Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Dis ’n wonderwerk,’ sê oom Bonus (93)

Op 93 is oom Bonus Willemse so opgewonde soos ’n kind.

Hy het ’n jaar of wat gelede die Audio-Bybel ontdek en kan nie uitgepraat raak oor die moontlikhede wat dit bied nie. “Dis ’n wonderwerk, hoor,” verklaar hy.

In sy hart was oom Bonus van vroeg af ’n evangelis. In sy middel twintigs het hy ’n twee jaar lange sendingkursus in Nederland gedoen, maar sy loopbaan het uiteindelik in die onderwys in swart gemeenskappe gelê.

Vir hom was dit altyd ’n vraag hoe hy mense kan kry om Jesus Christus as saligmaker te aanvaar. Soveel van die mense in gemeenskappe waar hy gewerk het, kon nie lees nie. Wat help dit dan om vir hulle ’n Bybel te gee?

Maar met ’n Audio-Bybel kan hulle luister hoe iemand die Bybel in perfekte Zoeloe voorlees. Of Xhosa. Of Ndebele. Of water taal ook al.

En dit werk eenvoudig. Daar is niks op die instrument geskryf wat iemand hoef te lees nie. Net ’n paar simbole wat hulle moet verstaan. Boonop het dit agterop ’n sonkragpaneeltjie waardeur dit herlaai kan word. Jy sit hom net ’n uur of wat in die son, dan kan jy weer ure lank na die Bybel luister.

Oom Bonus was so opgewonde oor die Audio-Bybel, dat hulle in hulle aftree-oord in Pretoria ’n fonds gestig het sodat elke werker ’n Audio-Bybel kry. Sy enigste ideaal vir die die res van sy lewe, so verklaar hy, is dat hierdie Audio-Bybels grond vat en so ver moontlik versprei word.

Self kan hy egter nie meer vreeslik baie doen nie. “Ek is 93,” sê hy. Hy beweeg met moeite en woon nie eens meer Sondae die eredienste by in die NG gemeente Lynwoodrif waar hy lidmaat is nie.

Maar waar hy kan, vertel hy mense van die Audio-Bybel. “Dink aan die moontlikhede,” sê hy telkens.

Hy dink byvoorbeeld aan soveel pastore van onafhanklike kerke wat nie self kan lees nie. Dan gebeur goed soos dat hulle hulle mense met insekdoder spuit of laat gras eet of ander vreemde goed laat doen.

’n Mens moenie hulle probeer bestry nie, sê oom Bonus. Jy moet met hulle vriende maak en vir hulle ’n Audio-Bybel gee. Dan kan hulle dit vir hulle gemeente speel. Die volume kan verstel, sê oom Bonus. As jy hom hard stel, is dit goed genoeg dat klein saaltjie vol mense daarna kan luister. ’n Mens kan dit deur oorfone of oor ’n luidspreker speel.

“Sulke kerke het duisende volgelinge. Dink net watter impak dit kan hê.”

Daar is soveel plekke en soveel geleenthede waaraan oom Bonus kan dink. Plekke en geleenthede waar ’n mens ’n Audio-Bybel kan gee.

“Is dit nie een van die heel beste goed om te doen nie?” wil hy weet.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top