Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Eggie Dippenaar


14 Oktober 1931 – 4 September 2016


Ds Egbert Johannes Jacobus Dippenaar (BA) is op 14 Oktober 1931 gebore in die distrik Springbok in Namakwaland. Sy vader was Nicolaas Machiel Dippenaar wat as kleinboer ’n bestaan maak en sy moeder is Helena Hendrina Hendricks. Toe Eggie ’n jong seuntjie was trek sy ouers na Augrabies aan die Oranjerivier, waar hy in 1938 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Augrabies begin en in 1947 is hy leerling aan die Hoërskool Kakamas waar hy in 1950 matrikuleer.

Die jong Eggie voel geroepe om predikant te word. Hy vertrek na die Universiteit Stellenbosch, waar hy die BA-graad verwerf en uitblink in rugby. Hy word aan die einde van 1957 as proponent gelegitimeer en neem ’n beroep aan na die NG Gemeente Warmbad in die destydse Suidwes-Afrika. Hy word op 19 Julie 1958 met handoplegging daar bevestig en die eerste vier jaar van sy bediening in die suide van dié mooi land is besonder geseënd. Op 15 September 1962 word hy leraar van die NG Gemeente Tiervlei in die Kaapse Skiereiland, waar hy instrumenteel is met die afstigting in 1963 van die nuwe NG Gemeente Tiervlei-Wes. Dit loop saam met ’n groot herlewing onder tieners en jongmense in Tiervlei, wat ’n besondere geestelike klimaat in die tyd skep te midde van baie gebede. Ds Eggie word op 16 Februarie 1963 daar bevestig en daar neem hy leiding toe daar ’n nuwe kerkgebou in Tiervlei-Wes gebou word.

Na ’n dekade in die Kaapse Skier­eiland loop sy bedieningspad na die Klein-Karoo toe hy op 14 Julie 1972 leraar word van die NG Gemeente Oudtshoorn-Wes, waar hy die Woord bedien aan mense in die woonbuurt Wesbank. Hier is hy weer instrumenteel met die afstigting van die NG Gemeente Oudtshoorn-Welgeluk en hy word op 24 Januarie 1975 daar bevestig. Ook hier help hy die jong gemeente met die bou van ’n nuwe kerkgebou.

Na vyf jaar word hy in 1980 leraar van die NG Gemeente Goodwood-Wes, wat later jare een word met die gemeente Goodwoodpark. Op 27 ­ 1985 loop sy bedieningspad na die mooi land van Eden in die Suidkaap, toe hy leraar word van die NG Gemeente McLachlan te Wittedrift naby Plettenbergbaai. Onder sy leiding word daar ’n kerkgebou in 1987 te Plettenbergbaai gebou wat in Augustus 1987 ingewy is. Ds Eggie Dippenaar was die eerste leraar wat in die pastorie op Plettenbergbaai gewoon het. Hierna is die naam van die NG Gemeente McLachlan verander na Plettenbergbaai. Die hele proses het groot spanning op voetsoolvlak in die gemeente gebring, sodat daar twee groepe in die gemeente ontstaan het. Hierdie onderliggende spanning het veel krag en bomenslike wysheid van ds Eggie Dippenaar gevra om te bestuur.

Ds Eggie Dippenaar aanvaar op 25 April 1994 sy emeritaat en gaan woon in Magersfonteinweg 39 op Hartenbos. Hy preek oral waar die geleentheid hom voordoen en bied ook kursusse vir kerkraadslede in gemeentes aan. Sy vrou Connie sterf drie maande voor hom. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore.

Ds Eggie Dippenaar sterf op Sondag 4 September 2016 na ’n lang siekbed in die Hartenbos Versorgingsoord. ’n Gedenkdiens vind op 10 September 2016 vanuit die AP Kerk Brakrivier in Reebok plaas, die gemeente waar hy van sy laaste preke gelewer het en vir wie hy sy toga in ’n besondere simboliese gebaar geskenk het. Sy kinders skryf onder meer in ’n mooi huldeblyk die volgende: “Ons is dankbaar vir sy voorbeeld as Christen en standvastige rotsman. Die bediening was vir hom ’n roeping en passie.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.