Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Willem Nicol van Rietvalleirand, Pretoria skryf:
Op 24 Januarie het daar ’n artikel van Dana Snyman op die agterblad van die Kerkbode verskyn waarin hy vertel dat hy nie meer kan bid soos ons dit tradisioneel gedoen het nie. Hy roep nog soms na God, maar kort en nie gereeld nie. Baie van ons kan ons mos in ’n mindere of meerdere mate met hom vereenselwig.
Vir sulkes kan ’n ou Christelike manier van gebed ’n wonderlike byvoeging by hulle manier van bid wees. Die gebed van stilte, centering prayer, in Afrikaans “gebed van die hart” genoem.
Versoeke is die primêre vorm van gebed (dink maar aan die Ons Vader), maar nie die enigste nie. As jy alles vir God gesê het wat jy wou, kan jy vir nog ’n tyd net “wees” by Hom, in die wye ruimtes van sy genade anderkant woorde en gedagtes.
Lees gerus meer hieroor in Thomas Keating se Open mind, open heart, of Basil Pennington se Centering prayer, of Oop vir die oomblik wat by Bybel-Media verskyn het en bestel kan word.
