Droogte: Só kan jy ook gééstelik bemoedig

Te midde van al die ruim skenkings deur vele Suid-Afrikaners, wil Bybel-Media in Februarie en Maart 2020 ook dié bystaan wat in gééstelike nood in droogtegeteisterde gebiede mag verkeer.

Ons projek behels om 1700 kopieë van die boek ʼn Bietjie reën – Om met wysheid voor God te leef te gaan aflewer by 17 Noord-Kaapse dorpe, waaronder Williston, Kenhardt, Vanwyksvlei, Calvinia, Britstown en Brandvlei.

Ons Gee Om
Die begroting vir die projek is R289 000. Indien jy ons wil ondersteun, kan jy ’n donasie – groot of klein – via hierdie platform maak. Kliek HIER om ’n donasie te maak.

Vir meer agtergrond oor Bybel-Media se visie met hierdie geldinsamelingsplatform, lees gerus hierdie onderhoud met Leon Venter, uitvoerende hoof van Bybel-Media.


’n Bietjie reën
Die boek is geskryf deur predikante wat bekommerd is oor die geestelike impak van die droogte op ons boere en die hele landbougemeenskap. Dis samesteller is dr. Willem Pretorius van NG Kameeldrif en die skrywers is di. Thinus Benadé, Hannes Bezuidenhout, Gustav Claassen, Fanie Cronjé, Christo de Klerk, Jan de Man, Liesel Krause-Wiid, Marco la Grange, Danie Mouton, Koos Nel, Norma Rossouw, Roelf Opperman, Fritz Snyman, Drian Viljoen, Johann Voges.

Kliek HIER vir ’n resensie van die boek.

  • Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media. 

3 thoughts on “Droogte: Só kan jy ook gééstelik bemoedig

  1. Cobus says:

    Ek het op Williston grootgeword. Daar, en op al die dorpies rondom, praat ‘n mens oor reen in pinte of half-duime, want om van die natuur afhanklik te leef is in almal se bloed, al vir generasies. En wanneer dit nie reen nie praat jy van beproewing, want om van die natuur afhanklik te leef is om van die Here afhanklik te leef. So glo my, die mense van die Karoo is sterk en hul vat geestelike bemoediging baie ernstig. Maar wees ook gewaarsku, as jy die Karoo in jou bloed het, en swaarkry ken, kan jy ‘n kansvatter ver sien aankom. So dink weer oor of julle regtig wil boeke smous vir eie gewin deur die krisis van ander uit te buit. Die droogte is nie ‘n speletjie of hooftrek nie, dis mense se lewe. As jul wil geestelik bemoedig, doen dit gerus, maar doen dit gratis. As jy wil geld skenk, doen dit gerus, maar gee die geld vir die boere en nie vir skrywers en uitgewers wat wil skep solank dit pap reen nie. Die hoop beskaam nie, maar ek kry skaam vir die wat gedink het dis ‘n goeie idee om geld te vra vir die markprys van 1700 boeke. Of jy gee dit of jy hou dit, maar geestelike bemoediging kos niemand geld nie. Skaam jou.

  2. Kerkbode says:

    Dankie vir jou skrywe, Cobus

    Net om die projek weer saam te vat en moontlike verwarring te vermy: Bybel-Media (BM) wil graag ’n nuwe, aktuele boek met ’n boodskap waarin hulle glo in die hande van mense kry wat direk deur die droogte geraak word.
    Ná gesprekke met leraars op die betrokke dorpe, is ’n beraming van aanvraag gedoen en BM se afleweraarsvoertuie sal teen die einde van dié maand die pad vat of ons nou twee donasies kry of twee honderd. Dis een van die risiko’s van skarebefondsing.
    “Die markwaarde van die boekebesending is R289 000 en ons sal voortgaan met die skenking ongeag hoeveel geld via http://www.onsgeeom.co.za ingesamel word,” sê Leon Venter, uitvoerende hoof van BM. Hy het by verdere navraag hieroor bygevoeg: “Ons is ’n donateurgebaseerde organisasie. Hierdie boek en projek is reeds moontlik gemaak deur donateurfondse. Ons voer dus die projek uit, maar opvolgende projekte is alleen moontlik deur volgehoue donasies van donateurs.”
    • Kerkbode ondersteun die projek en help waar en hoe ons kan deur lesers daarvan te vertel dat hulle self kan besluit of hulle dit wil ondersteun of nie. – Red. (Kerkbode is ’n BM-publikasie).

  3. Cobus says:

    Dit is uitstekend. Om uit te deel is ‘n mooi en goeie ding om te doen. Maar wanneer jy gee in die hoop om vergoed te word, is dit moeilik om te versoen met die gesindheid van barmhartigheid. Om donasies te vra is een ding, maar om te vra vir die presiese vol koste plus wins is om gladnie te gee nie. Dit is om mooi dade aan die groot klok te hang, met rand en sent uitgestip. Om ‘n krisis vir hierdie doel te gebruik, maak nie sin nie, behalwe as jy dit as ‘n reklamegeleentheid sien.

Comments are closed.