Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Tristán Kapp van Centurion skryf: Geagte Kerkbode, ek is ‘n finale-jaar Teologiese student aan die Universiteit van Pretoria – en ek is moedeloos. My hart is aan flarde want die kerk het vir my ontaard in ‘n separatiste sametrekking wat die “in-groep” het en dan is die res van die samelewing wat nie noodwendig konformeer tot die ‘ekklesiologiese status quo’ nie welkom nie, en word dus gebrandmerk as die “uit-groep”. Hierdie sosiologiese dualisme is algemeen in Sosiale Sielkunde, en dit dien as ‘n maatstaf wat sekere groepe se gedrag teenoor mekaar bepaal.
Sedert ek begin het met die akademie, het ek al hoe meer begin fout vind met die kerklike benaderinge. Mense rondom my pleeg selfmoord, hulle misbruik alkohol, hulle verdrink in hulle verdriet en smart want hulle het nêrens waar hulle ‘n hawe kan vind nie. Maar hulle is van die wonderlikste mense, en hulle het ‘n haat en wrok teen die kerk wat ek deel. Ek is ‘n musikant: ‘n sanger en violis – ek het my talente vir die kerk gebied, maar elke keer wat ek my mond oopmaak oor die onreg en konserwatisme wat seevier is ek uitgegooi, deure word in my gesig toegeklap omdat niemand my die kans wil gee om gehoor te word nie.
Nou sit ek met ‘n graad wat basies niks werd is nie, want die kerk wil my nie hê nie. Hoekom? Wat sê ek wat so verkeerd is? Ek erken nou wel dat die fundamentalistiese siening oor die Bybelse geskrifte wat dit beskou nie die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ‘n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons. Meeste van die etiek is uitgedateer en kan nie op die moderne samelewing gedwing word nie. Ek het (veral) vriende wat gay is, lesbies is en biseksueel is. Almal het die kerk (verlaat) omdat hulle nie ‘n hawe daarin kon vind nie. Die kerk roem homself daarop dat almal welkom is, maar eintlik is dit “net sekeres is welkom”. Hoekom kan ons nie almal innooi om saam met ons ‘n gemeenskap te wees vir mense met seer en lyding nie? Ek gee nie om wat hulle doen, wie hulle doen (as ek dit so direk kan stel), en watter idees hulle onderhou wat so skadelik is vir die Christelike geloof nie?
Die kerk is nie ‘n eiland nie, maar hy maak asof hy een is (na myns insiens) – mense sterf van die honger en sielkundiges kan nie by hulle uitkom nie, waar is die kerk? Waar is die kerk wat die vreemdeling verwelkom sonder om ‘n Bybel onder hulle arms in te dwing nie? Kan ons nie net saam aan die tafel van gemeenskap, menslikheid en liefde sit en samesyn beleef nie? Die Bybel lê weerloos toe in die hande van onkundiges en selfsugtiges wat hul eie ideologieë prys bo die voorbeeld van inklusiwiteit wat Jesus demonstreer het. Ek sit sonder werksgeleenthede, want ek is anders terwyl die kerk baklei, hoekom het ek dan deur al die moeite gegaan om te studeer in ‘n rigting waarin ek werklik geglo het? En dit net omdat ek (nes Jesus) saam met “die ander” as een van hulle my tyd, energie en denke op spandeer.
In die “ander” lê die toekoms van die koningkryk…

Tristán
Die redes vir die verwerping wat jy ervaar kan gevind word in jou derde paragraaf; jy wil alle etiek by jou vertolking daarvan aan pas, “nuut” beteken nie noodwendig “goed” nie. Dit herrinner my aan die persoon wat vir iemand raad gee “Wees nou redelike en dink soos ek”. (konserwatisme is NIE noodwendig gelyk aan verkeerd nie) Terwille van eenheid, buig ‘n bietjie agteroor dan sal ek ook.
Wat jou vraag “waar is die Kerk?” betref wil ek antwoord “daar waar jy is”. Die Kerk is nie ‘n volmaakte liggaam nie maar ‘n gekraakte kruik; het nie ‘n oplossing vir alles nie en kan ook nie alles wees vir almal nie. Die satan en sy volgers het nog altyd die Kerk as die vyand gesien en elke geleentheid gebruik om haar te kritiseer en skuldig te laat voel. Almal praat altyd van die Kerk asof hy/sy nie deel daarvan is nie maar is iemand anders wat blameer kan word.
Jy moet redelik jonk wees want ek kan sien dat jy nie op hoogte is van waar oral die NG Kerk (as instelling) betrokke is nie, jy sal jou hande saamslaan. Ek en jy is die Kerk (die onsigbare Kerk). As daar fout is moet ek dit by myself begin soek en dieselfde geld vir jou. Dis nie lekker om dit te hoor nie maar dit is die werklikheid.
As jou gemeente die “anders mense” (gay, ens.) onwelkom laat voel, is hulle verkeerd en moet introspeksie gedoen word. Die anderkant van die pennie is ook geldig, ons is almal in sonde ontvang en gebore met elk ons eie seer en pyn, dis nie gereserveer vir sekere mense alleen nie. Die mens bly doemwaardig totdat hy/sy hul sonde bely en vergifnis ontvang. Jesus het dit ook so gehad, Hy het die sondaar innig lief maar HAAT die sonde.
My hart gaan uit vir jou want jy het jou eie realiteit en dis ‘n deurmekaarplek. Ek is seker as jy my omstandighede geken het, sou jy nie plek met my wou ruil nie.
Jou brief het my nie onaangeraak gelaat nie, ek is dankbaar vir die las wat ek dra, joune klink erg vir my.
Voorspoed vir jou.
Tristan, ek dink eerstens moet jy in ag neem dat jou verstaan van die Bybel reglynig teenoor Artikel 1 van die NG Kerk kerkorde is. Moet dan nie verbaas wees as jou boodskap nie aanklank vind in die verband nie. Tweedens was Jesus inklusief ja, maar Hy het ook mense weggestuur met die woorde “moet nie verder sondig nie” en ander weggewys wat nie wou verander nie (bv. die ryk jong man). Ek sê nie ek is perfek nie, vêr daarvan, maar ons moet liefde én waarheid kan deel, nie net een van die twee nie.
Hallo Tristán, Die onvermoë van die kerk om gay mense na Jesus toe te lei is die probleem. Jesus het gays net so lief soos ons almal wat gebroke is. Hy wil ons almal gesond maak. Dit help nie om skrifgesag onder verdenking te plaas om ’n antwoord te kry op die probleem nie. Sien die webwerf http://www.learntolove.co.za vir wonderlike getuienisse in hierdie verband.
Ek het geen teologiese onderig nie . Dit voel bietjie vreemd om ongevraag te reageer teenoor n geleerde jong man, maar in elk geval hier gaan ek ;
Ons is beroof van bekering deur ʼn proses van manupilasie . Ek sien God nêrens in die proses nie, maar bloot die misbruik van Sy naam . Ware bekering en ‘n vader verhouding met God , is daar nie. Net die woorde van die slimmes en verwardheid van die soekendes bly oor . Besluit self wie die argitek hiervan is.
Sit jou teologie en die wêreldse issues eers eenkand. My vriend , soek Jesus Christus . Keer 100% tot Hom en volg Sy wil met oorgawe. Jy sal verwonderd staan oor die transformasie . Dit het my 10 jaar gevat om tot by die besef te kom . Die gees van godsdienstigheid en tradisie is nie ʼn maklike oorwinning nie. Die ware kerk is die liggaam van Jesus en die bekeerdes. Ons noem dit maklik by woord , maar ongelukkig is dit vir baie dood in Gees. Die ware kerk het ook nie n naam nie , jy weet net as jy tussen hulle is , al is dit net 2 .
Die stryd is nie teen vlees en bloed nie .. jy ken die res. God wil sy kennis met jou deel en Hy het vrede vreugde vir jou bestem. God gee ons ook die verstandelike vermoë om Hom Sy wil vir ons te verstaan. Hy is soewerein . Ongelukkig wil mense Hom sien as demokraties en liberaal. Hy kan dit nie wees nie , want dan moet Hy kompromiee aangaan met die wereld.
Bid vir onderskeid en wysheid en moenie die woord verdraai om die wêreld te pas nie . As jy die waarheid begin leef , gaan jy vervolg word , maar in Sy teenwoordigheid groei jy ongelooflik. Jy ervaar Sy krag en kennis in jou.
Die lig het vir my aangaan toe die predikant eendag almal in die kerk as gered verklaar . Ek het besef ek is nie gered nie . My mooi lewe , my ouderlingspakkie is alles ‘n leuen.
Ek het wel geglo Jesus is daar maar nie oorgestap nie . Hy was net deel van van lewe in gewoonte en n wete. God het my terug gevat na die Dordtse leer reëls wat in my keel afgeforseer is in n tyd wat ek net wou kind wees. Ek kon my nie vereenselwig met Calvinisme nie . Ek het besef my lewe is net op myself gebou, ‘n brose fondament met pride as sement. Alles was een leuen. Jesus het my genadiglik daaruit geruk. Ek het net nooit ophou soek nie en God se al vat dit 10 jaar. Wie My soek sal vind …
Voor my bekering was my issues die belangrikste , my ongelukkigheid , my verwronge denke , my vals waarhede , my emosies , my vrese . Alles het om my gedraai en my selfbejammering. Presies waar die vyhand my wou he . Vandag is dit ‘n ongelooflike nice race en ervaar ek die vreugde om deur God in Sy Gees onderig te word en ek sien uit na môre.
Jy is nou in daardie soek begeerte wat God vir elke mens gee . Ongelukkig is nie almal gehoorsaam of wil nie deurdruk nie en kies dan maar die wereld . Staan sterk in geloof . Hy sal vir jou ‘n goeie bedienning gee op Sy tyd.
jy se: “Ek erken nou wel dat die fundamentalistiese siening oor die Bybelse geskrifte wat dit beskou nie die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons. ”
Dit is vir my nogal skokkend. Is dit nie dalk wat verkeerd is nie. Asseblief kom by Yeshua Hamashiach uit en laat die skrif (nie ander bygoed nie) vir jou oopgaan. Jy kort Jesus. As God sy woord beskerm en daarby staan vir altyd, wie is ons om dit in beeldspraak te verander. Alles is nou vir my baie meer duidelik net van daai sin van jou.
Ek hoor presies wat jy sê. Daar is baie (ek ook) wat iets soortgelyks ervaar selfs na baie jare in die bediening. Die oorvereenvoudigde “oplossings” hierbo kom juis nie by die kern van die saak uit nie. Ekself kan vrede maak met die koers wat die pasafgelope Algemene Sinode aandui – om ‘n lewegewende verskil te maak. Nie net oor die ewige lewe nie, maar ook hier en nou in elke-dagse lewe van mense wie ons paaie kruis.