Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Joop Lensink


27 Julie 1936 – 30 Maart 2018


Dr Johan Marie Lensink (BA, BD, DD) is op 27 Julie 1936 gebore in Nederland. In sy ouerhuis het Joop die Here leer ken en die aandgodsdiens van sy vader het reeds as kind ’n groot indruk op hom gemaak. In 1944 word hy deur ’n vragmotor omgery en twee jaar later is daar die byna noodlottige episode met ’n byl toe hulle gaan hout kap. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, emigreer Joop op 21-jarige leeftyd na Suid-Afrika en reis per boot na sy nuwe woonplek in Vendaland in die noorde van Suid-Afrika. Hy is vasbeslote om predikant in die nuwe land te word en vir die Here te werk. Die aand voor sy vertrek lees sy vader met huisgodsdiens uit Psalm 121, ’n pelgrimslied wat tot die einde van Joop se lewe vir hom groot betekenis inhou.

Joop hou baie van die pragtige na­tuurskoon van Suid-Afrika, by name Vendaland, en leer gou die Vendataal vlot praat en in die sonnige Afrika word hy ’n sendeling in murg en been. Intussen word hy student aan die Universiteit van Suid-Afrika en behaal die BA-graad wat hom toegang verleen tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria in die Jakarandastad. Saam met hom in die klas was Howard du Toit, seun van prof HDA du Toit van die Teologiese Fakulteit. Joop besluit om in 1964 sy proponentsjaar aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te voltooi. In 1964 vertrek Joop en Howard saam per Charter-vliegtuig via Lourenco Marques na Nederland. Joop studeer ses maande in sy proponentsjaar aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, terwyl Howard aan sy doktorsgraad werk.

Geborg

In dié tyd trou hy met mej Wil Goe­de, ’n predikantsdogter van Aalten. Hierdie unieke lewensmaat sou deur ses gemeentes van vyf kerke in drie lande, hom getrou ondersteun in sy roeping om die evangelie uit te dra. Uit die huwelik is vier kinders gebore.

Prop Joop en Wil Lensink vertrek na die sendingstasie Tshilidzini in Vendaland, maar aanvaar in 1965 ’n beroep na Kabwe in Zambië, as gestuurdes van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat. In 1969 werk hy in Chingola, ’n moeilike tydperk van politieke verskuiwings en sterk emosies van dekolonisasie in Afrika. In die tyd is daar groot seën en geestelike groei in die gemeentes, terwyl hy ook die oorblywende blankes help bedien. In 1971 word hy ook daarmee saam dosent aan die Teologiese Skool Lusaka. Sy werkspermit word in 1974 nie hernu nie en hulle vertrek terug na Suid-Afrika.

Op 27 Januarie 1974 word hy bevestig deur die NG Kerk se Ring van Johannesburg, met sy arbeidsveld die trekarbeiders. Meer as 120 000 swart mans was in sy werksakker wat Johannesburg se mynkampongs en agterbuurtes ingesluit het. Hy noem dit goedkoop trekarbeid wat volgens hom aan slawerny grens. Die trekarbeiders, wat in haglike omstandighede gewoon en gewerk het, was ’n uiters moeilike arbeidsveld met min positiewe resultate.

Dr Joop het in sy outobiografie van 570 bladsye ook oor sy lewe en hierdie werkstyd geskryf, wat hy die hel van stedelike vergete trekarbeiders, ’n wêreld van oorlog en haat noem. Die titel van die boek: “Zwart hart: Leven in lichtend Afrika op de sporen van David Livingstone”, verskyn onder skrywersnaam Yobo Lensink. Hierin gee hy merkwaardige indrukke oor die kerk in Zambië en Suid-Afrika, waarin hy sy tyd ver vooruit was. Hy het onder promotorskap van prof David Bosch, ’n doktorale proefskrif in Sendingweten­skap by Unisa geskryf oor die trekarbeid in Suid-Afrika.

In 1978 oorleef hy ’n aanslag op sy lewe as gevolg van sy stryd teen apartheid, waarna hy op mediese advies die werksakker verlaat en in 1979, nadat ’n kerklike beroep gekom het vanuit Nederland, vanaf die Geref Kerk Zuidwolde, daarheen vertrek. Dit was ’n heroriëntering ten opsigte van die Nederlandse taal en Europese leefstyl. Maar die Lensinks het al tevore uitgemunt met hulle uitstekende aanpassingsvermoë en kosbare kontakte is opgedoen en die finansiële ondersteu­ning vir latere aksies in Suid-Afrika was besonder waardevol.

Dr Joop en Wil Lensink aanvaar in 1984 ’n beroep terug na Suid-Afrika na die Nederlandssprekende gemeente van die Herv Kerk (NHKA) in Johannesburg. Daar was uiteraard beswaar van dr Joop se kant oor Art 3 van die Kerkorde wat bepaal het dat alleen blankes lid mag wees van die kerk. Maar ook die kerkraad het die siening gedeel en telkens daarteen geprotesteer. Dr Joop is weer terug in die middestad van Johannesburg, om sy dienswerk onder die straatkinders, die onderwêreld van die trekarbeiders en die armstes van die armes voort te sit. Verskeie organisasies is gestig en skole ontwikkel. Joop Lensink en saam met hom sy eggenote, Wil, het met volharding en besondere talente die saak van die koninkryk tot aan die einde van sy lewe gedien. Toe die Hervormde Kerk in Suid-Afrika met sy Kerkorde sy predikante bind, om apartheid steeds as die wil van God te beskou, lê ds Joop Lensink die kerklike amp aan die einde van 1992 neer.

Later word die Beyers Naude-skool vir straatkinders in die middestad van Johannesburg geopen, met geld wat dr Joop uit Nederland ontvang. Hy neem as skoolhoof waar en is terug by die werk onder die armste van armstes in die Goudstad. Hier is hierdie sendeling in murg en been baie jare lank werksaam, op plekke waar die kerk afwesig is, onder leiding van die “Stichting Comitee Soweto” en later onder die vaandel van die “Leadership Foundation Africa”. Aan die einde van sy lewe is hy weer terug by die NG Kerk, hierdie keer as lidmaat in die NG Gemeente Randburg-Suid.

Geborg

In die laat winter van 2017 word lewerkanker by dr Joop Lensink gediagnoseer en dit is toe reeds versprei deur die hele liggaam. Hy sterf op 20 Maart 2018. Die veelkleurige lewe en bediening van Joop Lensink het met sy afsterwe en gedenkdiens op 6 April 2018 opnuut die aandag van baie mense getrek.

Dr Howard du Toit skryf oor sy vriend: “Ons kontak strek oor 6 de­ka­des. Tot aan die einde het ek Joop Lensink ervaar as iemand wat toegewyd gebly het aan sy roeping en dienslewering in ’n verskeidenheid van situasies. Sy visie om die koninkryk te dien, veral in Afrika en onder sy mense, het voorop gestaan. Hy was gebonde en afhanklik van beroeping deur gemeentes. Dit het soms anders uitgewerk as wat hy en Wil gehoop het. Maar hulle het ’n merkwaardige aanpassingsvermoë en durf geopenbaar om te kan inpas by soms onsekere en uitdagende omstandighede. Joop was ’n uitstekende prediker, pastor en ook bekwame skrywer wat self sy en sy gesin se lewensverhaal breedvoerig opgeteken het. Wil en Joop het mekaar voortreflik aangevul en hulle kinders en kleinkinders liefdevol ondersteun. Ook in ander publikasies het sy visie en passie geblyk. Hy was inderdaad ’n sendeling in murg en been!” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.