Droogte: Hoe baklei jy teen die natuur, God?

Om oor droogte te skryf is nie so maklik nie want droogte het soveel verskillende kante dat jy nie weet waar om te begin nie. Jy sou kon skryf oor die finansiële of die emosionele impak wat droogte het, hoe swaar die die­re kry en letterlik doodgaan van te min kos. Of jy sou kon skryf oor die dringende sekerheid dat daar ge­noeg kos moet wees, oor voedselseker­heid. Jy sou ook kon skryf oor hoe ’n gelowige moet glo, dink en praat oor droogte.

So waar begin ’n mens?

Om in die oggend uit te stap en alles is besig om dood te gaan as gevolg van die warm son, hoë temperature, min water en geen reën nie moet jou stelselmatig afbreek. Droogte takel jou sentimeter vir sentimeter af dat daar niks oorbly behalwe die warm son en wind nie.

Eers ’n paar algemene opmerkings

Droogtes gebeur omdat ons in ’n land bly wat droog is. Ons het die Karoo wat gewoond is aan bitter min reën maar ons het ook Natal wat in sekere seisoene bogemiddelde reënval kry. Moet ek dit in ag neem wanneer ek dink en praat oor die impak van die droogte?

Geoloë en weerkundiges sal vir jou bogenoemde bevestig. Ons is in ’n streek in Afrika wat nie bekend is vir baie reën nie. Klimatoloë sal jou vertel dat aardverwarming ’n groter probleem is as wat ons dink. Ander weer stry en sê die natuur het maar siklusse.

Vir ons as gelowiges bring die gesprek oor droogte ook geloofsvrae na vore.

Jy hoor van toegewyde kinders van die Here wat met erns en toewyding bid vir reën. Maar die reën bly weg jaar in en jaar uit. In dieselfde asem hoor jy weer van gelowiges wat gebid het en toe reën dit. Seën God dan net sekeres? Hoe baklei jy teen die natuur … teen God?

Jy hoor ook van hulle wat vertel watter geestelike ervaring dit is om hulp (kos vir mens en dier) bymekaar te maak. Dit is ’n geestelike ervaring en ’n emosionele goedvoel wat oor jou spoel wanneer jy jou hulp stuur na hulle wat swaarkry. Hier is dalk ook ’n les vir die kerk. Mense hou daarvan om te kan sien waar dit wat hulle gegee het heen gaan. Hulle wil die verskil sien. Met droogtehulp sien jy hoe die bale gras in die skaapkraal afgelaai word; hoe die diere onmiddellik naderkom om te vreet. Jy kan sien jou bydrae maak ’n verskil.

Wat sê ons dan?

Sou ons dan kan bid vir reën? Natuurlik ja! Sou ons biddae kan hou vir reën? Natuurlik. Is dit dan nie die Bybel en ons geloof wat ons leer dat ons juis met ons lewe na God toe kan gaan en dit voor sy voete kan sit nie? Ons bid tog in die Onse Vader-gebed vir ons daaglikse brood. Ons moet bid sonder ophou.

Moet ons help? Hoe kan ons help? Gelowiges wat dalk nie direk deur die droogte geraak word nie maar meer indirek mag en kan nie wegkyk wanneer ons broers en susters swaarkry nie. Ons moet mekaar help.

Dalk is jou hulp daarin geleë om net vir jou kinders te leer dat ons dankbaar moet wees vir mense wat kos produseer.

Julle is dalk ’n gemeente wat wil uitreike reël en geld bymekaar maak om voer aan te koop of geestelike ondersteuning aan te bied. Moet asseblief nie ophou nie. Ons medebroers en -susters wat nou al vir jare onder hier­die droogtedruk leef kry swaar en het ons hulp nodig.

Bybel-Media het ’n inisiatief geloods waarmee hulle deur middel van skarebefondsing (onsgeeom.co.za) geld bymekaar maak om te help met die geestelike versorging. Ondersteun dit asseblief.

Ek weet nie hoe lank die droogte nog met ons gaan wees nie. In sommige plek­ke in die land het goeie reën geval, op ander plekke is dit nog bitter droog. Al wat ek weet is ons mag nie en kan nie wegkyk asof dit nie ons almal raak nie.

  • Dr Willem Pretorius is lid van Agri Gauteng en is vir die laaste vyf jaar betrokke by droogtehulp.