Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Geloftedag: ’n Ope brief

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan Engelbrecht skryf: Dit is vanjaar reeds 35 jaar wat ek en my vrou verantwoordelik is vir die reël van ‘n Geloftediens hier in Bellville. Dit word goed bygewoon deur lidmate van die drie susterkerke asook ander kerkgenootskappe. Maar die grootste teenstand kom van ons eie NG Kerk en sy lidmate, mense wat nie weet waaroor dit gaan nie maar nogtans hulle teen die bywoning van ‘n erediens verset. Ook is daar gemeentes wat weier om dit af te kondig.
Die Kerkbode, amptelike nuusblad van ons kerk, swyg oor hierdie dag. Dit voel vir my dit is die amptelike doel van my kerk om hierdie dag dood te swyg.
Hierdie dag het sy oorsprong in die kerk. Op Sondag 9 Desember 1838 het die laer langs die Blyderivier naby die teenswoordige Ladysmith gestaan. Gedurende ‘n kerkbyeenkoms waar daar ywerig in Gees en waarheid tot God gebid is, is die Gelofte vir die eerste maal afgelê en elke aand daarna. As die Voortrekkers net op hulle primitiewe wapens moes staatmaak, sou hulle uitgewis gewees het. Hulle belangrikste wapen was hulle geloof. Hulle het vasgehou aan hulle Bybel, Psalmboek en Gereformeerde- belydenisskrifte wat hulle rigsnoer was by die huisgodsdiens.
Die oorwinning van die Voortrekkers was ‘n absolute wonderwerk van God: die regte plek, die mis en die feit dat dit nie gereën het nie.
In ‘n stikdonkernag, midde-in ‘n see van ‘n heidendom, is daar een kolletjie, soos van ‘n brandglas, een klein liggie van die Christendom. Saam met die digte mis wat oor die Ncome sweef, sweef die stemme van ‘n mannekoor van 464 manne. Die Zoeloes ken nie daardie God nie maar die jonges het gespot: “Sing maar, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie”.
Eerwaarde Francis Owen van die Brits-Amerikaanse Sendinggenootskap skryf in sy dagboek dat daar voor Bloedrivier geen bekeerlinge onder die Zoeloes was nie. Daarna het talle tot bekering gekom. Bloedrivier het ons kerk se sending oopgemaak. Die sinodes van Natal, Transvaal en die Vrystaat het agtereenvolgens besluit om Geloftedag te vier. In 1952 verklaar Dr.Donges, minister van Binnelandse sake, dat die dag voortaan Geloftedag sal heet en soos ‘n Sabbatdag gevier sal word. Die heiligheid van die dag word beklemtoon. Geen winkels sal oop wees nie.
Vandag word hierdie dag nog getrou deur byna elke gemeente in die Vrystaat gevier asook in Hermanus en Hartenbos. Maar in die res van die kerk word hierdie dag as ‘n sonde beskou. Vir kinders van die Here gaan hierdie dag oor God. Dit het niks te doen met Afrikanerskap nie, maar kindskap; om in ootmoed en verootmoediging aan God die eer en die dank te bring.
Nou my ope vraag: Waar en wanneer en deur wie is daar besluit dat hierdie dag nie gevier mag word nie? Waarom word hierdie dag geboikot en verset gemeentes hulle daarteen? Waar kom die misleiding vandaan? Waarom is my kerk nie meer by die Here nie? Het ons so ver afgedwaal dat ons nie meer aan die volk van God, ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom behoort nie? Kan iemand antwoord?

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top