28 Mei 1932 – 20 Julie 2018
Prof Philippus Johannes Robinson (BA Hons, BD, DTh) is op 28 Mei 1932 gebore in die distrik Hobhouse op die grens van die destydse Basoetoland. Hier ontvang hy sy eerste skoolopleiding, tot die gesin verhuis na die plaas Harvard in die distrik Kuruman. Sy ouers is Philip en Nannie (Helen) Robinson, wat ’n lewensbestaan uit boerdery maak en drie kinders in die wêreld bring: Phil, Hope-Anna en Gerrie. Die kinders geniet die plaaslewe en beleef hulle ouers se onwrikbare geloof in die sorgende hand van die Here wat altyd voorsien. Hulle is meelewende lidmate van die NG Kerk op Kuruman, met die bekende en eksentrieke ds Jan Roos as herder en leraar.
Phil onthou hoe die dominee altyd sy geliefde spreuk: “Ad astera per perspera – na die sterre deur sweet!”, met forse stem oor die gemeente uitgeroep het. Dit het Phil later jare in moeilike tyd laat aanhou tot die saak opgelos is. Ds Roos het ’n groot invloed op die gesin en Phil deel in 2016 sy herinneringe oor hierdie leraar in die eeufeesboek van Kuruman. Philip en Nannie was godvresende ouers wat hulle kinders met groot liefde opgevoed en op die regte pad gelei het.
Phil is later ’n leerling aan die Afrikaanse skool op Seodin, ’n onderwysinrigting wat in 1921 deur die baanbrekeronderwysreus Fanie Botha begin is. In 1927 word die Hoërskool Kalahari gestig en toe Phil in die vroeë veertigerjare leerling van Fanie Botha se skool word, is dit een van die beste skole in die land. Die skoolhoof Fanie Botha het ’n groot invloed op die jong Phil en hy is een van baie leerlinge wat hulle onderwys in Seodin begin en diep spore in die samelewing trap. Hy matrikuleer in 1950 aan die Hoërskool Seodin te Kuruman en voel geroep om predikant te word.
Prof Phil skryf in 2016: “Op twee plase wat net deur die Kuruman-Vryburg pad geskei was, het twee seuns opgegroei wat albei teologie gaan studeer het, predikante geword het en uiteindelik professore aan universiteite was.” Prof Phil Robinson, dosent in Sending- en Godsdienswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland en prof Fanie de Beer, dosent en later professor in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria.
Phil word student aan die Universiteitskollege van die Vrystaat in Bloemfontein, wat die Universiteit van die Oranje-Vrystaat word. Hy neem sterk leiding op die Bult se studenteraad en dien saam met Jaap Durand in die bestuur van die Admissiebond. Hy verwerf in 1954 die BA (Admissie)-graad met Grieks en Hebreeus en loop ook ’n Honneursgraad in Volkekunde. In 1956 word Phil student aan die Teologiese Seminarium, waar hy akademies uitstekend presteer en die BD-graad verwerf. In die eeufeesjaar van die Kweekskool (1859-1959) op Stellenbosch, word hy aan die einde van 1959 as proponent gelegitimeer. Dit is merkwaardig dat sy dogter, Helette van der Westhuizen, vyftig jaar later met die 150-jarige viering van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch in 2009, ’n belangrike rol speel met die feesviering.
Tydens sy studie in Bloemfontein, ontmoet hy mej Rensia Odendaal, dogter van ’n geliefde kerkman in Bloemfontein. Die verhouding het sterk gegroei en na die voltooiing van sy studie op Stellenbosch, trou Phil en Rensia in Bloemfontein. Met haar dinamiese menswees ondersteun sy haar man in woord en daad. Uit hierdie gelukkige huwelik is vyf kinders gebore: Ninell, Helette, Phil, Berdo en Amna. Rensia is ’n vrou uit een stuk en verwerf later self ’n doktorsgraad.
In 1960 word prop PJ Robinson met handoplegging bevestig en afgesonder vir die uitdra van die Blye Boodskap aan mense in nood. Voordat hy na die voltydse akademie gaan, bedien hy die NG Gemeente Vanderbijlpark-Oos in die Vaaldriehoek, waar hy op 19 Maart 1960 met handoplegging ontvang en bevestig word. Vyf jaar later neem hy in 1965 ’n beroep aan na die NG Gemeente Newtonpark in Port-Elizabeth, ’n woonbuurt waar hy en Rensia mense met oorgawe bedien. Op 9 Julie 1968 word hy bevestig as leraar van die NGKA Xhosa-gemeente New Brighton in Port-Elizabeth. Hier doen hy baanbrekerswerk en bring nie net die Woord nie, maar dien die mense op voetsoolvlak.
Na twaalf jaar loop sy pad na die akademie toe hy op 6 Mei 1972 bevestig word as dosent in Sendingwetenskap en Kerkgeskiedenis aan die Teologiese skool Stofberg by Decoligny in die Transkei. Hier word die NG Kerk in Afrika se leraars en evangeliste opgelei en hy is ook verantwoordelik vir die NGKA gemeentes in Umtata en vir ’n groot aantal buiteposte. Hier word ook ’n besondere kollegaskap gevorm, byvoorbeeld met Dirk Odendaal en Jannie du Preez, wat later op Stellenbosch klas gee.
Op 11 April 1976 word hy bevestig as senior lektor in Missiologie aan die Teologiese Skool van die NG Sendingkerk aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy in 1983 mede-professor word en in 1985 professor en hoof van die departement in dieselfde fakulteit. In 1982 word hy beroep as dosent na die Kweekskool op Stellenbosch, maar hy voel geroepe om dit te bedank en aan te bly as dosent aan die Teologiese skool aan die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville. In dié jaar promoveer hy op Stellenbosch met ’n proefskrif, met prof Nico Smith as promotor: “Die presensie van die gemeente in die wêreld in sendingperspektief”.
In sy diensjare aan die Universiteit van Wes-Kaapland is hy sewe jaar lank dekaan van die Fakulteit Teologie, ’n pos wat hy met wysheid en oorgawe beklee. In Bellville is hy weereens ’n kollega van sy studentevriend, prof Jaap Durand, wat ook die groot verantwoordelikheid van die rektorskantoor dra.
Prof Phil Robinson tree in 1997 af en hulle woon sedert 2002 in Durbanville.
Na ’n leeftyd van diens aan die Meester, sterf hy op 20 Julie 2018 in die ouderdom van 86 jaar. Prof Daan Cloete skryf oor sy kollega en vriend: “Gedurende die stormagtige jare by UWK het prof Robinson onnodige konfrontasie met die studente vermy deur geduldig na hulle griewe te luister en met simpatie hulle frustrasies te hanteer. Met sy sagte en vredemakende aanslag het hy ’n kalmerende invloed op baie gespanne situasies gehad. Hy het baie kere op vrygewige wyse verantwoordelikheid geneem vir die finansiële behoeftes van studente. Behalwe vir sy normale doseerverpligtinge het hy baie nagraadse studente begelei. Prof Robinson het ’n sjarmante persoonlikheid en ’n gesonde sin vir humor gehad, wat hom geliefd by baie gemaak het. Hy was vir sowel studente as dosente nie bloot ’n leermeester of kollega nie, maar ook ’n ware vriend. Sy bydrae tot UWK span oor 25 jaar en kan nie na waarde geskat word nie.”
Op dr Gerdrie se versoek skryf die kinders: “As ek aan my pa dink, onthou ek hom heel eerste as iemand wat nederig, sonder omhaal van baie woorde en politiese posisionering, groot dinge kon vermag. Hy kon mense om hom inspireer en mobiliseer om as Christene ’n daadwerklike en praktiese impak te hê op hulle omgewing en die lewe van die minderbevoorregtes in ons samelewing. Sy nalatenskap is ryk, en die behuisingsprojek vir minderbevoorregtes en Sarepta-gemeente se spekboomprojek is maar twee voorbeelde hiervan.
“Hy het intens belang gestel in die wêreld waarin hy geleef het en het wyd gelees. ’n Mens kon met vrug luister na sy opinie oor ’n wye spektrum van onderwerpe, van wetenskap tot teologie tot letterkunde tot boerdery – op voorwaarde dat jy hom aan die gesels kon kry! Meestal het hy eerder probeer luister. Sy rustigheid en ewewigtigheid kon almal om hom kalmeer en help om ego’s eenkant te sit en die saak kalm en objektief te beredeneer. Hy het ons as kinders geleer dat die een wat in enige situasie kwaad word, reeds verloor het. En laastens, sy vermoë om met ’n vonkel in die oog en ’n pittige opmerking, die humor in enige situasie te kan geniet …”
Na die dood van prof Phil Robinson, word twee dankdienste gehou. Op 26 Julie 2018 uit die VGK Sarepta, ’n gemeente waaraan hy met groot liefde verbind was. Op 27 Julie 2018, uit die NG Gemeente Durbanville, waar hy en Rensia die laaste tyd gewoon het. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.