Gebede eerder as pleidooie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

AMS Breytenbach van NG gemeente Heidelberg (Wes-Kaap) skryf per e-pos:

Ek was uit die veld geslaan met ds Christo Nel se pleidooi (Kerkbode, 14 Junie 2019) , maar by nadenke is daar iets positief waarby almal van ons kan leer. Ek glo dis waarom die brief/pleidooi gepubliseer is.

Die pleidooi sal niks oplewer nie, want ons moenie op mense staatmaak nie. Psalm 146:3 lees: “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie.”

Verder in vers 5 lees ons: “Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.”

Dit sal beter wees as ons vir die President bid dat hy soos Salomo met insig en wysheid toegerus sal word om die land as sulks te lei/regeer. Só leer die psalms ons in bv Psalm 72: “Leer tog die koning , o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil …”

Versaak ons nie ons Christelike plig as pleidooie in plaas van gebede gerig word nie? Spring ons dalk te gou op die publieke meningswa, beïnvloed deur sosiale media en ander politieke meningsvormers? Predikante is versigtig om “politiek” te preek.

Die NLV vertaal Psalm 116:15 as “Die dood van sy getroue dienaars is kosbaar vir die Here” dit is dus

“… geen geringe saak nie” (1983-vertaling). Ons moet die ou mens afsterf en nuut word, want dan beteken ons iets vir die koninkryk van God wat ons hier op aarde moet laat kom.

Maar in die neerskryf van dié pleidooi vind ek ’n katarsis van ’n diep getraumatiseerde persoon; iemand wat deur die stappe van traumaverwerking wroeg.

Neerskryf van jou gevoelens is ’n goeie stap, maar daar’s nog ’n lang proses voor van verdere opstand, hartseer, onderhandeling, ens.

Bystand in die proses(se) sal ds Christo Nel, sy gemeente en die geliefdes van die slagoffers ook in die Psalms vind.