Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek kan nie meer só glo, bid

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

En toe besef ek op ’n dag ek weet nie eintlik meer hoe om te bid nie.

Soms wanneer dit sleg gaan, knyp ek my oë toe, en sê: “Asseblief, Here. Help! Asseblief, asseblief, asseblief.” Daarmee saam maak ek partykeer wilde beloftes van dinge wat ek sal doen as die Here my help: “Ek sal meer Bybel lees, Here. Ek sal weer begin kerk toe gaan, Here. Ek sal nooit weer drink nie, Here. Ek sal …”

Ander kere wens ek ek was weer vier of vyf jaar oud en kan by my bed kniel, met my handjies teenmekaar, en bid: “Ek is ’n kindjie klein, maak my hartjie rein.” Maar ek is nou ’n middeljarige man. Ek het my onskuld al op te veel maniere verloor om ooit weer ten volle rein van hart te kan wees.

Ek verwonder my aan mense wat sê: “Jy moet weer soos ’n kind glo.” Hoe kry iemand dit reg om weer soos ’n kind te glo hiér en nóú, in ’n wêreld waarin die wetenskap al soveel feitlike, empiries bewysbare verklarings het vir dit wat voorheen verborge was?

Ek kry dit lankal nie meer reg om soos ’n kind te glo nie. Ek het al te veel kere saam met Eva van die boom van kennis van goed en kwaad geëet. Ek vra knaend vrae oor dinge – ook oor God, en God se werkinge. Ek het nie meer die geloofsekerheid wat ek jare gelede in die katkisasieklas geglo het ek het nie.

Soms wonder ek of te veel geloof­seker­heid jou nie blind vir ander se menslikheid, selfs wreed, kan maak nie.

Ek kyk na daardie YouTube-video – dit is al deur hoeveel duisend mense ge­kyk – van die lekeprediker wat besig is met een of ander bekeringsaksie in ’n township: Hoe hy op ’n paar rastaman­ne afstap, en pas nadat hy hulle gegroet het, sê: “Weet julle wat? My God sê: Wees nugter en waaksaam. So, rook jul­le dagga, julle is op pad hel toe. Ek het nie vir jou ’n ander woord nie. Okei? Tot siens.” Later wil hy vir hulle bid. Die rasta’s is nie lus daarvoor nie, en ek kan dit verstaan.

Ek wens ook ek kon saam met die prediker opgewonde raak wat onlangs sê: “I am waiting for the day before I die for Parliament to be opened with prayer every morning.” Toe die Nasionale Party aan bewind was, vir meer as veertig jaar, is elke parlementsitting wel met gebed geopen, ook toe wetgewing beredeneer en bekragtig is wat die lewe vir miljoene mense vernederend en ondraaglik help maak het.

Jy wonder ook oor daardie bekende rugbyspeler wat op Loftus Versfeld of Twickenham op die veld draf en voor die afskop afsak op een knie, en bid. Kon hy dit nie vyf of tien minute tevore in die kleedkamer gedoen het nie?

Dit alles laat ’n mens ook oor gebed vrae vra.

Ek onthou die gemeentebidure op ’n Woensdagaand op die platteland wat ek as kind bygewoon het. Hoe elke oom sy eie aanslag gehad het, sy eie openingsalvo. Oom Andries: “Dierbare, almagtige God en Hemelse Vader …” Oom Sarel: “Here, ons kom vanaand in groot nederigheid en dankbaarheid na U toe in aanbidding …” Gebede vol formele versugtinge en ontboesemings.

Min vroue het in die biduur gebid. Tannie Martie sou soms wegval met: “O, Heer, U is die pottebakker en ek die klei. Vorm my en maak my na u wil …” Terwyl ’n mens nou wonder of dit nie eintlik oom At, haar korrelkopman, is wat tannie Martie gevorm en gemaak het om vir hom drie etes per dag te kook en sy kouse te stop nie.

Met groot liefde dink ek aan daardie opregte Woensdagaand-gebede, en be­sef met ’n onuitspreeklike gevoel van verlies ekself kan nie so bid nie – nie meer nie.

Dit is of ’n mens op soek is na ’n nuwe geloofstaal, en ook ’n nuwe verstaan van wat gebed is, of behoort te wees. Sonder om myself te verhewe bo dié wat dit anders as ek doen.

Deesdae kan jy selfs ’n gebedsapp op jou slimfoon laai waarmee jy jou gebeds­lewe kan organiseer. Jy stel glo jou eie gebedsagenda op, dan lei die app jou as ’t ware deur jou daaglikse gebede. Jy kan kies of jy in stilte wil bid, of sagte musiek in die agtergrond wil hê.

Dalk sal ek nog die app op my selfoon laai. Of dalk nie.

Maar telkens keer ek weer terug na Matteus 6 – van vers 9 tot vers 13: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word …” Maar voor ek daar kom, vertoef ek eers ’n rukkie by vers 7: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie …”

Ek weet nie regtig meer wie die heidene op aarde is nie, o Heer. Maar bewaar my van die gebruik van ydele woorde. Soms wil ek sommer net met U gesels, soos ek pas gedoen het.

Ek glo U verstaan. U ken my hart.

Amen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top