Dagbreek.
“Oom Bethel was ’n mens-mens, ’n karakter, ’n groot gees wat ook gees geskep het. Iemand wat mense raakgeleef het. Hy het geen onderskeid gemaak tussen mense nie. Hy was almal se pêl. Hy was ’n sterk leier, iemand met wysheid wat kon motiveer, inspireer en dissiplineer. Maar hy kon ook goeie samewerking gee met die gestalte van ’n dienskneg om te dien en diensbaar te wees. Hy was werklik ’n man van God, ’n yster onder die manne met die hart van ’n kind. Hy het almal geken en almal was lief vir hierdie joviale kort mannetjie met die donker vel, die parmantige ore, die blymoedige gees en vrolike glimlag,” vertel Nieuwoudt.
Ds Bossie Minnaar skryf: “Oom Bethel en die BTK was vir jare sinoniem. ’n Vinnige blaai deur die BTK se toersketse vertel iets van oom Bethel se veelsydigheid. Aan die een kant is daar sy besielende preke wat menige BTK-ner diep geraak het. Aan die ander kant is daar die diensbaarheid, maar ook die platjie en voorbok om die kampvuur.”
Dr Braam Hanekom skryf: “Dit is met heimweë en dankbaarheid dat ons terugdink aan oom Bethel, ’n predikant en akademikus, maar vir ons veral pastor, vriend, inwonende hoof, natuurmens, ‘Mensch’ en stoere BTK-ner. Jy kon nie anders as om vir hom lief te raak nie. Ek onthou oom ‘Pampoentjie’ se skaterlag, kaalvoete en die vermoë om jou regtig op jou gemak by hom te laat voel. Oom Bethel het help bou aan ’n era wat studente op Stellenbosch gevorm het, op ’n manier veel groter as wat ons ooit besef het. Ons eer jou nagedagtenis. Jou toer hier op aarde is finaal verstreke. Ons wat agterbly, toer met wonderlike herinneringe voort in die verwagting van ’n blye weersiens.”
In 1982 word prof Bethel Müller mede-professor in Diakonologie aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sedert 1970 as dosent diep spore trap in die hart en lewe van teologiese studente. Na die aftrede van prof DW de Villiers volg hy in 1984 hom op as professor en hoof van die departement. Hier werk prof Bethel tot hy aan die einde van 1994 sy emeritaat aanvaar.
Ons laat ’n geliefde Stellenbosser en teoloog, prof Jaap Durand, praat oor die nalatenskap van hierdie kerkman: “Met die heengaan van Bethel Müller neem ons afskeid van een van die laastes van ’n geslag teoloë aan die destydse Kweekskool op Stellenbosch. Die agting wat hy afgedwing het, het nie net te doen gehad met die breë teologiese kennis wat hy veral in die predikkunde aan sy studente oorgedra het nie, maar gewoon met die mens wat hy was. Waar professore dikwels persone is wat ’n eerbiedwaardige afstand van hulle studente handhaaf, was Bethel in staat om af te klim van sy hoë akademiese kateder om as mens naas sy studente te kom staan. Hy kon dit doen omdat hy homself nooit uitgelig het tot ’n soort bo-aardse vroomheid nie, maar altyd Bethel gebly het, ’n begenadigde mens van hierdie aarde, ’n aarde wat hy op baie maniere intens lief gehad het as die handewerk van dié Here aan wie hy sy lewe gewy het.
“Niemand kan aan Bethel as akademikus dink sonder om hulleself te herinner aan die omvangryke reeks ‘Woord teen die Lig’ as die enigste en die mees betekenisvolle Afrikaanse reeks wat as ’n riglyn vir predikante in die maak van hulle preke moes dien nie. As inisieerder en een van die redakteurs, het daar self van sy kant meer as een riglyn verskyn, ’n riglyn waarin ons iets van die diepgang van sy denke leer ken het. Laat my toe om één aanhaling te maak uit sy preekriglyn oor Lukas 4:16-30: ‘Waar ontmoet ek Christus vandag en hoe moet ek met Hom wandel? Waar ons Christus se gesig sien in ’n arme, ’n gevangene, in ’n verdrukte, daar wil die goeie boodskap, die genadejaar, die kairos inbreek.’ Dit is vintage Bethel!”
Prof Bethel Müller was drie keer in sy lewe getroud. Die jong Bethel trou die eerste keer met mej Helen Eksteen, dogter van die bekende ds Pieter Eksteen, ’n leeftyd lank leraar van die NG Gemeente Pofadder. ’n Ander dogter Crena, trou met dr Manie de Jager, ’n geliefde leraar wie se vyf seuns almal predikante van die NG Kerk word. Bethel en Helen is baie gelukkig en uit hulle huwelik is vier seuns gebore. Helen was ’n vrou uit een stuk en die lewe saam met haar het Bethel se lewe vervolmaak. Kort nadat hulle in 1975 die koshuis Dagbreek verlaat en in hulle eie huis intrek, word sy siek aan kanker. Na meer as twee jaar van siekwees, sterf sy vroeg in 1978, ’n enorme krisis vir Bethel en hulle vier seuns, Anton, Pieter, Corrie en Richard.
Dr Bethel Müller trou op 28 Januarie 1979 met dr Audrey van Wijk, weduwee van ds Attie van Wijk van Stellenbosch. Weens verskeie faktore was dit ’n moeilike aanpassing en hulle twee het skouer aan die wiel gesit om die huwelik te laat slaag. Later is dit nie meer moontlik nie en hulle huwelik beland in 2004 in die skeihof. Prof Bethel trou in 2005 met Belia Olivier, weduwee van prof Hannes Olivier, wat dosent was in Semitiese tale en ook klas gegee het aan die Kweekskool.
Prof Bethel en Belia Müller is baie gelukkig getroud en sy sorg dat hierdie befaamde teoloog, natuurliefhebber, oud-Dagbreker, entoesiastiese BTK-ner en diep gelowige, ’n gelukkige en sorgvrye oudag beleef. Hulle woon in die Geluksoord-aftreeoord op Stellenbosch, waar prof BA Müller op 9 Oktober 2017 sterf. ’n Afskeidsdiens word op Vrydag 13 Oktober 2017 vanuit die NG Moedergemeente Stellenbosch gehou, waar prof Jaap Durand die Woord bedien. Prof Bethel se vier seuns is ook betrokke by die verrigtinge, ’n besonderse slottoneel in die lewe van een van die Here se begenadigde diensknegte op Stellenbosch. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.