Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

GIDEON BOSHOFF

11 April 1931 – 30 April 2018


Ds Gideon Stephanus Boshoff is op 11 April 1931 gebore te De Rust naby Oudtshoorn in die Klein-Karoo, waar hy as boerseun opgroei. Hy behou dwarsdeur sy lewe ’n groot liefde vir boerdery en die plaaslewe. Sy vader is Johannes Jacobus Albertus Boshoff wat naby De Rust boer en sy moeder is Catherina Maria Stander. Gideon begin sy skoolopleiding in 1939 aan die Laerskool Nelsrivier naby De Rust en is van 1945 tot 1946 leerling aan die Hoërskool De Rust. In 1947 word hy leerling aan die Hoër Handelskool Langenhoven in Oudtshoorn, waar hy in 1948 matrikuleer en uitblink in rugby.

Gideon begin in 1949 ’n loopbaan in die sakewêreld en blink uit in harde en toegewyde werk tot hy in 1955 die roeping om predikant te word nie meer kan ignoreer nie. Hy begin studeer en behaal in 1962 die BA-graad wat hom in 1959 toegang verleen tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Hy dien op die bestuur van Polumnia, speel vir Maties rugby, ontvang erekleure van die Universiteit Stellenbosch en ontvang die gesogte Abé Baileybeurs. Na vier jaar in die profeteskool op die walle van die Eersterivier, word die 31-jarige GS Boshoff op 6 Desember 1962 as proponent gelegitimeer.

Op 19 Januarie 1963 word prop Gideon Boshoff met handoplegging in die NG Gemeente Sondagsrivier te Kirkwood ontvang en bevestig. In dié tyd trou hy op 3 April 1965 met mej Johanna Louise Coetzee. Na drie jaar in die Sondagsriviervallei word hy op 28 Augustus 1966 leraar van die NG Gemeente Darling aan die Weskus. Hierna loop sy pad na Meiringpark in Klerksdorp waar hy op 3 Oktober 1971 ontvang en bevestig word. Hierna word hy beroep as kapelaan van die SA Weermag in Wynberg, waar hy op 31 Januarie 1975 diens aanvaar. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Clanwilliam langs die Olifantsrivier, waar hy op 2 Desember 1979 die herderstaf opneem.

Na vyf jaar aanvaar hy ’n beroep na die NG Gemeente Swartland te Malmesbury, waar hy op 15 April 1984 bevestig word en werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Julie 1995. Na sy aftrede gaan woon ds Gideon Boshoff op Ceres waar hy boer en baie vir die gemeenskap beteken. Hierdie geliefde predikant sterf op 30 April 2018. Hy laat sy vrou Louise en vyf kinders agter: Gertru, Carina, Johannes, Louise en Santjie.

Ds Gideon Boshoff was ’n besondere dinamiese prediker wat die Woord op ’n sterk en helder wyse verkondig het. Sy boodskappe was baie goed voorbereid en ek het hom nooit op sy notas sien afkyk nie. Hy het selfs die aanhalings, gedigte en liedere wat hy in sy preke gebruik het, uit sy kop geleer.

Ds Johan O’Kennedy, ’n dekade lank sy medeleraar op Malmesbury, skryf: “Ds Gideon Boshoff was ’n mens-mens, bereid om sy ervaring en kennis op ’n vriendelike wyse met my te deel. Ek het graag met hom sake en uitdagings in die gemeente bespreek. Dan het hy altyd tyd gemaak om rustig met my te gesels. As hy ’n storie aan ’n groep mense vertel het, het dit gevoel hy praat net met jou. In die gemeente was hy ’n pastor by uitnemendheid. Hy het veral baie tyd spandeer aan almal wat in een of ander nood verkeer.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top