‘Wêreldse hof’ praat hier ook Bybelse waarheid, meen drukgroep

Die “wêreldse hof” se uitspraak oor selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk “verwoord in werklikheid die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al haar lidmate”.

Só sê die groep NG lidmate wat hulle vroeër tot die Hooggeregshof gewend het oor die Algemene Sinode se 2016-besluit oor dié kwessie.

“(Die kerk se houding) moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit,” luidens ’n verklaring wat lede van die groep op 15 Julie aan verteenwoordigers van die moderatuur voorgelê en tydens ’n drie uurlange ontmoeting op Stellenbosch bespreek het.

Ds Nelis Janse van Rensburg het die gesprek namens die moderatuur as indringend beskryf. “Die moeilike kwessies was op die tafel,” het hy gesê oor die groep se besoek.

Verteenwoordigers van die 12 lidmate, waaronder dr Frits Gaum, meen die proses wat gelei het tot die “tydrowende en duur hofsaak”, waarin uitspraak op Vrydag 8 Maart by die Hooggeregshof in Pretoria gelewer is, het wederregtelik ’n kerklike halt uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en die bediening van gay en lesbiese predikante. Gaum het by navraag hieroor aan Kerkbode gesê die “restitusie” wat nou in die kerk nodig is, is dat (lidmate wat deur die 2016-besluit geraak is) hulle “volledige rol in die kerk kan speel – sonder voorbehoude”.

Janse van Rensburg het gemaan dat hierdie jongste voorlegging “nie as sodanig” by die Algemene Sinode sal dien wanneer dié in Oktober vanjaar vergader nie. “Die groep loop die proses ’n bietjie vooruit. Tydens die komende sinode moet daar eers gravamina (beswaarskrifte) hanteer word wat betoog dat die 2015-besluit ongeldig was. Eers nadat daardie gravamina hanteer is, kan die kerk sy verdere optrede bepaal. Ons kan dus op hierdie stadium slegs spekuleer oor die uitkoms en die pad wat die sinode gaan kies,” sê hy.

Die voorlegging bevat vyf punte waarvan die laaste lui dat sinodegangers in Oktober “ernstige oorweging” sal moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle.

Die punt rondom die “gebruik” van die hof in besluitneming oor die selfdegeslagkwessie kom intussen ook gereeld op Kerkbode se brieweblad en kommentaarafdeling te berde. “Die gay-saak het die vraag na sonde en menseregte opgeroep,” skryf ds Johann Theron van NG Kraaifontein-Noord vandeesmaand in die briewe-afdeling. “Ten spyte van die hofbeslissing is die gelowige (gay of nie) se vraag steeds wat God in die Woord daaroor sê. Vir die pro-gay uitleg om nou met ’n ompad deur die hof en menseregte die Skrifinterpretasie oor die saak te bepaal, sal nie werklik troos bring nie. Die nadelige gevolg hiervan is dat die gesag van die Woord afgewater word ten gunste van menseregte.”

Kerkbode het ook einde Mei berig dat ’n NG gemeente naby Secunda in Mpumalanga besig is om ’n “drukgroep” binne die kerkverband te vorm, om te probeer toesien dat die NG Kerk ophou “om selfdegeslagverhoudings goed te praat” en hulle weerhou daarvan om ’n wêreldse hof te gebruik “om hulle homoseksuele optrede en lewenstyl te regverdig.”

Die 12 sê in hulle verklaring onbillike diskriminasie is nie net in stryd met die Grondwet nie, maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod en ewe duidelik in Paulus se woorde: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Rom 13:10),” luidens hulle voorlegging wat Kerkbode hieronder publiseer.

Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, sê oor die spanning tussen kerk en hof dat die kerk in die eerste plek vanuit oortuiging besluite moet neem. “Die Sinode van Wes-Kaapland het ’n insiggewende besluit hieroor geneem wat ruimte maak vir die handhawing van meer as een standpunt. Hulle moderamen het ook ’n gelykluidende beskrywingspunt na die Algemene Sinode gestuur. Die sinode het dus heelwat opsies wanneer hy oorgaan tot besluitneming oor hierdie aangeleentheid,” aldus Janse van Rensburg. – Kerkbode-redaksie.


PERSVERKLARING: VOORLEGGING AAN MODERATUUR; 15 JULIE 2019

{HIERDIE DOKUMENT VERTEENWOORDIG NIE KERKBODE SE STANDPUNT NIE. DIT IS ’N PERSVERKLARING EN WORD TER WILLE VAN DEEGLIKHEID GEPUBLISEER SOOS AAN DIE REDAKSIE VERSKAF. – Red}

Ons verwelkom die geleentheid om met die Moderatuur van die Algemene Sinode te praat oor “die pad vorentoe” in die lig van die Hofuitspraak oor die posisie van gay (LGBTQI+)-lidmate in die NG Kerk.

  1. Nadat dit duidelik geword het dat daar geen ander uitweg is as om die Hooggeregshof te nader ten einde regsekerheid te verkry in verband met die besluit van die Algemene Sinode 2016 oor die posisie van LGBTQI+-lidmate in die NG Kerk nie, het ons teen ons sin dié weg gevolg. Dit was nadat moderatuurslede self te kenne gegee het dat regsekerheid nodig is en nadat ons by meer as een geleentheid regsadvies deur senior advokate aan die betrokke kerklike liggame verskaf het. Op die vraag waarom die appèlliggaam wat deur die Algemene Taakspan Regte aangewys is, voortgegaan het om die appèlle teen die 2015-besluit van die Algemene Sinode te hanteer ten spyte van die oorweldigende regsopnie wat daarop dui dat sulke appèlle nie toelaatbaar is nie, het ds Thijs van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam, geantwoord dat die regsadvies “ongetoetste opinies” is en dat hulle werk met die Kerkorde wat wel voorsiening maak vir appèlle (sien Weerlose weerstand deur André Bartlett, bl 233). Die Hooggereghof se uitspraak toon egter dat die “ongetoetste opinies” presies in die kol was en dat die appèlliggaam ernstig gefouteer het deur nie daarna te luister nie en dat hulle die Kerkorde heeltemal verkeerd verstaan het.

Dit sal na ons mening gepas wees indien die Algemene Sinode 2019 die betrokke appèlliggaam en die Algemene Taakspan Regte onomwonde daarop wys dat hulle optrede en advies aan die Algemene Sinode 2016 groot verleentheid vir die NG Kerk veroorsaak het.

  1. Die Hooggeregshof het ook verklaar: “It is unfair to exclude members of the Church of their full and equal enjoyment of all rights and freedom the Church offers” (vgl uitspraak, pt 81, bl 47). Terwyl die Hooggeregshof se bevinding lui dat “this Court has decided the unfairness or fairness of the discrimination in terms of the Constitution” (pt 82, bl 48), is onbillike diskriminasie nie net in stryd met die Grondwet nie, maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod en ewe duidelik in Paulus se woorde: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Rom 13:10). As onbillik teen die naaste gediskrimineer word, word hy/sy kwaad aangedoen – wie daardie naaste ook al is.

Die “wêreldse hof” se uitspraak verwoord in werklikheid die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al haar lidmate: dit moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit.

  1. Die besluit van die Algemene Sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudings is, in die lig van die uitspraak van die Hooggeregshof, die geldende besluit van die NG Kerk oor hierdie saak. Dié besluit sê in kerklike taal wat die Hooggeregshof in regstaal gesê het: “Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap”. Dit beteken onder meer dat burgerlike verbintenisse van gelowiges van dieselfde geslag in die kerk deur predikante “wat hulle weg oopsien” bevestig kan word – een van die voorregte (ofte wel “full and equal enjoyment”) wat die kerk aan haar lidmate bied. Maar die 2015-besluit oefen nie gewetensdwang uit nie en verklaar ook: “Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ’n gees van Christelike liefde te doen.”

Die besluit van die Algemene Sinode 2015 staan in die teken van Christelike liefde en gebied nie, maar gee ruimte. Indien die Algemene Sinode weer besluite sou neem wat op onbilike diskriminasie neerkom, sal dit minagting van die hof daarstel. Dit is so omdat die hof se beslissing nie net op prosedurele gronde nie, maar ook op substantiewe gronde berus. Die kerk moet ook alles in haar vermoë doen om spoedig ’n reëling met die Departement van Binnelandse Sake te tref sodat predikante van die NG Kerk burgerlike verbintenisse (“trouverbintenisse”) kerklik kan bevestig. Die kerk moet verder daarop bedag wees om nie nuwe strukture van uitsluiting te skep nie, maar bly besin oor hoe om radikale inklusiwiteit te beliggaam.

  1. Die feit dat die Algemene Sinodale Moderamen nie gesorg het dat die 2015-besluit uitgevoer word nie maar dit “opgeskort” het – en later in hofstukke toegegee het dat dit ’n fout was – het mense ernstig benadeel. Dit het nie alleen gelei tot ’n buitengewone Algemene Sinode wat op haar beurt verkeerd opgetree het nie, maar uiteindelik tot ’n tydrowende en duur hofsaak. In die proses is daar in werklikheid wederregtelik ’n kerklike “halt!” uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en spesifiek oor die bediening van afgestudeerde en in sommige gevalle gelegitimeerde gay en lesbiese predikante. Die vraag is nou hoe herstellende geregtigheid (restitusie) kan geskied. Of is ’n netjies geformuleerde verskoning/apologie voldoende? Prop Hennie Pienaar skryf tereg in eKerkbode (30 April 2019): “Woorde wat nie tot dade lei nie, beteken niks nie, en vir my as ’n gay gelowige in die NG Kerk is al die woorde en verskonings net hol. Iets DAADwerkliks moet gebeur vir heling, genesing en versoening.”

Oor homoseksualteit is daar die afgelope drie dekades dermiljoene woorde in die NG Kerk gesê en geskryf. Die tyd om die woorde dade te laat word, het nou aangebreek.

  1. Die NG Kerk, en by name die Moderatuur, Algemene Sinodale Moderamen en Algemene Sinode 2019, sal na ons mening ernstige oorweging moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle, en sodat hulle ’n konstruktiewe en noodsaaklike bydrae kan lewer ten opsigte van onder meer genderkwessies en die skep van ’n meer lewegewende geloofsgemeenskap. Prop Pienaar stel in sy brief voor dat daadwerklike pogings aangewend moet word om LGBTQI+-mense hulle plek in kerkrade, taakspanne en sinodes te laat inneem. Hy noem ook die moontlikheid dat die Algemene Sinode kan help om fondse te voorsien sodat bekwame LGBTQI+-lidmate gemeentes kan besoek met die opdrag om leiers in die gemeentes te begelei en op te lei ten opsigte van genderdiversiteit en -sensitiwiteit.

Herstellende geregtigheid beteken onder meer dat LGBTQI+-lidmate doelbewus by kerklike bedrywighede betrek moet word. ’n Beroep word op die Algemene Sinode 2019 gedoen om konkrete besluite in dié verband te neem. Buitengewone moeite behoort gedoen te word om gelegitimeerde LGBTQI+-predikante (en diegene wat nie gelegitimeer is nie vanweë die implikasies van hulle seksuele oriëntasie) kerklik te betrek en hulp te verleen met die finansiering van poste vir hulle in gemeentes of breër kerklike verband.

Die pad vorentoe vir die NG Kerk en haar LGBTQI+-lidmate, moet ’n pad wees van herstellende geregtigheid nadat daar dekades verloop het waarin dié lidmate as “vreemde verskynsels” onder die kerklike loep geneem is en hulle en hulle families en vriende gruwelike onreg aangedoen is. As ons die evangelie van Jesus Christus ernstig opneem, is daar geen ander pad nie as die pad van daadwerklike liefde deur LGBTQI+-lidmate sonder enige voorbehoud hulle volle regte en voorregte van lidmaatskap van die NG Kerk te laat opneem!

Ons bid die Algemene Sinode 2019 die seën van die Here toe.

Lidmate van die NG Kerk:

Laurie Gaum

Judith Kotzé

Pieter Oberholzer

Lulani Vermeulen

Hennie Pienaar

Michelle Boonzaaier

Murray Coetzee

Nadia Marais

Hendrik Bosman

Leon Wessels

Chris Jones

Frits Gaum

Julie 2019

3 thoughts on “‘Wêreldse hof’ praat hier ook Bybelse waarheid, meen drukgroep

  1. Sarel Strydom says:

    Terwyl vergadering op vergadering gehou word en hierdie klein groepie Lidmate die Kerk gevange hou is daar werklik dringender sake wat die Kerk se aandag eis soos bv. Die Lidmate wat graak word deur die groot en steeds groeiende getal moorde in ons land. Die groeiende getal misdaad teen ons kinders. Die Kerk het hier ‘n geweldige groot Pastorale verantwoordelikheid.

  2. Frits Gaum says:

    Ds Janse van Rensburg sê, as ek hom reg verstaan, dat die Algemene Sinode eers in Oktober die gravamina wat die 2015-besluit oor selfdegeslagverbintenisse omver wil werp, moet behandel voordat dié besluit uitgevoer kan word (eKerkbode, 23.07.2019). Dit is nie korrek nie. Dis wat gebeur het direk na die 2015-sinode toe die Moderamen dié besluit opgeskort het en later toegegee het dat dit ‘n fout was. Op die oomblik is die 2015-besluit die enigste geldende besluit van die Algemene Sinode en dit kan nie by voorbaat opgeskort en daarom steeds nie uitgevoer word nie. Daarom was die ordening en bevestiging van ds Philipp Dietmann onlangs as predikant van Stellenberg-gemeente in die lig van die 2015-besluit heeltemal in orde. Ds Dietmann is in ‘n selfdegeslag-verbintenis met sy lewensmaat. En daarom behoort die NG Kerk ook sonder verwyl aansoek te doen by die Departement van Binnelandse Sake sodat predikante van die NG Kerk wat daartoe bereid is, burgerlike verbintenisse kerklik kan bevestig. Ek verneem dat dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, reeds in dié verband met die departement geskakel het.

  3. Dr Ralph Barnard says:

    Dit is onbegryplik dat mense soos ds Johann Theron reken “dat die gesag van die Woord afgewater word ten gunste van menseregte.” Hoekom word menseregte in opposisie gestel met die Bybel en dan spesifiek met Jesus se uitsprake en houding ten opsigte van diegene wat in die destydse Joodse gemeenskap as godsdienstig uitgerangeerd beskou is? Die sneller vir die komplot om Jesus dood te maak, was juis Jesus se verbreking van daardie diskriminerende sosiale struktuur. As ons Jesus nie navolg op dáárdie kruispad nie, het die kerk die Jesuspad byster geraak.
    Geweldsmisdade hier ter plaatse is juis die gevolg van die onderwaardering(veragting) van die lydendes se waardigheid as mense, ewemense wat beeld van God is.
    As kerk behoort ons ‘n getuienis te laat deursuur waarin mense leer om onvoorwaardelik liefde en lewensruimte te gun. ‘n Nuwe kultuur moet geskep word. ‘n Jesuskultuur. En ‘n Jesuskultuur is ‘n menseregtekultuur. Meer nog, dit is ‘n mensliewendheidheidskultuur. En só ‘n kultuur is die enigste “wapen” teen die huidige geweldskultuur.

Comments are closed.