’n Dogtertjie se onthou

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Betsie van Niekerk skryf:

Gewelddadig ontvoer, teen haar wil gevat, alles van haar weggeneem: haar naam, haar familie, haar land.

Wie was sy? Wat was haar naam? Wie was haar familie, haar ouers? Niks hiervan word verklap in haar opge­te­kende woorde nie, en tog klink haar stemmetjie baie helder deur eeue heen.

Anoniem, ’n naamlose slagoffer van mensehandel het sy op tien-/elfjarige ouderdom teen haar wil die “bediende” geword van ’n baie ryk en vername man se vrou.

Was dit hierdie verlange van haar, hier­die versugting wat uitgekom het in die enigste sin wat in haar “dagboek” opgeteken staan? Het sy uit haar beurt gepraat of wou sy eintlik haarself herinner aan wie sy was toe sy hierdie woor­de, hierdie versugting geuiter het: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” Ag, as sý maar net weer in Israel kon uitkom, as haar Meneer maar net geweet het, wat sý weet …

Die jong dogtertjie wat uit Samaria ontvoer is op een van die Arameërs se strooptogte het méér geweet as Naäman, die hoof van die leër. Sy het geweet van die God van Israel wat wonders doen. Al die ander dinge is haar ont­neem, maar niemand kon hierdie stukkie onthou uit haar geheue wis nie. Dít was reeds in haar kindwees vasgelê voordat sy ontvoer is, en dít is op die ou end al wat oorbly, al wat sy weet – daar is ’n profeet in Samaria, hy dien die God van Israel wat kan genees …

Hoekom het hierdie ryk gesin en die koning van Aram na die klein, naamlose diensmeisie geluister? Haar “Meneer” was melaats, destyds ’n ongeneeslike siekte en doodsvonnis. Dalk het sy haar meesteres se trane gesien, sy het hulle mag­te­loosheid gesien en net hierdie één antwoord geken: Daar is ’n profeet in Sa­maria, ’n profeet van die God van Israel, en by Hóm is daar beslis genesing. Hoor hoe helder oortuigend klink dié dogtertjie uit Samaria se stem deur die eeue …

Naäman kry toe sy koning se toestemming en vertrek met vragte goud en silwer en twaalf stelle klere. Dalk het sy ’n entjie saam met die wa gehardloop … Israel se rigting. Terug na haar ouers, haar familie, haar land.

Die profeet Elisa genees haar Meneer, maar verwerp sy geskenke. Die Here is nie beïndruk met goud en sil­wer, vernaamheid en rykdom nie. Naäman kom egter tot geloof in hierdie dogtertjie se God en hy bely: “Ek weet nou daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel.” Naäman vat twee vragte grond uit Israel terug na Aram, waarop hy brandoffers en diereoffers “net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie” wil offer.

As ons maar net soos die dogtertjie van Samaria kon glo, gestroop van al ons voortvarende godsdienstigheid, ons valse identiteite, ons pogings tot vernaamheid. Ag, as ons maar net sommer so na God toe kon gaan sonder ons vragte goud en silwer, ons stelle klere. Ons sal vrymoediglik saam met haar vir ons “menere”, ons kinders, ons vriende sê: Daar is Iemand wat kán genees en Hy is nie ver nie, sommer net ’n onthou-sinnetjie naby. Die dogtertjie uit Samaria sê so (2 Konings 5).