2 November 1936 – 20 Februarie 2019
Ds Johannes Bekker is op 2 November 1936 gebore te Ficksburg in die skilderagtige Oos-Vrystaat. Sy gemeente, kollegas en familie noem hom Hannes, maar op universiteit word hy Johan genoem. Die Trompsburgers noem hom Haas, ’n naam wat hy tydens sy skoolloopbaan gekry het.
Hannes se oupa is Mauritz van den Heever, wat in sy jong dae in die goudmyne in Johannesburg werk, maar na sy troue met sy tweede vrou Kitty, vestig hy hom op Moolmansberg in die distrik Ficksburg waar hy tot met sy dood boer.
Hannes se vader is Frederick Thomas Bekker, een van nege kinders wat grootword op Klein-Donkerpoort in die distrik Trompsburg. Na sy eerste opleiding aan ’n plaasskool op Donkerpoort, word hy leerling aan die Hoërskool Trompsburg waar hy in 1924 matrikuleer, een van die briljante leerlinge in die skool. Hierna werk hy twee jaar lank by J Lees, ’n bekende Joodse winkel op Trompsburg. Onder leiding van ds J Rabie voel hy geroepe om predikant te word en vertrek na Stellenbosch waar hy BA Admissie loop. Maar weens gebrek aan geld moet hy sy studie staak en begin boer by sy oupa te Ficksburg en sedert 1938 op die plaas Kruidfontein in die distrik Trompsburg tot met sy dood. Hannes is twee jaar oud toe sy ouers na Trompsburg trek. Die roeping loop oor na sy seun Hannes wat in sy matriekjaar besluit om hom voor te berei vir die evangeliebediening.
Hannes beskryf sy kinderjare as besonder gelukkig, ten spyte van swaarkry en armoede. Hy is van 1944 af leerling aan die Laerskool en Hoërskool Trompsburg, waar hy baie gelukkige jare beleef en in matriek die hoogste punte behaal. Hy blink uit in rugby en is die binnesenter saam met Ben-Piet van Zyl, later ’n Springbokvleuel en predikant op Reitz tot met sy skielike dood aan ’n hartaanval op 10 Maart 1973 langs die rugbyveld waar hy as skeidsregter optree.
In 1956 begin Hannes aan die UOVS met die BA Admissie buitemuurs en werk as administratiewe beampte by twee skole. Op 25 Maart 1961 trou hy met Madge Burger, onderwyseres aan die Sentraal Laerskool in Bloemfontein, iemand met ’n besondere gawe om te organiseer en wat as orreliste haar man op Ventersdorp en Melville bystaan. In 1964 word Hannes student aan die kweekskool te Stellenbosch, waar hy hom akademies verdiep in die gereformeerde teologiese waarhede en hy word aan die einde van 1967 as proponent gelegitimeer.
Op 17 Februarie 1968 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Queenstown ontvang en bevestig. Die rede word waargeneem deur prof JCG Kotzé van Stellenbosch. Sy swaer, ds Francois Hay, was destyds sendeling op Queenstown. Die jong ds Hannes se intreepreek handel oor Jeremia 1:5-10. Hier identifiseer die jong proponent hom in ’n lieflike boerderygemeenskap, dit was wonderlike eerste ervarings in die bediening. Na ’n kort dienstyd neem die gemeente die naweek van 29-31 Oktober 1971 afskeid van die egpaar met hulle vertrek na Ventersdorp.
Hier word hy op 6 November 1971 leraar van die NG Moedergemeente Ventersdorp, waar die kerksaal in sy tyd gerestoureer word en ’n nuwe pastorie gebou word. In dié tyd raak hy en ds Danie Steyn ook intens betrokke by die stigting van Transwêreldradio (tans Radiokansel), in samewerking met ds Freddie Fourie.
Na nege jaar op Ventersdorp word ds Hannes Bekker op 20 Januarie 1980 bevestig as leraar van die NG Gemeente Melville in Johannesburg, ’n voorstedelike gemeente wat gegroei het tot die grootste in die Ring van Melville. Hy skryf in 1998: “Die woongebied en die baie restaurante in Melville het oor die jare bekendheid verwerf vanweë die kunstenaars en SAUK-mense wat hier woon en werk en so baie mense wat hier kom eet. Melville staan ook dan bekend as ‘Klein Hollywood’.” Sedert 1994 het lidmate verminder en weens demografiese verskuiwings het die gemeentes in die Ringe van Johannesburg en Johannesburg-Wes ’n skerp afname begin toon.
Daarom was ds Hannes in 1998 verplig om op 62-jarige leeftyd vervroegde emeritaat te aanvaar en het as tentmaker en pastorale hulp in die gemeente aangebly, met net 280 lidmate en 65 kinders. In 2001 is ’n samewerkingsooreenkoms met Johannesburg /Aucklandpark aangegaan en op 29 Februarie 2004 het hy finaal uit die bediening getree.
Hierdie geliefde dienskneg van die Koning het nog steeds waar hy kon gepreek en mense met die evangelie aangeraak. Hy sterf op 20 Februarie 2019 en daar word met diepe dankbaarheid verwys na sy lang bediening in die kosmopolitiese Melville waar hy tydig en ontydig die Blye Boodskap verkondig het.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.