‘Hoe gaan daardie huis lyk?’

“Ek het my beste probeer om nie te glo nie, maar ek kon dit nie regkry nie.”

Dié uitspraak is deel van die verhaal van Gielie Hoffmann, 35-jarige rubriekskrywer, openbare spreker en konsultant van Pretoria, wat hy tydens die laaste oop sessie van die Lentekonferensie met sy gehoor gedeel het.

Gielie het vertel hoe hy op ’n familieplaas net buite Pretoria grootgeword het. Hy is die draer van die familiename: Gilliam Schoonbeek Hoffmann. En dit rus op sy skouers om die familienaam te laat voortleef. Hy sal graag ’n klein Gilliam vir die wêreld wil gee, alleen of saam met ’n partner, deur aanneming of ’n surrogaatma.  “Want sien die klong skop links.”

Hy vertel van sy geloofshuis. Hy is in die NG gemeente Erasmia gedoop, het al die antwoorde in die Sondagskool geken, het hard saamgesing en stilgesit in die kerk.

In graad 11 het hy belydenis van geloof afgelê in die gemeente Wierdapark-Suid, by ds Cassie Carstens, wat skriba van die Algemene Sinode was. Hy bestempel dit as “die enkele mees invloedryke jaar in my lewe as dit kom by geloof en liefde en ’n verhouding met die Here en ’n verstaan van wat kerk is”.

Maar ná matriek verander sy verhoudingstatus met die kerk na “It’s complicated.”

In 2004, by die Algemene Sinode, vertel ds Cassie dat sy een seun gay is. Hy vertel van hulle worsteling en van hulle gesin se besluit: “Hy is ons seun, ons is lief vir hom, hy het ’n plek in ons huis.”

Lees ook: ‘This little light of mine, I’m gonna let it shine’

Die volgende Sondag preek ds Cassie. Gielie sit saam met sy ouers in die kerk, en “ek wens ek kan hulle vertel wat ek weet, maar ek sien wat skryf die mense in die koerante en ek sien hoe kwaad is ander predikante en ek hoor hoe mor van die boere onderlangs oor hulle tee en ek weet: ek gaan moet stilbly. Almal is nie in hulle harte waar ds Cassie is nie.”

Dit was die begin van Gielie se tien jaar weg van die kerk. Hy vertel dat hy die gemeenskap van die sogenaamde onheiliges geniet het. “Mense soos ek wat in die kerk wou wees, maar nie tuis gevoel het daar nie.”

Toe kom die sinodes van 2015 en 2016.

Kort na die 2016-sinode woon Gielie ’n familiebegrafnis by. Op die kerk se kennisgewingbord lees hy die gemeente se verklaring: “Ons het ook ons gedistansieer van die besluite van die pas afgelope Buitengewone Sinode en die mooi besluite van 2015 bevestig. Dit beteken ons aanvaar gaypersone en en hul verbintenisse onvoorwaardelik …”

Hy was nog nie terug in die kerk nie, maar hy was besig om geselsies in die parkeerarea te maak. In sy geestesoog kon hy begin sien hoe hy weer deel kan wees van ’n huis met baie vertrekke.

Lees ook: Wat ons by Afrikaner-dissidente moet leer

Gielie sê hy het nie gedink iemand jaag jou uit jou eie huis weg nie, maar toe lees hy in die koerant die volgende stukkie uit die NG Kerk se hofstukke: “Dit staan gay lidmate vry om by enige Christelike kerk wat die Bybel soos hulle interpreteer, aan te sluit, of selfs hul eie kerk te stig.”

Hy meen egter dat dit nou – “’n paar miljoen rand later en ’n paar groot stappe terug” – meer as ooit die tyd is om saam te te verbeel, saam te onthou en saam te droom.

Hy meen die toekoms is reeds hier, en om dit te illustreer vertel hy hoe ’n gemeente hom genooi het om met die belydenisklas te kom praat oor sy reis as gay boerseun. Hierdie bereidwilligheid van die kerk om sulke gesprekke te fasiliteer, gee hom hoop. Hy wens hy kon as 18-jarige so gesels.

Hy verwys na verskille en andersheid en wonder: “Toe die kerk nie meer na buite kon ontmens nie, was dit toe hy begin het om dit na binnetoe te doen? Om enige vorm van andersheid te beklemtoon, om kwesbares en minderhede te vervreem?”

Hieroor sê Gielie: “Die hele gesprek oor gay lidmate en predikante moet gesien word as ’n kans vir ons – en ek is nou hier, in die kerk, and I’m going nowhere – om die diskoers te verbreed na alle minderhede, alle vorme van andersheid, almal wat in die huis wil wees, maar nie tuis voel nie. Ek was vir 10 jaar daarbuite. Daar is baie soos ek, wat vir watter rede ook al nie meer tuis gevoel het nie – maar sal wil terugkeer. En baie wat nou daar is wat daar sal wil bly. En baie wat in die toekoms nog daar gaan grootword.”

En dan vra hy: “Hoe gaan daardie huis lyk?”