Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mense regoor die land maak hulle harte oop vir Vanwyksvlei-gemeente. Hier is 'n skenking van APK Reitz-gemeente in Brits. Foto verskaf

Dís hoekom Vanwyksvlei nou bekend is

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

As iemand my in die verlede gevra het waar bly ek, en ek antwoord: “Vanwyksvlei”, wou almal weet: “Waar is dit?” Na dese is dit nie meer die geval nie. As gevolg van die lang droogte, is Vanwyksvlei en ons omliggende dorpies oral oor die land bekend. Daar het selfs ’n predikant uit Swaziland my gekontak om te sê hulle bid vir ons. Hy stuur gereeld bemoedigende skrywes aan om ons almal te bemoedig.

Ja, die Bullrun wat nou al vir drie jaar aangebied word speel ’n rol, maar grotendeels die droogte. Maar die hoofrede is dat die Here die boere se nood as gevolg van die droogte raakgesien het. Ons het reën nodig en die Here weet dit, maar Hy sorg ook op ander maniere en het mense oor die hele die land se harte aangeraak om te help.

Ek glo baie mense besef nou al ’n bietjie meer wat die uitdagings is wat ’n boer in die gesig moet staar met so ’n lang, uitgerekte en knellende droogte. Hoewel daar goeie reën geval het die afgelope maand, is dit nog geensins genoeg om hierdie knellende droogte te breek nie. Sommige boere het nog geen reën gehad nie. Baie boere hoop vir ’n goeie opvolg en ander dat hul eerste goeie reëns binnekort sal val. Verder is die veld so beskadig as gevolg van oorbeweiding dat, volgens die kenners, dit baie jare van goeie reën sal neem om te herstel.

Ten spyte van alles het ons stories van hoop om te vertel. Die Here dra ons nog die hele tyd. Hy het ons nog nooit gelos nie.

’n Oudpredikant van Vanwyksvlei, ds Johan Smit, wat Vanwyksvlei se boere se ernstige nood ken, het ’n noodfonds gestig. Hy het ’n bewusmakingsveldtog begin by verskillende gemeentes in Gauteng en Noord-Wes-provinsies. Dit was wonderlik hoe mense hulle harte oopgemaak en gegee het. Vanwyksvlei het finansiële hulp, kospakkies en bederfpakkies gekry van heinde en verre. Ons kry dit steeds. Die bewusmaking het dus by Johan begin, maar dit het uitgebrei oor die hele land. Almal het ingespring en gehelp en gegee vir ons en al die omliggende dorpe. Ons kinders het hope geskenke, skryfbehoeftes en benodighede ontvang. Baie mense wat kon het selfs na ons gery met bakkies en waens vol voorraad. Op dié manier kon hul dan ook die droogte met hul eie oë sien en die boere se swaarkry beleef. Ds Johan se vrou Leonette het ’n boek geskryf oor Vanwyksvlei, Stories uit die Bo-Karoo. Die opbrengs daarvan word geskenk vir die noodfonds.

Noord-Kaap Sinode het ook ’n bewusmakingveldtog vir die droogte begin. Die voorsitter van die ad-hoc-taakspan gemeenskapsversorging, ds Kobus van Tonder, het op RSG vertel hoe swaar die boere kry. Mense se harte is opnuut geraak en ek het oproepe gekry van mense wat gesinne in Vanwyksvlei persoonlik wil kontak en hoor waarvoor hul kan bid en hoe hul kan help met uitdagings. Een persoon het my gekontak en sommer net oor die foon vir my en my gesin begin bid. Raslouw-gemeente in Centurion Pretoria het Vanwyksvlei-gemeente onder hulle vlerk geneem en bied gereeld hulp aan. Al hierdie dinge wat gebeur gee ons boere hoop en wys ons daar is mense wat omgee en dat ons kan saamstaan.

Vanwyksvlei is nou bekend en in baie se harte. Ek bid dat elke persoon wat in hierdie klein dorpie en omgewing bly, sal besef hoe die Here nog die hele tyd voorsien het. Die wolke begin nog net saampak, dan wil almal wat bid vir Vanwyksvlei al weet: “Het julle reën gehad?” Ons boere kry swaar, ons kry dalk nie hulp by die regering nie en ons weet nie wat wag op die pad vorentoe nie, maar ons weet ons Hemelse Vader sorg vir sy kinders en ons sê dankie vir soveel nuwe vriende wat saam met ons bid.

  • Dia Bruwer is lidmaat van die NG gemeente Vanwyksvlei in die Noord-Kaap.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top