Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Bobby Scherrer


9 Februarie 1942 – 21 Julie 2017


Ds Adolf Johannes Scherrer (BA Hons, BTh) is op 9 Februa­rie 1942 gebore in die vriendelike hawestad Port-Elizabeth. Hy word op 14 Mei 1942 gedoop. Sy ouers is Emile en Caroline Scherrer, wat boer in die distrik en uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore. Hy begin sy skoolopleiding in die Baai en matrikuleer daar. Bobby voel geroepe om predikant te word en vertrek na matriek na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en later ook die Honneursgraad.

Hy speel in dié tyd ’n rol in die tak van die Afrikaanse Studentebond en dien ook op die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch as ondervoorsitter. Hy is ’n goeie rugbyspeler en speel onder leiding van dr Danie Craven, as flank vir die o/21 Matie-rugbyspan.

In 1966 word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy die BTh-graad verwerf. Aan die einde van 1969 word hy as proponent gelegitimeer en op 13 Februarie 1970 met handoplegging in die NG Gemeente Kemptonpark bevestig. Twee leraars wat aan die handoplegging deelneem is ds S van B Human en ds WJ Lubbe. Op 16 Julie 1973 word hy leraar van die NG Gemeente Silverton en na twee jaar met die afstigting van die NG Gemeente Silvertonkruin word hy op 2 Augustus 1975 die eerste leraar van die nuwe gemeente. Met sy vermoë om te organiseer word die gemeentelede goed georganiseer en bestuur.

’n Beroep kom na die NG Gemeente Kerkenberg te Harrismith in die skadu van Platberg. Hy word die naweek van 17 tot 20 November 1978 in die gemeente ontvang en bevestig. In hierdie gemeente is hy byna drie dekades lank herder en leraar, waar hy die hart en siel van die gemeente en gemeenskap word. Hier verwerf hy ’n ereplek as rentmeester in die Here se koninkryk, soos die NG Kerk in die Vrystaat hom ook beleef. Hy werk ’n tyd lank alleen in die groot gemeente tot prop Willem Brits op 18 April 1980 met handoplegging ontvang en bevestig word. Ds Bobby Scherrer en ds Willem Brits is goeie spanmaats in Kerkenberg en werk hartlik saam tot met ds Bobby se emeritaat in 2007.

Op 8 November 2012 word ds Willem en Dorothea Brits met ’n byl aangeval terwyl hulle televisie kyk en hy sterf ’n dag later op 9 November 2012. Ds Bobby Scherrer hou die begrafnisdiens van sy vorige kollega, ds Willem Brits, in ’n stampvol kerkgebou vanaf die kansel wat hy en sy vermoorde kollega jare lank gedeel het.

Ds Bobby Scherrer trap diep spore in die gemeente met huisbesoek, skoling van die kerkraad, wyksbyeenkomste, dissipelskapgroepe en lofprysings­aande. Onder sy leiding word die gemeentebasaars meer vaartbelyn en rekordbedrae word ingesamel. Die basaars gee aan die gemeente Kerkenberg ’n unieke karakter en na ’n televisie-opname wat oor “Kruis en Kroniek” uitgesaai word, kry Kerkenberg se basaar landswye blootstelling.

Op voetsoolvlak beleef ds Bobby Scherrer ’n traumatiese ervaring toe sy vrou Riana ernstig siek word aan ’n ongeneeslike breinsiekte en sy permanent gehospitaliseer moet word. As gevolg van haar siekte word die huwelik nietig verklaar. Na ’n lang siekte sterf hierdie mooi, dapper en begaafde predikantsvrou einde 1991. Intussen is ds Bobby in 1988 getroud met mej Ronel Roodtman, ’n bekende omroeper by die SAUK in Bloemfontein. Hy was by uitstek ’n gesinsman en sorgsame vader. Hierdie vrou het groot vreugde in die lewe van Bobby gebring en was ’n ware sielgenoot en lewensmaat. Sy vrou Ronel vertel met oorgawe wat hy alles gedoen het vir die vier kinders, Johan, Renate, Marien en Carien. Sy familie het hom in drie woorde opgesom: wys, sterk en liefdevol.

In die Vrystaatse Sinode speel ds Bobby Scherrer oor ’n tydperk van 17 jaar ’n belangrike rol as voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Administrasie en Finansies. Hy was ook voorsitter van die Pensioenfonds van die NG Kerk in die Vrystaat. Hy kry in 2000 opdrag om die mediaprodukte van die NG Kerk te herstruktureer, waarna die produkte en afdelings geval het onder Bybel-Media. Hy was ook voorsitter van die direksie van Bybel-Media, die Tydskriftemaatskappy en Lux Verbi.BM, waar hy ten nouste saamgewerk het met ds Hans Linde en ds Stephan Spies. In die NG Kerk word hy onthou as iemand wat met volharding kon leiding gee en aan wie se integriteit niemand ooit kon twyfel nie.

Na sy aftrede in 2007 kon ds Bobby meer aandag gee aan sy plaas Korfskop en hom uitleef tussen sy bokke, skape en beeste. Vroeg in Januarie 2016 word kanker by ds Bobby gediagnoseer en hy het blymoedig tot die einde toe die stryd gestry. Hy sterf op 22 Julie 2017 en ds Johan Kemp bring ’n treffende boodskap tydens sy begrafnisdiens op 28 Julie 2017 in die kerkgebou van die NG Gemeente Kerkenberg. Dr Pieter van Jaarsveld, moderator van die NG Kerk in die Vrystaat, skryf: “Die spore wat Bobby getrap het was diep spore, en dit het trap gekos om te volg. Maar die koers wat hy aangedui het, het dit vir ons makliker gemaak. Ons het geweet waarheen om te loop.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.