6 April 1937 – 21 Desember 2019
Ds Johannes (Boetie) Nieuwoudt sterf op 21 Desember 2019 in Bloemfontein. Hy is op 6 April 1937 gebore naby Nuwerus in Namakwaland. Boetie matrikuleer aan die Hoërskool Nuwerus en verwerf die BA (Admissie) op Stellenbosch. Hy studeer aan die Teologiese Seminarium, waar hy einde 1962 as proponent gelegitimeer word.
Prop Boetie Nieuwoudt word op 23 Februarie 1963 bevestig in die NG gemeente Klawer en trou met mej Marie Viljoen. Op 25 Februarie 1967 word ds Boetie en Marie Nieuwoudt leraarspaar van die NG gemeente Vosburg in die Groot-Karoo. Na drie jaar word hy op 31 Julie 1970 leraar van die NG gemeente Swartland in Malmesbury. Ds Boetie word op 13 Oktober 1973 leraar van die NG gemeente Petrusville, wat die dorpie Vanderkloof naby die destydse PK le Roux-dam insluit.
Op 13 Oktober 1974 word hy leraar van die NG gemeente De Aar, waar hy met oorgawe werk tot op 30 April 1998 met die aanvaarding van sy emeritaat.
Na sy aftrede gaan boer hy deeltyds op sy plaas Aalwynsfontein by Kliprand in Namakwaland. Hulle verhuis later na Bloemfontein, waar hy die geleentheid kry om in verskeie gemeentes te preek. Op 1 September 2007 trek hulle na Lofdalwonings te Westerbloem in Bloemfontein. In 2014 word ds Boetie Niewoudt gediagnoseer met kanker, wat sy gesondheid knou en hy sterf op 21 Desember 2019 in Bloemfontein.
Ds Boetie Nieuwoudt se begrafnisdiens word gehou in die NG gemeente Berg-en-Dal te Bloemfontein. Hy word op 28 Desember 2019 begrawe in die familiekerkhof op sy plaas Aalwynsfontein naby Kliprand in Namakwaland. Sy dogter Suzette skryf: “Hy was ’n nederige en eerlike dienskneg van God. Sy huis- en siekebesoek was altyd ’n prioriteit, wat sy opregte en liefdevolle belangstelling en meelewing met alle mense beklemtoon het”.
▶ Dr Van der Merwe is alombekend vir sy deernisvolle huldeblyke aan NG dominees. Lees nog huldeblyke op www.kerkbode.co.za, kliek op die In Memoriam-skakel.
