Lizzie Ehrke was die derde van tien kinders. Sy is in 1939 met Dries le Roux getroud. Hulle het vyf kinders gehad waarvan een oorlede is. Nadat hulle in Durban en Mayfair in Johannesburg gewoon het, was hulle 39 jaar lank in nog ’n Johannesburgse voorstad, Crosby, voordat hulle in 1991 na Randfontein verhuis het. Dries is in 1997 oorlede.
Lizzie was oral voluit betrokke by die kerk. Jare was sy by die Bond van Dienaresse en later by die Vrouediens betrokke. Sy was ’n deugsame vrou. Mense het geweet dat hulle op haar kon staatmaak. Sy het ’n oop hart en hand gehad en ook almal gehelp wat siek of sterwend was.
Lizzie het ’n formidabele geheue gehad om mense en hulle omstandighede te onthou. Selfs nadat sy 100 jaar oud geword het, het sy vir mense by die naam voorbidding gedoen en wanneer sy hulle gesien het hulle by die naam aangespreek en navraag oor hulle omstandighede gedoen. Sy het almal opreg liefgehad en die vrug van die Gees uitgeleef. Sy was bevoorreg om haar agter-agterkleindogter te kon sien.
Lizzie wou graag na die Here toe gaan. Binne twee weke het die Here haar gebed verhoor en is sy van ouderdom oorlede. Haar familie, vriende en die groot aantal mense vir wie sy gebid het, eer haar nagedagtenis.
- Ds Hennie le Roux is emeritus-predikant wat 30 jaar by Randpoort bedien het.
