Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Darius Botha


26 Junie 1955 – 12 Februarie 2018


Dr Daniël Sarel Botha (BA Hons, MA, DD) is op 26 Junie 1955 gebore te Breyten, ’n klein nedersetting tussen Ermelo en Carolina. Darius word ook in Breyten gedoop. Sy vader is Hendrik Egnatius Botha, ’n ketelmaker van beroep, en sy moeder is Jacomina Christina Botha, wat as verkoopsdame in ’n apteek werk. Hulle is ’n hegte gesin waar liefde en die regte lewenswaardes ’n groot rol speel. Twee seuns uit die huwelik word Springbok-rugbyspelers, Darius en Naas Botha, sy jonger broer.

Darius begin sy skoolloopbaan in 1960 aan die Laerskool Eben Swemmer in Pretoria, waar hy ook prefek is en vir die Cravenweek rugby speel. Hy word in 1968 leerling aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd in die Jakarandastad, waar hy prefek is en in 1972 matrikuleer. Hy kry die Victor Ludorum in atletiek, speel in die eerste rugbyspan en ook bofbal en sagtebal in die Noord-Transvaalse span. Na matriek doen Darius sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en voel geroepe om predikant te word.

Darius se pad loop aanvanklik na die Universiteit van Stellenbosch waar hy BA studeer as voorstudie en ook rugby speel vir Matieland onder die bekwame oog van dr Danie Craven. Naas Botha vertel die kostelike storie dat Darius in 1976 vir twee weke uit Maties se rugbyspan deur dr Danie Craven geskors is, omdat hy sy broer Naas ondersteun het wat vir Tukkies se rugbyspan gespeel het. In sy leeftyd speel Darius sestig rugbywedstryde vir Noord-Transvaal en in 1981 is dit ’n hoogtepunt toe hy gekies word vir die Springbokspan tydens ’n rugbytoer na Nieu-Seeland. Dit was ’n onvergeetlike wedstryd, ook toe Darius oor die veld genael het om een van die Kiwi’s te pot wat aan sy broer gepluk het. Naas Botha vertel na sy ouboet Darius se dood: “Hy het na my gekyk soos enige broer na sy kleinboet moet kyk. Die grootste gedeelte van my motivering het van hom af gekom en ek het in sy voetspore gevolg. Ek is van mening dat enigiemand ’n broer soos hy wou hê.”

Nadat Darius en Naas Botha se vader beroerte kry, verlaat Darius Stellenbosch en sit sy studie voort aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Hy word op 20 November 1980 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy bly egter student en behaal in 1984 die honneursgraad in Sosiologie en die MA-graad in Etiek aan RAU. In 1984 skryf hy in vir die doktorsgraad in Praktiese Teologie, maar werksdrukte vertraag sy studie en hy staak dit tydelik tot hy na sy siekte weer volstoom daaraan begin werk. Hy verwerf die Doctor Divinitatis einde 2015 met die proefskrif: “Prediking en die mens geaffekteer deur kanker”, ’n groot getuienis aan die wêreld.

Darius trou op 14 November 1981 met mej Karin Ferreira, ’n onderwyseres van beroep. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Derik is ’n onderwyser te Houghton in Johannesburg en Rienie ’n onderwysspesialis in Midstream te Pretoria. Dr Darius en Karin Botha beleef die groot hartseer dat hulle twee van hulle kinders, die tweeling Carine (1986-1993) en Tobie (1986-2005), aan die dood afgee. Daar was hierna steeds ’n glimlag op sy gesig, maar ’n traan in sy hart tot die einde toe.

Dr Darius is bykans sy hele bedie­ning in die NG Kerk tot met sy uittrede ’n kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy werk in die Polisiekollege in Pretoria en is as kapelaan verbonde aan die NG Gemeentes Pretoria, Potchefstroom-Wes, Pietermaritzburg en Nelspruit-Wes. Na sy uittrede word hy in 1997 voltydse leraar in die NG Gemeente Nelspruit-Suid, ’n wonderlike tyd vir hom en sy vrou Karin.

Op 13 April 2008 word dr Darius Botha leraar van die NG Gemeente ­Tsumeb in Namibië, ’n besondere geseënde tyd in die mooi en gasvrye land. Hy word op 31 Januarie 2010 leraar van die NG Gemeente Kroonstad-Oos, ’n gemeente in die hartland van die Vrystaat. Hy lewer sy intreepreek oor Eksodus 3 en 4. Hier werk hy en sy vrou gelukkig en met oorgawe tot hy weens siekte op 27 Julie 2014 finaal sy emeritaat moes aanvaar. Hy word met maagkanker gediagnoseer en hulle trek in die lente van 2014 na Johannesburg, waar hy in ’n groot aantal nabygeleë gemeentes preekbeurte waarneem.

Tot met sy dood op 12 Februarie 2018 leef hy ’n vol lewe, ’n gesinsman wat met ywer sy gesinslede tot die einde toe met wysheid en liefde bygestaan het. Op 16 Februarie 2018 word ’n dank­diens in die NG Gemeente Weltevreden waargeneem deur ds Johan Stander, met teksvers 2 Timoteus 4:1-8. Daar word verwys na hierdie merkwaardige man van God, wat sy totale afhanklikheid aan die Meester besef het en sy siekte met grasie hanteer het. Hy was ’n unieke mens wat ’n impak op ander se lewe gemaak het, wat altyd gesê het dat jou gesin jou rykdom is. Hy het in absolute afhanklikheid van sy Hemelse Vader geleef en was opreg dankbaar vir elke nuwe dag, altyd met ’n glimlag in die hart! – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.