Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Louis Giliomee

7 Januarie 1924 – 5 Mei 2016


Ds Louis Nigrini Giliomee (Wellington Sendinginstituut) word op 7 Januarie 1924 gebore op ’n plaas in die distrik Bredasdorp. Sy vader is Jurie Johannes Blom Giliomee en sy moeder is Elizabeth Maria Johanna Nigrini, wat saam die Here op ’n boereplaas dien. Hy word gedoop in Bredasdorp en is vernoem na sy oupa aan moederskant, Louis Nigrini.

Hy begin sy skoolloopbaan in 1931 aan Klipdale se plaasskool en is van 1932 tot 1939 leerling aan die Prinskraal plaasskool. Louis word in 1939 leerling aan die Hoërskool Bredasdorp waar hy aan die einde van 1942 matrikuleer. In dié tyd het sy belangstelling in boerdery steeds gegroei en hy begin boer tot aan die einde van 1944. Hierna loop sy pad na die sakewêreld tot hy van 1945 tot 1946 boekhouer word by die Caledon Eksekuteurskamer.

Intussen het die roeping om sendeling te word in 1947 sy pad na die Sendinginstituut op Wellington laat loop, waar hy in 1951 as sendeling gelegitimeer word. Op 24 Februarie 1952 word hy georden as sendeling in die NGKA Lichtenburg in die Wes-Transvaal. Hy speel ’n belangrike rol in die Sinode van Phororo se wordingsjare in die Noord-Kaap en Wes-Transvaal. Op 15 Desember 1957 tree hy in die huwelik met Johanna Jacoba Hendrina Bester en uit die huwelik is twee kinders gebore, Jurie en Emsie.

In 1958 word hy sendeling in die NG Sendingkerk Joubertina, waar hy werk tot hy in 1962 ’n beroep aanvaar na die NG Sendingkerk Riviersonderend. Sedert sy legitimasie het hy verskeie buitekerke as sendeling in gemeentes gebou, ’n voorbeeld wat die legendariese eerw Victor du Plessis aan sendelinge in die Sinode van Phororo gestel het.

In dié tyd is daar ’n skaarste aan leraars in die NG Kerk en oral in die land word leraars wat hulle opleiding aan die Sendinginstituut op Wellington deurloop het, beroep na vakante gemeentes. Op 17 Julie 1971 word ds LN Giliomee leraar van die NG Gemeente Leipoldtville in die Sandveld aan die Weskus naby Clanwilliam. Hier beleef die gemeente ’n ware boeredominee wat die lief en leed van die boere verstaan en met huisbesoek en meelewing die koninkryk van die Here op ’n besondere wyse dien.

Op 9 Julie 1989 aanvaar ds LN Giliomee sy emeritaat en hulle geniet ’n welverdiende rustyd in Ashton waar hulle gaan woon na ’n leeftyd in diens van die Meester. Hy sterf op 5 Mei 2016 en hy word beskryf as “sout van die aarde, ’n dierbare, diep gelowige en mentor”. ’n Gedenkdiens word op Vrydag 20 Mei 2016 in Suideroord-tehuis in Bredasdorp gehou. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top